KREATIWITEIT IS ‘n LOTSBESLUIT

15 Januarie 2015
© dr. François P. Verster

François se foto - Afrifiksie & ThompsonBoekeAs ’n mens oor skryf dink, ek bedoel regtig DINK, dan dink jy tog nie net aan die praktiese aspekte nie, maar ook oor wat dit beteken – vir jou as skrywer, hoekom jy dit doen en hoe jy inpas in die “tradisie.” Selfs al het jy eers net geskryf omdat jy wou sien of jy kan, of dalk om een of ander punt te maak, of om te kyk of jy ’n ekstra inkomste kan genereer, behoort jy algaande te besef dat die aktiwiteit gedagtes in jou losmaak en dat jy sulke gedagtes kan oordra aan lesers.

Terwyl ek in my rekenaar rondsoek na ’n artikel wat ek vir ’n tydskrif geskryf het, kom ek af op verskeie ou stukke – sommige is al gepubliseer, ander sal daar bly tot die rekenaar instort of gesteel word (twee van myne is al gesteel, so dis nie so onmoontlik nie!). Nietemin, terwyl ek hier en daar gedeeltes daarvan lees, besef ek dat ek al lank sulke stukke skryf, waarskynlik omdat dit gedagtes losmaak wat ek kan gebruik. Soos hulle sê: die beste oefening vir skrywers is om te skryf.

Miskien is hierdie stuk, onder, van nut vir ander, so ek red dit uit die dieptes van my rekenaarbrein. Die datum waarop die stuk op Word geskep is was 2009…

“Ek pak nou reg en gooi weg omdat ek eersdaags van kantoor moet verander – en kom toe op ’n bladsy af wat ek uit ’n tydskrif geskeur het. Watter tydskrif weet ek nie, maar die datum onderaan is November 2001. Die titel van die artikel is “Skepper en kappers” deur Johann Symington. Weet nie wie hy is nie – seker ’n pastorale sielkundige of iets. Sy inslag is plek-plek religieus, wat my gewoonlik effe afsit, want ek wil nie lang preke lees nie (my eie is erg genoeg, al is dit nie so bedoel nie), maar nietemin, hy skryf nogal interessant en logies.

Die onderwerp is: DINK; oor die proses, oor die prag maar nie die praal, en BENUT die pêrels wat wyse mense aanbied – anders is ons mos gelyk aan varke, nie waar nie? En nie net wyse mense (lees: literatore, akademici, ivoortoringloseerders) nie, maar meng selfs met die semels – met omsigtigheid natuurlik. Solank ons iets leer. Solank ons iets, miskien diep binne, in ’n donker hoekie, voel roer. Maak nie saak in watter taal dit roer nie, maar laat dit net róér!

So: Symington… Hy skryf dat min mense hulself as kreatief beskou; dis normaalweg gereserveer vir die sogenaamde genieë soos Mozart, Van Rijn en Milton. Tog dra elke mens ’n estetiese kwaliteit – Symington sê dis omdat ons na God se beeld geskape is en Paulus praat van ons as beelde van God. Om hierdie verbintenis te hê met God, die “ultimate” kreatiewe Entiteit, beteken dus vir Symington dat ons iets van God se skeppingstalente moet besit. Nogal ’n kragtige argument!

Hy sê dat ons maar net ons eienskappe moet uitbuit soos ’n model haar mooi eienskappe uitbuit deur dit te beklemtoon met grimering ens. Vir my beteken dit dat mens jou liggie moet laat skyn, al is daar maatemmers (dikwels jyself) wat dit probeer uitdoof. My pa het altyd baie kritiek gehad op mense wat nie sy hoë standaarde kan bereik nie (so was dit net die Bokke/Proteas wat swak gespeel het, níé die teenstanders wat goed kon wees nie) en ek dink ons word besonder sterk deur ons ouers beïnvloed – positief of negatief – en my pa het my laat glo dat net die beste sportmanne, kunstenaars, akademici, ens. die reg het om hulle aktiwiteite te bedryf.

Hy het dit sekerlik as aansporing vir sy kinders bedoel, maar ek glo vandag nie meer dat net die toppresteerders mag deelneem nie – en daarom kan ek ook. Maar ek sukkel nog om te fokus op een ding en volstoom daarin op te gaan. Dit het wel die voordeel dat daar kruisbestuiwing is, nie net van wat ek self doen en deur ondervinding leer nie, maar ook dat ek wyd lees en die verbande kan insien. Ek glo dis nodig vir ’n kunstenaar. Ook sukkelaars soos ek. (Jy moet self besluit watter een jy is!)

