Afrikaanse WF boeke

2010: SENDING NA JUPITER – Arthur C. Clarke

Vertaal uit Engels deur Jan Rabie en uitgegee in 1982 deur Tafelberg uitgewers.

Dit is die jaar 2010.  Deur die onmeetlikheid van die ruimte snel ‘n klein skippie voort.  Dit is die Leonof, met sewe Russe en drie Amerikaners aan boord.  Hul bestemming is die planeet Jupiter, waar die vorige sending van die Amerikaners in ‘n katastofe geëndig het.  Hul opdrag is om te kyk wat hulle kan wys word uit die rekenaar van Ontdekker, die ruimteskip wat vir daardie sending gebruik is en wat nog steeds verlate deur die ruimte woer-woer.  Maar veel belangriker nog: hulle moet probeer vasstel wat die vreemde verskynsel is wat naby Ontdekker in die ruimte hang en wat op die een of ander geheimsinnige wyse iets met die rampspoedige einde van daardie vorige sending te doen gehad het…

2010: sending na Jupiter hervat die verhaal wat begin is in die boek en trefferfilm 2001: A Space Odyssey en verskaf antwoorde op baie van die vrae wat daar onopgeklaar gebly het.  Dit is die dramatiese verhaal van ‘n epiese tog die ruimte in, kundig gebaseer op vandag se tegnologiese wondere en op die jongste wetenskaplike kennis omtrent die verre wêrelde waarheen ruimtereisigers dit waag.  Dit is absoluut geloofbaar, en daarby so helder geskryf dat enige leek dit kan volg.  Hierdie boek is gewaarborg om een van die groot klassieke van wetenskapfiksie te word.

[Afrifiksie: Volwasse WF - 9.5/10. Beslis die moeitewerd om te lees en 'n mens moet Jan Rabie komplimenteer vir die wonderlike vertaalwerk wat hy gedoen het. Dit is net jammer dat mens nie die ander drie boeke in die reeks (2001: A Space Odyssey; 2061: Odyssey Three; 3001: The Final Odyssey) ook in Afrikaans kan lees nie. Wie weet sal iemand nog hulle almal vir ons vertaal en wat 'n aanwins sal dit nie wees nie.]

AGON EN DIE DONKER PLANEET – John Coetzee

Tafelberg uitgewers, 1993

Agon is die eerste op KRI wat die geheimsinnige silwer vaartuig gewaar wat uit die noorde aangesweef kom.  Dis onbeman – en dit lyk asof dit uit die buitenste ruim kom.  In die vaartuig vind Agon-hulle ‘n goue plaat met eienaardige simbole daarop geëts.  Kommandeur Lu Kago en sy ruimtespan dekodeer dit tot fassinerende beeld- en klankopnames van ‘n vreemde planeet.  Hulle sien oseane, kontinente, berge, stede, welige plantegroei en groen landerye, ‘n pragtige sonsondergang oor die see – en wesens wat heeltemal ánders as die KRIane lyk.  ‘n Ekspedisie met die Zarkon 10, KRI se ultra-gesofistikeerde ruimteskip, word na die vreemde planeet uitgestuur.  Argon gaan saam.  Sy opdrag: om eetbare plante te kry om KRI se kwynende voedselbronne aan te vul.  Maar wanneer die Zarkon 10 uiteindelik op die vreemde planeet land, vind Agon ‘n wêreld wat hy hom in sy wildste drome nie sou kon voorstel nie…

[Afrifiksie: Tiener WF - 7/10. Hier gee Johan Coetzee ons 'n intersante blik op wat sal gebeur as vreemdelinge elders in die heelal wel een van die twee Voyager-sondes, wat in 1977 deur NASA gelanseer is, vind en die inligting wat saamgestuur is ontsyfer en na die Aarde reis, en die vraag: Wat sal hulle hier kom vind? Pragtig geskryf met suiwer Afrikaans.]

ARWANTIË 2953 – Eben van Renen

THOMPSON UITGEWERS, 2011

Dit is die jaar 2953 AD…  Die mensdom is verspreid oor meer as ‘n duisend planete in die bekende ruim. Een nasie moes lank wag en ver soek om hulle eie tuiste te vind.  Die Arwantyne probeer ‘n bestaan maak op ‘n planeet in die misterieuse onbekende ruimte.  Kobus Steyn, rekruut in die Arwantynse ruimtekorps, se drome word verpletter wanneer die Tar hulle verskyning maak.  Wanneer ‘n intelligente organism, wat byna oor die hele planeet strek, hom aantas, ontaard Kobus se netjiese, gedetailleerde lewensplan in chaos.  Kobus, en sy volksgenote, is gyselaars in hulle eie, verwronge wêreld, en uitgelewer aan die wreedheid en oormag van hul vyande.  Kobus self steier onder die druk van sy verlies en sy eie sin vir verantwoordelikheid.  Een ding is egter helder en duidelik vir die hele nasie: as Arwantyne het hulle gekom om te bly!  …of het hulle?

