Afrikaanse F boeke

ATLAN: PRINS VAN ATLANTIS – Jan Combrink

TAFELBERG-uitgewers, 1980

Toe die sestienjarige Albert Marais hoor dat hy die vakansie by sy argeoloog-pa in Egipte kan deurbring, kan hy sy geluk skaars glo.  Dink net watter foto’s kan hy neem terwyl wêreldberoemde argeoloë die Sfinks die eerste keer heeltemal uit die sand grawe!  Maar sy foto-nemery bring hom byna in groot moeilikheid toe hy die eeueoue graf suil van Tothmes met sy kamera omstamp.  Sy pa is briesend, maar sy woede verander in opwinding toe Albert hom die vlak opening agter in die grafsuil wys.  Aan die agterkant van die vierkantige klip wat daarin pas, is ‘n goue plaatjie met die woorde, in hiërogliewe daarin uitgekrap: DIE SEËL VAN ATLAN, PRINS VAN ATLANTIS.  Daarna gebeur dinge vinnig; Albert weet nie mooi of hy kom of gaan nie.  Prof. Marais en sy vriend, die beroemde Egiptoloog dr. Abu Sharif, ontdek onder die goue plaatjie ‘n plat goue dosie met ‘n fyn deurskynende glasplaatjie daarin.  Dit blyk ‘n laserskyfie of holograaf te wees wat die bouplan van die Sfinks wys – met ‘n deur voor die kolos se bors waarvan niemand geweet het nie.  Ná etlike ure se swoeg in die warm woestynson, slaag die Egiptiese weermag se deskundiges daarin om die deur oop te breek.  Terwyl dr. Sharif en prof. Marais in die maag van die Sfinks rondkruip, verken Albert op sy eie.  Groot is sy verbasing toe hy op ‘n goue troon in ‘n sykamertjie afkom.  Moeg sak hy daarop neer.  ‘n Sagte suising en ‘n klikgeluid volg.  Só begin die vreemdste avontuur denkbaar…

ATLANTIS – Helena Hugo

Perskor uitgewers, 1979

Dis nog stikdonker nag toe Ilse ‘n gekrap aan haar tentdeur hoor.  Wat sal Frans besiel om my die tyd van die nag te kom wakker maak?  Dink sy vies.  “Wie is daar?” vra sy hardop.  Maar daar is geen antwoord nie.  “Seker die wind,” mompel sy.  “Ek moet slaap.  Môre sal ‘n lang dag wees.”  Sy het skaars omgedraai, toe word daar met mening aan die seile geruk.  Sy dink en besluit vinnig en toe die tentdeur oopvlieg, lig sy met haar flitslig daarop.  ‘n Swart figuur duik onder die lig deur en kom hande-viervoet langs haar te lande.  Ilse trek haar asem skerp in.  Dis ‘n man met ‘n duikpak aan!  En hy sukkel om orent te kom.  Ilse trek albei haar bene op tot haar knieë onder haar ken is.  Sy gaan hom darem nou skop dat hy met tentjie en al in die see beland!  Toe kyk sy skielik in sy gesig vas.  Die man met die dikste lippe wat sy nog aan ‘n mens gesien het.  Daar is net nie ‘n neus nie en die oë is so groot soos pierings.  “’n Vis.  Hy lyk soos ‘n vis!” dink sy en op daardie oomblik vergeet sy alles van haar karate en gil so hard as wat sy kan.  Wie is hierdie geheimsinnige nagtelike besoeker wat vir Ilse so laat skrik het?  Wat is die ding wat sy op die strand opgetel het wat soos ‘n rekenaartjie met ‘n luidspreker lyk?  Wie het in die wrak van die Katriena ‘n moderne kontrolekamer ingebou?  Hierdie en nog ander baie opwindender vrae word beantwoord deur die buitegewone avontuur van die maats Johan, Frans, Flip en Ilse wat hulle in “Atlantis” ondervind.

FLORIS SAPIENS – Chris Karsten

Tafelberg uitgewers, 1985

Die aarde is woes en leeg.

Wel, miskien nou nie heeltemal woes nie, moet hy erken, want daar is mense en diere en plante.  En ook nie heeltemal leeg nie, want daar is moerasse en vulkane en grotte.
Maar vir hom wat Floris Sapiens is, vóél dit vanoggend woes en leeg.  En hoe meer hy besef dat hy nie ‘n jagter is nie en dus nie werklik by die Familie tuis hoort nie, hoe groter raak sy verlange om dié woeste, leë wêreld te verken.  Dalk is daar iewers tóg ander mense, mense wat nié jagters is nie; mense soos hy, wat anders is…  En toe besluit hy om weg te gaan, die onbekende in, met net sy boesemvriend Saldanna saam met hom.  Terwyl dié twee oermense baie derduisende jare gelede oor die groot continent van Afrika geswerf het, het die komeet Proxi C teen ‘n verbysterende snelheid deur die onmeetlike ruimte pylreguit op die aarde afgestuur.  En uiteindelik loop sý storie en Floris s’n ineen …  Floris Sapiens is ‘n verhaal oor oermense, maar dit is tog tydloos: die mens, sy hy oermens of modern, bly steeds nietig teen die geweld van die ongetemde natuur.  En van oertyd tot hede soek mens immers by mens skuiling.

IN DIE KLEIN WOUD – De Waal Venter

Queillerie uitgewers, 1995

Kyk net reg, en jy sien ons wêreld is betowerd, onbegryplik, wonderlik.  En ons tyd, dié gaan terug na ‘n ander óú tyd.  Spies en Jeannie verdwaal as’t ware tussen die piepklein boompies in oom Arend se bonsaiwoud – want dis ook ‘n woud van die verbeelding.  Dáár leer hulle hoe die mens en die natuur, alles, met mekaar één is.  En hoe jy jouself die beste leer ken deur jou spieëlbeeld in ánder mense en in die natuur om jou.  In die klein woud is die boek waarna De Waal Venter as jongeling altyd self gesoek het: een wat die taal van ‘n ontluikende jongmens trefseker verwoord.  En een wat verstaan hoe moeilik dit is om te wys dat iemand werklik vir jou saak maak.

‘N REIS NA DIE OERTYD – J.C. Froelich

Vertaal uit Frans deur E.P. Du Plessis en uitgegee in 1963 deur Human & Rousseau uitgewers.

Fantastiese avontuur wag op die sewentienjarige Jean-Claude wanneer hy saam met twee ouer vriende op reis gaan.  Want dit is ‘n fantastiese reis – ‘n reis na die aarde van twaalfduisend jaar gelede!  Vir die slim prof. Liévin is dit kinderspeletjies: met sy tydkapsule kan hy sy menslike proefkonyne na enige tydstip in die aarde se verlede terugplaas.  In hierdie verhaal gaan kyk die drie avonturiers hoe die mens gelewe het toe hy nog klipwerktuie gebruik het.  Saam met die oermense belewe hulle life en leed, en volop avonture wanneer daar op gevaarlike diere gejag word of hulle deur vyandige stamme aangeval word.