’n BOEKOMSLAG IS MEER AS ’n STOFJAS

18 April 2014
© dr. François P. Verster

François se foto - Afrifiksie & ThompsonBoekeVanjaar was ek oudergewoonte by die Woordfees op Stellenbosch, vanjaar die 15de en steeds die beste van die feeste wat ongeveer al die kunsvorme aanbied, maar met die hooffokus op boeke.

Van die ses items wat ek bygewoon het was daar een wat werklik uitgestaan het: Wat die oog eerste sien, ’n gesprek oor boekomslae, wat op 10 Maart in die NB Boeketent deur die manuskripontwikkelaar Madri Victor (info@madrivictor.co.za) gefasiliteer is. By haar was drie persone wat hulle insig op die gebied met die gretige gehoor wou deel: 1) Mike Cruywagen, ’n omslag-ontwerper en 2) Stefan Meyer, die bestuurder van Exclusive op Stellenbosch asook 3)Theo Kemp, oud-uitgewer by NB, feesfasiliteerder by die KKNK, museum kurator (Breytenbach Sentrum, Wellington) en skrywer (Skool, 2011).

Eerstens, Mike, want hy is immers ’n omslagontwerper. Hy sê hy deel alles in drie dele, wat nooit ewe veel mag wees nie, nl. titel, skrywersnaam en visuele elemente – die genre speel ’n rol, soos gedigte het meer abstrakte visuele effekte, en misdaadboeke is meer donker, sê hy. Subtiel is beter as “in your face.”

Kleur speel ’n rol en kontras is belangrik. Rooi is gewild, saam met grys by Afrikaanse boeke, of rooibruin. Mike sê die skrywers kry soms kans om ’n voorstel te maak, maar dan gaan hulle ander spul aan, hy maak so vyf weergawes en die bemarkingspan kies een. Jy maak slegs die lettertipe v/d skrywersnaam groter as die boektitel as die skrywer beroemd is, ander ervaar die leser dit as pretensieus.

Die winkelbestuurder Stefan sê dat hulle graag nuwe skrywers in die mark wil help, want boekwinkels kan ook nie aanhou om dieselfde skrywers se werke uit te stal nie. Daarom word nuwe boeke nader aan die ingang uitgepak. Sommige boeke meer prominent vertoon, maar dié met die opmerklikste buiteblaaie sal tog meer aandag geniet.

Theo het meer oor sy eie boek gepraat as voorbeeld – die omslae wat níé gekies is nie is gewys, ens. Almal het saamgestem die uitgewers is die hekwagters vir goeie kwaliteit – wagters wat al meer agter die hek ingeskuif word sedert die sosiale media, veral seker Facebook, elke Jan en San se selfbehepte strooi oor die kuberruim verstrooi.

Eenkant, op ’n groot skerm het etlike voorbeelde van konsep-boekomslae op ’n groot skerm verskyn sodat die gehoor die soms baie subtiele verskille kan waarneem. Hoekom is omslae dan so belangrik, wou Madri weet. Mike antwoord “Want wat jou oog sien, wil jy koop” en Theo reken dat “omslae belangriker word, omdat daar al hoe meer titels opdaag.” Veral vir debuutskrywers, moet die omslag se waaroor die boek gaan, terwyl lesers meestal weet wat om van gevestigde skrywers te verwag.

Soms, soos in die geval van Deon Meyer, word opeenvolgende boeke met soortgelyke omslagontwerpe uitgegee om ’n gevoel van eenheid of kontinuïteit te skep – mens vermoed dit wakker die lesers se versamelaars instinkte verder aan. Reekse het ook dikwels soortgelyke omslagontwerpe, sodat die leser die assosiasie maklik kan maak.

So, nuwe skrywers moet nog hulle oeuvres skep en kort ’n hupstootjie, maar gesoute skrywers moet momentum behou Om suksesvol te wees, beteken om aan te hou om te presteer en die wedywering neem nie af nie.

Maar wat behels die proses van boekomslagontwerp? Mike se uitgewers stuur beskrywings van die inhoud – soos wat op die flapteks verskyn. Die ontwerper besluit hoe groot die titel- en outeursname moet wees, eers op ’n swart-en-wit agtergrond, hoewel tipografie nie die belangrikste is nie. Dog, dit moet werk – moet sterk en duidelik oorkom. Die laaste derde van die ontwerp is die visuele elemente: prente of enige ander grafika – ook abstrak (en evokatief), soos meestal by poësie bundels verkies word. Soms koop hy foto’s en Photoshop hulle dan na smaak en behoefte.