[Afrifiksie: Volwasse WF - 9/10. Van die eerste bladsy af, was dit vir my uiters moeilik om hierdie boek neer te sit tot ek klaar was met die laaste bladsy. Eben van Renen slaag daarin om 'n mens na 'n ander wereld te neem met oortuigende en sterk karakters wat so realisties is dat jy elkeen van hulle in vandag se samelewing kan herken. Met ARWANTIË 2953 is die Afrikaanse WF heelwat ryker.]

AS ONS DIE MAAN MIS RY – Amelia Kellerman

Human & Rousseau uitgewers, 1993

“Man, ek skiet jou nog Amerika toe in jou eie vuurpyl!” dreig tant Flaterja die wetenskaplike wat haar by haar bakfabriek help, sonder dat sy enigsins glo in hierdie uitvindsel van oom Eksil. En haar man is oortuig dat die vuurpyl nie eers oor die Magaliesberg sal kom nie.  Maar daar wag ‘n groot verrassing vir hulle en vir Bethuel en Paul, wat skottelgoed was in die bakery om sakgeld te verdien.  Tydens ‘n onbeplande reis in oom Eksil se vuurpyl ontdek Paul en Bethuel ‘n paar dinge wat hulle met nuwe oë laat kyk na die wetenskap en die beskerming van die aarde.

[Afrifiksie: Jongspan - 3/10. Hierdie boek is beslis vir die jongspan wat pas begin Afrikaans lees. Geen ernstige WF nie en dit neem ook geen sterk sosiale standpunte in nie. Die boek eindig waar Betheul sy boetie Pula vind, wat dalk kan dui op hoe belangrik familie is.] 

ATLANTIS – Wille Martin

Klub Saffier, 1982

Die manne van Atlantis, kaptein Staal, Alex Brutus, Kosmo en Flynn, is in ‘n penarie.  Hulle het van die Aarde af ontsnap, en ‘n viertal van die beeldskone Aardse vlieëniervroue met hulle saamgeneem.  Te laat moes hulle uitvind dat daar ‘n komplot teen hulle was, maar intussen het hulle Atlantis, die manne se tuisplaneet in sig gekry en toe het ding begin skeefloop.  Om ‘n reis van soveel ligjare te kon aflê, moes die ruimteskip, Narcissus, in ‘n ander dimensie spring.  Dit het beteken dat hulle, weens ‘n fout in die meganisme van hiperdimensie, nie alleen in die ruimte gereis het nie…  maar ook in die tyd!  Die Atlantis waar hulle wil land, lyk nie soos die een wat Staal-hulle verlaat het nie – en dit blyk dat hulle moontlik miljoene jare terug in die tyd beweeg het.  Terwyl hulle op die planeet vertoef, word Kristin deur vreemde mans, met die gelaatstrekke van katte, ontvoer.  Daar ontstaan ‘n skrikaanjaende jaagtog deur tyd en ruimte, waarin Alex Brutus tot die besef kom van hoe diep sy liefde vir hierdie beeldskone, blonde jong meisie is.  Die vraag is net: Gaan hy ooit betyds wees om sy liefde aan haar te verklaar?  Gaan hy haar ooit opspoor in die doolhowe van tyd en ruimte – en hoeveel daarvan is fisiese ruimte, of bestaan dit alleen maar in die verbeelding?

BEHEERKAMER ONBEMAN – Robert A. Heinlein

Vertaal uit Engels deur Paul Roux en uitgegee in 1972 deur Tafelberg uitgewers.