En nee, blote selfbejammering is dit nie regtig nie – ek weet ook dat skeppende mense gedurig deur fases van selfkritiek en vertwyfeling gaan, so ek kan dit aanvaar. Nes die ou wat verpletter was omdat die professor sy eerste manuskrip afgeskiet het en daarna hoor dat “alle skrywers se eerste boek ongepubliseerd bly.” Dis ’n wrede veralgemening, maar het meriete. Dit hang toe van die leerling af om te besluit of die professor hom as ’n skrywer beskou het! Sien; die onus, die onus, die ewige onus. Hy lê by jóú Bokkie!

Selfondersoek is dus nodig en natuurlik, siende dat ons mense is, sal daar foute en skete wees waarvan ons nie hou nie. It comes with the territory. Die kunstenaar – dit kan ek en jy ook wees – móét krities wees om kommentaar te kan lewer na buite en om te verbeter na binne. Niemand het gesê dit gaan maklik wees nie. Karel Schoeman het glo gesê alle skrywers moet eers ly (seker in kloosters en so aan) en daarom, het hy gesê, is Audrey Blignault per definisie (weens haar gejubel en dies meer) nie ’n skrywer nie, maar sy het tog gely – suster, broer, man is dood… Schoeman was dus verkeerd dat sy nie gely het nie, maar reg dat – aangesien sy wel as skrywer gereken word – sy eers moes ly! Dis seker logies dat mens nie kommentaar op die lewe kan lewer as jy net die een kant ken nie.

Symington sê mens moet met selfvertroue lewe en die geheim daarvan is om vrede te maak met wie jy is – (en dan jou kenmerkende eienskappe uit te buit). Dis baie positief gestel en beslis die moeite werd om te oordink. Miskien is dit effe naïef, en teenstrydig met wat NP Van Wyk Louw eens gesê het – om selfkritiek toe te pas en oop te wees vir ander se kritiek (soos ’n ware filosoof glo moet maak) is dus nie wat Symington sê nie; hy reken elke mens is heel bekwaam en moet bloot toepas wat hy/sy het, so goed as moontlik. Laat die liggies dan skyn…

Iewers in die middel is die eerste prys – mens moet seker nie te veel knetter oor jou gebreke nie en beslis moet hard werk (skryf, skryf, skryf), maar nie sonder kritiek nie. Prof Jaap Steyn is hier ’n voorbeeld: hy kontak glo dikwels sy uitgewers en vra sy manuskrip terug voordat hulle dit eens gelees het, “want dis gemors (ens.) en hy wil dit nou liewer opskeur.” Gelukkig weet die uitgewers hy is nie so sleg soos hy (dan) dink nie en weier! Maar as Steyn altyd dink hy is slangdinges se skaduwee, sal hy nie skryf nie, en nog minder die manuskripte aanstuur, so dis ’n tipiese op-en-af beweging wat hy uitvoer, soos baie ander kunssinniges ook maak.

Breyten Breytenbach sê (volgens Symington) “selfs die dowe mag drome droom/ soos die malle sy briewe mag fluister/ en die blinde na die wind mag kyk.” Symington gaan verder en verklaar: “Erken jou kunstenaarstalent. Weier om net gewoon en alledaags te wees. Sweedse soberheid het sy plek, boheemse uitbundigheid ook.” Antoine de Saint-Exupéry het blykbaar een ding gevrees: dat ons ons kreatiwiteit kan verloor en in soutpilare verander – wat ’n vreeslike Lot!

Nouja, daar frommel ek ou Symington se stuk op en gooi dit met ’n sierlike boog in die drom. Mag sy idees egter voortleef. En vrug dra. So sappig soos uit die paradys self, maar mag dit net goeie kennis wees wat uitgedra word. Mag dit geniet word, mag die sade nog boompies voortbring, skaduwee en nie skade bied – vir 2009 en hierna.

Dink. Neem op jou pen. En hou aan dink. Maar skryf sommer terwyl jy dit doen!”

Dis dan wat ek in 2009 gedink en geskryf het. Niks het intussen verander nie, behalwe dat ek heelwat meer gepubliseer het – artikels, rubrieke, resensies, kortverhale, essays, en les bes, twee romans. Die gedinkery oor skryf moes dus tog gehelp het. Hopelik help dit ander mense ook.

So. as jy jou ingebore kreatiwteit met vrug wil aanwend, is daar baie maniere om dit te doen, reg? Reg. Nou, hoekom nie via Wetenskapfiksie of Fantasie nie? Ek het; jy kan mos ook!

  • Lusinda Vermaak

    Dit is so waar. ‘n Mens moet ‘n balans handhaaf. Dankie vir die mooi stuk