Dan ontwerp hy drie tot sewe weergawes waaruit die uitgewers kan kies. Ná die eerste voorlegging, waaraan gewoonlik ’n halfdosyn bemarking- en verkoopsmense deelneem, keer hy terug na die tekenbord. “Mode” speel ook ’n rol. So is rooi, bruin en grys tans plaaslik gewild. Terselfdertyd is “kommersiële” (“genre”) skrywers se voorblaaie minder subtiel as dié van “literêre” skrywers. Ook word sekere kleure soos geel min gebruik. Die Swerfjare van Poppie Nongena (Elsa Joubert, 1978) was ’n uitsondering op dié reël. Speurverhale, wat huidig baie gewild is in Suid-Afrika, se omslae is gewoonlik donkerder as die gemiddelde.

Mike reken dat die ontwerper moet poog om grens te verskuif – die gebruik van onkonvensionele ontwerp vir spesifieke genres kan egter bydra tot die werwing van lesers wat nie gewoonlik dié tipe boek lees nie.

En, vra Madri, het die skrywer enige insae in die omslagontwerp? Theo sê hy het van ’n ander variant van sy boek Skool se omslag gehou – ’n leë stoel, terwyl ’n prent van ’n skooldas wat soos ’n galgtou lyk, uiteindelik gekies is. maar hy besef dat die galg konseptueel werk, want daar moet ‘n parallelle tussen boekomslag en inhoud wees: die omslag dra die boek se boodskap eerste oor.

Dit, in kort, is die doel van die omslag, benewens om versiering te kan wees. Oorlede Hennie Aucamp was gesteld daarop dat sy boeke mooi omslae moet hê en hy dikwels voorstelle na die uitgewers gestuur, selfs nog voor die manuskrip self by hulle aangekom het – aldus die uitgewer Martjie Bosman. Sy het al gesê sy vermoed dat die omslae as inspirasie gedien het vir Aucamp se werk.

Indien wel, het die skrywer dan die omslag gekies om ’n boodskap te versprei, of het hy ’n teks geskryf om ’n visuele beeld te verduidelik? Aucamp is helaas oorlede en ons sal seker nooit weet nie, maar dis nie ongewoon dat skrywers teks in hulle skilderye inkorporeer om die soos ’n strokiesteks te laat saampraat nie, of om byvoorbeeld ’n gedig ook ’n skildery et skryf, wat saam uitgestal word nie. hoe dit ook al sy, volgens Bosman was dit ononderhandelbaar vir Aucamp: “sy boeke moes mooi wees.”

Mike sê dat skrywers soms reg aan die begin van die ontwerp proses insette lewer. Hy wat gesoute ontwerper is kan gou sien of sulke voorstelle sal werk – meestal nie, want skrywers het immers nie die ondervinding nie of is nie op hoogte van tendense in die bedryf nie. En in die skemerdonker van die groot Boeketent knik ek instemmend – min mense is so visueel geletterd as wat hulle glo hulle is. Mens kan nie sommer net ’n prent gebruik omdat jy daarvan hou nie. Soos Theo sê; dit moet iets te make hê met die boek se inhoud. Wat leke ook nie besef nie, is dat die titel (letters) byvoorbeeld nie ten sekere agtergronde werk nie, of bloot onsigbaar raak daarteen.

Diegene wat self publiseer en wel ’n aanleg vir ontwerp mag hê, kan duisende keuses van die Internet “aftrek.” Skrywers kan ook met ’n vryskut-ontwerper saamwerk om ’n ontwerp saam te stel en dan aan die uitgewer voor te lê. Sommige omslae lyk natuurlik ook beter op die Internet as wat dit dalk op ’n boekrak sal vertoon, so ontwerpers moet deesdae ook hierop bedag wees. As ’n boek dus ook as e-boek beskikbaar is, mag die e-boek omslag anders lyk as die papieruitgawe.

In Rapport Weekliks (30 Maart 2014) lees ek dat die produksie-ontweper (van films) Johnny Breedt verby ’n boekwinkel gestap het en die roman Abel se ontwaking was naby die deur uitgestal. Hy sê die omslag en titel het sy oog gevang en hy het dadelik die boek gekoop. Hy het NB-Uitgewers genader om Chris Karsten se kontakbesonderhede in Kanada te bekom en die filmregte vir die boek gekoop. Dit is ’n sprekende voorbeeld van hoe sterk die impak van ’n goeie omslag kan wees. In die geval van kinderboeke speel die menings van ouers ook ’n rol. Mike sê hy het al klagtes ontvang oor bv. die verskyning van ’n draak op die voorblad.

Tot sover, die verslag oor die Woordfees, gedeeltelik soos ek dit vir die Kaapse Bibliotekaris saamgestel het. As ek na omslagontwerpe van boeke op my rak kyk, is daar sommiges waarvan ek hou en ander wat (na my mening) darem meer treffend kon wees… en ek dink aan die gesegde onder uitgewers dat geen skrywer tevrede is met die omslag van sy/haar boek nie – darem ’n oordrywende veralgemening as ek uit my bietjie ondervinding hiervan kan praat.

Daarom neem ek ’n paar boeke in oënskou: Die Nuwe Kinderverseboek (2009), Toulopers (2011), Grensoorlogstories (2012), Skarlakenkoors (2013) en Deur na Nebula Nege (2014).