Tallose geslagte lank is die ontsaglike ruimtetuig reeds deur die hemelruim onderweg – op ‘n reis wat slegs twéé geslagte moes geduur het.  Selfs die groot opstand waarin al die wetenskaplikes aan boord omgekom het, het in die verre verlede plaasgevind.  En met hulle het alle kennis van die buitewêreld gesterf.  Vir die Bemanning van die Tuig is die beskrywing van die aarde en sterre in boeke soos die Encyclopedia Terrestriana suiwer mites, want hulle woon in die onderste lae van die Tuig, waar die plase is.  En die uitkykkamer en stellarium is in die boonste lae, die gebied van hul aartsvyande – die gevaarlike, gedrogtelike muties, mense wat vanweë straling misvormd gebore is.  Die Tuig is dus alles – die hele heelal.  Buite die Tuig is daar niks, kán daar nie iets wees nie.  Tot die tweekoppige mutie-leier, Joe-Jim, die nuuskierige Hugh Hoyland vang en hom na die stellarium neem…  Sy eerste blik op sterre is vir die jeugdige Hugh ‘n ontsettende, ondraaglike ervaring wat hom intens skok en alles wat hy geleer het, omverwerp.  Hy besef dat die aarde – daardie ongelooflike plek waar die mens glo op die buitekant pleks van aan die binnekant geleef het – werklik kon bestaan het! Maar Hugh se ontdekking gooi ook die lewe in die Tuig omver, want dit is die begin van ‘n reeks botsings wat bewys dat die menslike natuur nié verander nie, selfs al het hy sedert eeue geen kontak met die aarde meer nie.

BESTEMMING XENOS – Helena Hugo

Human & Rousseau uitgewers, 1981

Annelida van Atlantis was die ongelukkigste meisie op aarde – tot sy Doran van die planeet Xenos ontmoet.  Om saam met hom en sy robot, Alexander-7 die ruimte in te vaar, sou wonderlik wees.  Maar die ruimte is onbekend, onmeetlik groot en vol verrassings – alte dikwels onaangenaam en angswekkend.  Gou bevind hulle hulle midde in ‘n oorlog teen die ruimterowers.  Sy, Doran en die robotte word gevange geneem.  Hulle beland op die planeet van die Bondels – miermense wat geen genade ken nie – in ‘n ondergrondse stad omring deur ‘n dorre woestyn.  Sal hulle ooit en dit sonder ‘n ruimteskip by Xenos uitkom?

BRUG NA EDEN – Charles F. Stofberg

LAPA uitgewers, 2000

Terwyl daar ‘n kolonie op Mars gevestig word, ontbrand ‘n kernoorlog op Aarde wat byna alle lewe uitwis.  In enkele lande is daar groupies mense wat wydverspreid weer van voor af ‘n sukkelbestaan moet voer.  Alles verval.  Die natuur neem oor, wilde diere swerf deur die ruïnes van eens florerende stede en dorpe.  Mense maak jag op diere en op mekaar.  Amerika word ingeneem deur die AVO-magte uit Asië.  Hulle het net een doel voor oë en dit is die besetting en oorheersing van die ganse VSA.  Hulle is meedoënloos in hulle aanslag.  Amerikaners word tot slawerny gedwing.  Tommy en Karla ontmoet mekaar in die vervalle dorp Galena en word gedwing om voor die naderende Asiërmagte te vlug en hulle uiteindelik by ‘n versetbeweging teen die invallers te skaar.  Intussen is daar intrigue en spanning op Mars waar wetenskaplikes en die jong Andrew Wilson naarstiglik na etlike eeue probeer om kontak met Aarde te maak.  Uiteindelik sale en stokou ruimtetuig die terugtog Aarde toe kan aandurf…  die brug na Eden.

DAG VAN DIE STERREWIND – Douglas Hill

Vertaal uit ENGELS deur JAN SCHAAFSMA en uitgegee in 1988 deur HUMAN & ROUSSEAU UITGEWERS

Dit is die derde boek in die opwindendereeks oor die avonture van Keill Randor, die laaste Legioensoldaat. In die eerste twee boeke, Krygsheer van die Melkweg en Slagvleuel oor Veynaa, het Keill en Glr, sy Vreemdeling-metgesel, reeds kennis gemaak met die gewetenloosheid en dodelike mag van die Krygsheer se agente, die Slagvleuel.  In hierdie verhaal neem Keill en Glr se soektog na die vyand hulle na ‘n onbewoonde planeet waar vreemde aktiwiteite waargeneem is.  In die dramatiese klimaks moet Keill nie alleen kragte meet met die groteske leier van die Slagvleuel nie, maar ook met die aanslag van die mees verwoestende windstorm in die hele Melkweg.

DIE AARDE IS NABY – Ludĕk Pešek

Vertaal uit Duits deur Anna Minnaar-Vos en uitgegee in 1975 deur H.A.U.M.

Ná die geslaagde maanlanding het die verkenning van die “kus, agter die horison” die avontuur van ons tyd geword.  Wat dekades lank deur Jules Verne en andere as ‘n wonderwêreld aan die tegnologie voorgestel is, is nou reeds ‘n verbysterende werklikheid.  Die aarde bly naby, ook vir die ruimtereisigers van die Mars-ekspedisie, Alfa.  In dramatiese omstandighede wil hulle – soos die vroeëre ontdekkers in die geskiedenis van die mens – die skynbaar onmoontlike verwesenlik.  Van tyd tot tyd kry die leser die indruk dat kaptein Scott se reis na die Suidpool hom in die stofstorms van die planeet Mars herhaal.  Die ruimtereisigers se verblyf van 444 dae op die Rooi Planeet word die opwindende hoogtepunt van hierdie boek.  Daarby laat die presiese beskrywing van die menslike denke en handeling in die buitengewone omstandighede die leser nie ‘n oomblik los nie.  Hierdie verslag van die Mars-landing in ons tyd hou rekening met alle feite insoverre hulle aan die wetenskap bekend is.  Boonop openbaar Ludĕk Pešek hom as ‘n skitterende verteller.  Hier is ‘n boek wat die volwassene en die juigdige met ewe veel genot sal lees.

DIE BRUIN PLANEET – Kobus Smit

Tafelberg uitgewers

Rocco Venter en Kellie Burger word genooi vir ‘n proefrit in ‘n gevorderde ruimskip.  Hul gasheer, professor De Ia Mare, beplan ‘n nadere ondersoek van die Bruin Planeet — die swerwerplaneet wat hom op die drumpel van die Aarde kom vestig het.  ‘n BIou elektriese straal flits deur die donker en hulle slinger magteloos nader na ‘n sigaarvormige voorwerp wat asof uit die niet verskyn.  In die buik van die projektiel word hulle gevange geneem en na die Bruin Planeet weggevoer.  Professor De Ia Mare oorreed die Ieier van die bewoners van die Bruin Planeet om hom vir onderhandelinge na die Aarde tevergesel.  Maar die twee seuns moet as gyselaars agterbly.  Onder die kors van die barre Bruin Planeet wat feitlik sonder water en lug moet klaarkom, beleef die twee maats avonture wat hul hare orent laat staan.

DIE GEDOENTE OP PLANEET BORIS – John Coetzee

Tafelberg uitgewers, 1996

Iwan Rosjkow verwerk sy ruimtetegnoloog-oom se gegewens om die ruimteskip wat in die skuur in die Kalahari staan weer aan die gang te kry.  Sy maats, Jabulani, Joop, Santie en die verteller, Nols Nieman en die se vyfjarige boetie, Hentie, het genoeg vertroue in hul geniale klasmaat om in te klim op hul reis na die naaste spiraalgalaksie aan ons Melkweg, naamlik Andromeda.  Natuurlik sluip ‘n klein foutjie in en hulle moet noodgedwonge op Planeet Boris ‘n noodlanding doen.  Hierdie ruimteverhaal met ‘n kinkel aan die einde bied lekker boeiende leesgenot vir alle wetenskapfiksie-aanhangers.

DIE GEHEIMSINIIGE VLIEËNDE PIERING – M. Steyn van Rooyen

Tafelberg uitgewers, 1960

“Die vlieënde voorwerp speel met die vier Sabres soos ‘n kat met ‘n muis.  As die straalvegters ‘n sirkel om hom maak, skiet hy skielik die hoogte in of daal hy af tot ver onderkant hulle, en teen die tyd dat die Sabres weer in die posisie is om hom van naby te beskou, draai hy skuins verby, om dan soos ‘n blink ligskyf in die verskiet weg te raak.”  Luit. Freek Stroebel en vier van sy maats van die jageskader van die Lugmag ruik-ruik net so aan die vlieënde piering, maar daar is net nie kans om die ding van naderby te beskou nie.  Kom die Piering van een van die ander planete – van Mars af miskien? – of kom dit agter die ystergordyn uit?  Hierdie raaisel sou die manne miskien nie so besig gehou het nie, was dit nie dat Basie Raats skielik verdwyn, nadat sy vliegtuig neergestort het nie.  Freek Stroebel is leier van die jageskader.  Hy ken die manne agter die ander stuurstange by name: Sakkie Fourie, Charlie Williams… en Basie Raats…  Maar wat het van Basie geword, en lewe hy nog?