Nuwe Kinderverseboek - Voorblad - François VersterDie Nuwe Kinderverseboek is bedoel vir kinders van 2 – 10 en die illustrasies is gekies vir die ouderdomsafdelings soos binne-in opgedeel. Na my mening verskil kinders soveel dat mens net kan raai, maar die professionele sienings van persone wat al jare in die veld werk behoort redelik in die kol te wees. Nietemin, ons is net geïnteresseerd in die omslag en die pragtige boek-drakie is ’n oogtrekker en ’n hartesteler, terwyl die grootoogkinders ’n mate van verwondering voorstel wat lesers mag beïndruk: dus ’n doeltreffende en aantreklike voorbladontwerp.

Toulopers - Voorblad - François VersterToulopers daarenteen bevat gedigte bedoel vir tieners, so die ontwerp behoort meer volwasse te wees en die kleure eintlik effens meer gedemp – jonger kinders hou meer van helder kleure, of so sê hulle. Hulle sê ook primitiewe mense hou meer van helder kleure – mm, dan wissel my buie ook maar dikwels tussen primitief en beskaafd, so ek dink nie daardie redenasie hou water nie, nie wat boekontwerpe aangaan nie. Ek veronderstel hierdie omslag werk ook, hoewel dit my nie regtig aangryp nie. Maar dan is ek ook nie ’n tiener van die 2000’s nie. En die boek het al ’n herdruk beleef.

Gransoorlogstories - Voorblad - François VersterGrensoorlogstories – nie juis die oorspronklikste titel nie, maar dit sê presies waaroor die boek handel, en so ook die omslag: die dogtags sê oorlog en die boshoed en medalje (Pro Patria) is tipies van die spesifieke oorlog. Geen treffende kleurspel nie, net reg op die man af en klaar – die verwagte gemiddelde leser behoort daarmee aanklank te vind, nl. veterane van daardie oorlog (1966-1989). Of so voel ek, wat self deel daaraan gehad het – die boek (ek het een kortverhaal daar in) én die oorlog (was Dienspligtige van 1986-1987).

Skarlaken Koors - Voorblad - François VersterSkarlakenkoors, wat op die bundel Bloots (2012) volg en dus ’n soortgelyke omslag het, is treffend – ook op die leser se vingerpunte, want die buiteblad het prominente patrone op wat soos kantonderklere voel, terwyl Bloots se omslag soos ’n visnetkous lyk en voel. Die relevansie is vanselfsprekend, want dié twee bundels bevat erotiese verhale.

 

 

2013 - Deur na Nebula Nege - François VersterWat Deur na Nebula Nege betref: hier het ek die vryheid gehad om my eie omslagontwerp te doen. Ek het… en ek het ook nie. Die versoeking was groot om ’n skildery of ’n lyntekening te maak, want ek kan, en hoeveel skrywers kry die geleentheid om dit te doen?

Uiteindelik het tyd die finale sê gehad, want die spertye van ander boeke en artikels het geroep en ons wou die boek op die rak kry. Ook het my vriend Charles Stofberg ’n paar prente wat op die Internet was aangestuur en ek het die x-straalfoto van ’n pylstertvis gesien, wat my sterk aan ’n Grylik (een van die karakters in die boek) herinner het. Verder wou ek die oneindige wydheid van die heelal uitbeeld – daarom dan die agtergrond. Of die ontwerp, wat Charles se pragtige dogter Anne-Mieke Stofberg vir my op haar rekenaar saamgestel het – presies soos ek gevra het – vir almal sal werk, weet ek nie, want ek is eenvoudig te subjektief betrokke.

En dis die groot probleem – die skrywer weet wat hy/sy wil oorbring, maar die professionele kundigheid om dit doeltreffend te doen ontbreek steeds. Persoonlike smaak, wat swakker mag wees as mens vermoed, speel ook ’n rol. Dog, ek dink in hierdie geval bring dit die tema oor en ek dink dit trek aandag, so dis sekerlik genoeg. Volgens die kenners is die boekomslag eintlik die openingsreël van die boek. Of, sommige beweer die titel is eintlik die eerste sin, maar… naby genoeg.

Om saam te vat: die genre, die modes van die tyd, persoonlike smaak en verbeeldingskrag, tegniese vaardigheid en talle ander aspekte van voorbladontwerp werk saam om ’n effektiewe statement te maak. Die skrywer moet dankbaar wees as hy/sy die beste moontlike aanslag op die kopersmark kan maak. As jy dink jy bederf nie jou eie kanse nie, wel, laat waai Maraai!

PS: Bogenoemde stuk handel oor boeke in die algemeen, so WF & S skrywers word uitgenooi om uit eie ondervinding voorbeelde en/of kommentaar by te dra.

  • J.V. Van Wyk

    Fantastiese raad!

  • Salmon Smith

    Baie dankie vir die inligting dr Verster