DIE GROEN PLANEET – Jan Rabie

Human & Rousseau uitgewers, 1961

Die lede van die Grootraad van die aarde se eerste wêreldregering besluit op ‘n meesterplan om die mens se oorlewingsmoontlikhede te toets as hy op ‘n ander planeet wil aanpas en voortbestaan.  Operasie Feniks is die stigting van die eerste kolonie op die planeet Mars.  Die material verwerk in hierdie boek is nie louter fantasie nie, maar is gebaseer op bestaande wetenskaplike kennis oor Mars en oor die ruimtevaart. Jan Rabie weet waarvan hy praat, al moet hy soms voortbou waar die wetenskap nog slegs kan raai.  Tog is dit meer as genoeg om die vreemdheid van dié buurplaneet aan ons te openbaar, en om die byna bomenslike probleme wat wag op die groupie pioneers in hul ruimtepakke te voorspel.  En ook om ons reeds te laat vermoed dat onaardse avonture wag op diegene wat die rooi stofwoestyne van Mars gaan betree.  Die groen planeet speel hom byna geheel en al af op die rooi planeet, maar is tog ‘n verhaal van ons eie aarde.  Want Homo Sapiens uittrek tussen die sterre, moet hy by voorbaat besef dat hy ‘n prys daarvoor sal moet betaal…

DIE HART VAN ZEEBAK – Martie Preller

Tafelberg uitgewers, 2004

Toe Ferdinand bykom, lê hy op die naat van sy rug.  Hy kyk na die dowwe sterre en die volmaan wat rond en rooi bokant hom hang.  Hy het in die lig ingeloop.  Dis al wat hy kan onthou.  Hy kom stram orent, draai sy kop heen en weer en roer sy skouers.  Skielik ruk sy kop op.  Dit was dan netnou sekelmaan.  Hy soek die Suiderkruis.  G’n teken daarvan nie.  Wat op aarde…? Die volmaan verlig alles met ‘n skemerige dynserigheid.  Hy loop tussen ruie bosse deur – g’n doringbome nie.  Hy snuif die lug.  Ruik vars.  Daar’s ‘n veraf dreuning.  Dit klink soos die see.  Dit klink nes golwe wat op rotse slaan.  Hy was tog in die middle van die Bosveld…?  Hier kan nie see wees nie!  Maar dit klink so, ruik so, voel ook so.  Selfs die lug is klam op sy vel.  Hy raak van sy stewels ontslae en begin te hardloop.  Ferdinand, sê ‘n stukkie rasionaliteit in sy agterkop, you are losing it.  Maar hy ignoreer dit.  Hy is hier. Waar hier ook al is.  Hy is agttien jaar oud.  En hier êrens is die mooiste meisie wat hy nog ooit gesien het.

DIE HEMELBLOM – Jan Rabie

Tafelberg uitgewers, 1971

Die drie jong manne sit verbyster in die kontrolekamer van Kaap 2 – ‘n belangrike ruimte-waarnemingspos aan die Karoo-kant van die Bolandse kusberge.  Die jong sterrekundige Francois Korsten, bevelvoerder van die pos, die platjie van ‘n Bill Murray, ingenieurstudent wat voorgee dat hy ‘n liefdesteleurstelling in die dun berglug kom suiwer en Piet Jordaan, toegewyde plantkundige, kan dit beswaarlik glo.  Op die sigskerm voor hulle het ‘n vreemde ruimtetuig met ‘n duiselende vaart by ‘n kommunikasie-satelliet verbygeskiet.  Oomblikke later vul ‘n intense wit gloed die skerm.  ‘n Paar uur ná hierdie vreemde ontploffing, storm die besadigde Jordaan, wat gedurig op soek is na seldsame plante, die kontrolekamer binne.  “Ongelooflik!” roep hy uit.  “Kyk, kyk, sien julle dit?”  Hy hou ‘n vlesige plant met rooi blare en ‘n groen blom na hulle uit.  “Dis… dis nie ‘n plant van hierdie aarde nie,” stotter hy.  “E… ek kan dit glad nie klassifiseer nie.”  Die hemelblom is op die aarde.  Binne ‘n paar dae sou dit verskrikking bring.  En vir die drie waarnemers op Kaap 2 en die meisie, Marie Toerien – wat in die lig van die nuwe omstandighede vir Bill kom opsoek het – ‘n ontsenuende en gevaarlike avontuur.

DIE JAGTER – Douglas Hill

Vertaal uit Engels deur Jan Schaafsma en uitgegee in 1990 deur Human & Rousseau uitgewers.

Op ‘n warm herfsdag maak Joos Ferrall, sy dorp se jagter, ‘n verstommende ontdekking.  In die wildernis wat die meeste van die land bedek, kom hy af op ‘n seuntjie van skaars twee jaar oud.  Hoe die seuntjie daar gekom het, en hoe hy oorleef het, is ‘n raaisel.  Het Hulle hom dalk daar in die woud laat lê? Wonder Joos.  Dit lyk onwaarskynlik, want Hulle voer altyd mense as slawe weg; Hulle bring nie mense na die woud toe nie.  Tog was die seun daar, en Joos kon nie net wegstap en hom daar los nie.  Dis hoe die seun Joos se pleegseun, Finn word.  Finn Ferrall word uiteindelik ook ‘n meesterjagter, met ‘n byna bomenslike instink vir die natuurlewe.  Toe Hulle na die dorp toe kom en sy peetpa Joos en sy jonger stiefsuster Jena as slawe wegvoer, het hy al daardie vaardighede nodig.  Hoewel niemand dit ooit durf waag he tom die vreemdelinge aan te durf nie, besluit Finn om hulle te agtervolg.  Op sy reis kom hy verskrikkings en gevare teë waarvan hy die bestaan nog nooit vermoed het nie, en langs die pad ontmoet hy ook die vreemdste vriend.  Een van die skrikwekkendste ontdekkings tydens sy soektog na sy gesin is egter oor sy eie oorsprong.  Hierdie avontuurbelaaide wetenskapfiksieverhaal word met uitmuntende vaardigheid vertel deur ‘n meester van sy vak, wyd bekend vir sy reeks oor die avonture van die Laaste Legioensoldaat, en sal lesers tot die laaste bladsy boei.

DIE ONSTERFLIKES – Jeanette Ferreira

Human & Rousseau uitgewers, 1995

Dit begin met ‘n ontvoering na Immorta – stad waar tyd nie bestaan nie.  Baie wat reeds gesterf het, leef in Immorta weer.  Al sou hulle die dood verkies.  Dit is hier waar dr. Emile du Randt gedwing word om die NORME van Immorta te onderskryf: geen huwelik, geen gesin, geen intimiteit, politiek, godsdiens of private besit nie – slegs toewyding aan die Wetenskap.  En in ruil daarvoor: onsterflikheid.  Maar onsterflikheid met ‘n prys.  So kosbaar soos die lewe self.  Emile moet kies: óf die koue Wetenskap óf ontsnapping na vryheid.  En wat sy keuse ook al is, sal hy geskei word van Lawa, die vrou na wie sy bloed roep: beeldskone en sensuele Lawa, wat gedoem is tot intimiteit omdat sy dit gewaag he tom die NORME te bevraagteken.

DIE PLANEET VAN DIE APE – Pierre Boulle

Vertaal uit Frans deur Sonja-Marie Eksteen en uitgegee in 1971 deur Tafelberg uitgewers.

Met Die Brug oor die Rivier Kwai het Pierre Boulle as skrywer groot roem verwerf.  Nadat die filmweergawe vol sale dwarsoor die wêreld getrek het, is die boek in feitlik alle moderne tale vertaal en het dit rekordverkope beleef.  Tafelberg-Uitgewers was in 1962 verantwoordelik vir die Afrikaanse vertaling.   So groot was die aanvraag dat die boek onmiddelik ná verskyning herdruk moes word.   Ewe-eens was dit die geval met Die Planeet van die Ape.  ‘n Oombliklike filmsukses.  En vertalings volg in baie tale.  Nou kry die Afrikaanse leser die geleentheid om hierdie ongewone roman te lees.  Ongewoon omdat dit in die een-en-twintigste eeu en op ‘n ander planeet afspeel.  Waar die film kortpad moes loop deur al die nuanses, die fyner detail, die sorgvuldige werklikheidsbeelding, is die boek pakkender, omvangryker, sekerlik senutergender.  Weens die een of ander gril is die ape daar menslik: hulle bevolk die stede en plase, dra klere, kan praat, bestuur die land; terwyl die mense in die bosse woon, naak rondloop, ongelooflik primitief is.  Vir die drie ruimtereisigers vanaf die verre planeet Aarde is dié toestand ‘n skokkende ervaring.  Wat is die geheim van hierdie vreemde planeet?  Die Planeet van die Ape is so verbluffend realisties, so ontstellend moontlik, dat dit ‘n ironiese, byna sardoniese werklikheid word.  Dit is slegs die baie begaafde skrywer wat met so ‘n burleske en hoogs debatteerbare onderwerp kan slaag.

DIE SKARLAKEN ESKADER – W.A. de Klerk

Nasionale Boekhandel, 1959

In die kom van die uitgebrande vulkaan Marako in Midde-Afrika skuil ‘n dodelike gevaar vir die hele wêreld.  ‘n Verbitterde wetenskaplike – die Leier – het ‘n verwoestende wapen ontwerp en is besig om ‘n groot lugmag op te bou waarmee hy die beskaafde lande gaan aanval.  Die loodse vir sy Skarlaken Eskader versamel hy uit alle dele van die aarde, en hou hulle op ‘n ontsettende wyse onder sy beheer.  Nege man van die Suid-Afrikaanse Lugmag beland in sy greep, maar hulle besluit om tot elke prys sy planne te verydel.  Hulle leer gou dat vriend en vyand nie altyd te onderskei is nie, en dat die Leier en sy trawante nie geringgeskat moet word nie.  Helgard de Wet is die voorvegter in die geharde Lugmagmanne se verset teen die gewetenlose Leier.  Sy stryd teen die Leier speel af in moderne straaljagters, ondergrondse kerkers, geheime laboratoriums en eeue-oue grafkelders.

DIE VYF-MILLIMETER-AVONTUUR – De Waal Venter

Human & Rousseau uitgewers, 1984

Kong en sy vriend, Theo, kan hul nuuskierigheid oor die geheimsinnige navorsing in die laboratorium van dr. Breda, Kong se oom, nie bedwing nie.  Dit geluk hulle om op die regte kode vir die elektroniese kombinasieslot in die deur van dr. Breda se laboratorium af te kom.  Maar wat as ‘n kwajongstreek begin, word dodelike erns wanneer ‘n spioen hulle betrap en die ongelooflike nuwe uitvinding gebruik om die seuns buite aksie te probeer stel.  Hy misgis hom egter met Kong en Theo se dapperheid en vindingrykheid.

DIE WIT PLANEET – Carol Main

Vertaal uit Engels deur David Bishop en uitgegee in 1984 deur Perskor uitgewers.

“Die duiwel haal julle as ek julle ooit naby my werkplaas agter daardie duine sien.  Julle bly daar weg.  Verstaan?”  Min het doktor Hansman geweet dat sy waarskuwing juis vir Gawie en Paul as aansporing sou die nom ondersoek in te stel.  Die twee seuns se nuuskierigheid lei tot ‘n ongelooflike ontdekking: ‘n ruimteskip!  En dit in die middle van die Kalahari.  Het hul nuuskierigheid maar daa opgehou…  Dit was egter vir Gawie nie genoeg om net die onderste kamer van die tuig te verken nie.  Hy móés, ondanks sy vrees, ook vasstel wat in die beheerkamer aangaan.  Die onaardse gerammel, wat eers soos donderweer en toe soos ‘n skuurgeluid van metal op metal klink – én Paul se pleidooi dat hulle moet wegkom – kon Gawie nie beweeg om gouer te maak nie.  Byna met rampspoedige gevolge.  Só begin ‘n avontuur in Die Wit Planeet wat die kinders in hul wildste drome nie kon voorsien nie.

DOOD IN DIE RUIMTE – Jeff Sutton

Olaf Bouwer-Klub, 1966

Die Weste se lot hang aan ‘n draadjie.  Binne sekondes sal ‘n Russiese waterstofbom – vermom soos ‘n satelliet – sy baan deur die stil, donkerpers ruimte begin volg aarde toe om alles voor hom weg te vee.  Chris Nel staar styf deur die venstertjie van sy ongewapende satelliet.  Die minute tik verby.  Hy sien hoe die ruimtedokter wat saam met hom gekom het, probeer om die bom skadeloos te stel, maar hy sukkel om ‘n sekere luik oop te kry.  Dan skielik die blou vlammetjie.  Hulle is te laat.  Die bom het opdrag uit Rusland gekry om aarde toe te val.  Die Russe het aanvanklik drie waterstofbomme gelanseer en die Weste as gyselaars gehou.  Twee van hierdie bomme is skadeloos, maar een is gelaai…  en Chris en sy kollegas het nie geweet watter een die dood in hom saamdra nie.  Een van sy makers het gesterf toe die tweede bom buite aksie gestel is.  En nou lyk dit vir Chris of die ander een ook gaan sterf, want die dokter begin saam met die bom val.  En alleen kan hy nie terug aarde toe nie…  alleen sal hy soos ‘n satelliet om die aarde wentel totdat sy suurstof opraak.  En Laura sal tevergeefs wag.  Of sal sy nog leef nadat die bom gebars het…?  Alles sal afhang of die dokter die helbom se tande kan trek…

FRITZ DEELMAN EN DIE SKEPE VAN MARS – Leon Rousseau

Tafelberg uitgewers, 1957

Duisende kilometer bokant die aarde skiet twee ruimteskepe die onbekende in.  In ‘n staalvertrek in een van die skepe sit drie manne strak en gespanne.  Hulle bestemming is angswekkend: Mars, die geheimsinnige rooi planeet.  En van hulle optrede hang die voortbestaan van all volke van die aarde af.  Want daar is intelligente lewe op Mars, lewende wesens wat reeds honderde jare die aardmanne dophou, en wat algehele uitwissing van die aardbol beplan.  Hierdie titaniese stryd tussen kosmiese liggame sou wêreldoorloë na burgeroorloë laat lyk…

GALAPAGOS – Helena Hugo

Perskor uitgewers, 1980

Flip, Ilse en Annelida van Atlantis-faam beleef nog ‘n hoendervleisavontuur.  Hulle kuier op hul oom se Karooplaas en gou ontdek hulle dat die rustigheid en stilte van die veld net oëverbllndery is.  Jakkalsfontein word maande al deur ‘n plaag vreemde skilpaaie geteister.  Die werkmense het almal dorp toe gevlug en dit gaan hotagter, want dit is droogte en die plaaswerk staan nie stil nie.  Om die kroon te span, het hulle ook nog sonde met hul eienaardige ou buurman, oom Botes.  Hy kla, maar gewoonlik begin die moeilikheid by hom.  En dan kom kruip Alexander, die nuuskierige en ‘n mens kan maar sê, die voor op die wa klein robotjie ook in almal se harte.  Wanneer Annelida boonop haar hart verloor op die besoeker van die vreemde planeet, raak sake vir die jongklomp byna te veel.  Dit word dringend noodsaaklik om een van die skilpaaie te vang.  So gebeur dit toe dat die jong klomp dit een donker nag op die buurgrond waag — met rampspoedige gevolge.

GEVANGE OP DIE METAALPLANEET – Eben de Jager

Universiteitsuitgewers, 1969

Vir die driemanskap Len, Hendrik en Nico begin die skoolvakansie soos alle ander.  Hulle droom reeds van salige niksdoen en so ’n ietsie hengel, toe Nico plotseling agterkom dat alles nie pluis is naby hul kampeerplek nie.  Die ander twee is eers bra skepties, maar kom spoedig tot ander insigte wanneer hulle tot hul groot verbasing op ’n geheimsinnige ruimteskip afkom!  Hiervandaan gaan dit doller as kop-af en beland die driemanskap ná ’n duiselingwekkende tog deur die ruimte op die misterieuse Metaalplaneet waar hulle ’n offer moet bring wat deur die inwoners aldaar as ’n “eer” bestempel word, maar Len, Hendrik en Nico gewisse dood beteken…!

IN DIE TYD VAN ESOB – Martie Preller

Tafelberg uitgewers, 1996

DIE ROOISON GOOI ‘n vreemde gloed oor die amfiteater en ons twee mane sit vaal bokant die groot bruin pilare van Deog weerskante van die ingang.  Die amfiteater is gepak met mense, uitgenooide gaste alleenlik.  Die vorige jare se wenners sit in die voorste sitplekke.  Hulle het hulle rooi mantels bo-oor hulle gewone grys tuniekpakke aan.  Dit is die groot dag, die dag waarop die bestes van hierdie jaar se leergroep aangewys sal word.  Die tromme begin dreun.  ‘n Sagte rolgeluid wat groei en uitswel totdat die slae oorverdowend die lug vol maak en dan weer kwyn en stil word.  Zufar se donker stem dreun oor die klankversterker.  Dan volg die hees stem van Zandra.  Hulle sê die openingswoorde, soos hulle dit elke jaar doen.  Die enkel, skel noot van die trompet roep ons op die verhoog.  Die amfiteater is vol oë.  Hulle wag.  Elke jaar is dit so.  Elke jaar weet almal reeds wie aangewys gaan word, en elke jaar wag hulle om dit amptelik uit die monde van Zufar en Zandra te hoor.  Ons neem ons plekke in.  Die trompette skeur die lug met die lied van ons land.  Dis ‘n lied sonder woorde.  Zandra en Zufar kondig om die beurt ons name aan: Nina, Daniël, Matilda en Leonard.  Die tromme rol weer en dan is alles verby.  Oormôre begin die finale toets.  Die een wat dit slaag, sal die rooi mantel ontvang.  Daardie een sal die wenner wees.  Ek sal sorg dat dit ek is…

JASPER EN DIE RUIMTEMANNE – C.F. Beyers-Boshoff

Nasionale boekdrukkery, 1960

By die verskyning van hierdie vyfde uitgawe in die Jasper-reeks, het Jasper en sy drie maats geen bekendstelling meer nodig nie.  Hulle is lank reeds nie meer slegs bekendes nie – nee, hulle is ou en getroue vriende.  Saam met die lede van die Viermanskap is daar al baie ondervindinge deurgemaak – sommige soet, ander met so ‘n ietwat suurderige smakie. Deur sulke geringe terugslae laat die vier vriende hulle egter nie afskrik nie – dit is immers wat die ou lewe interessant maak.  Bowendien, geen sitvlak brand vir ewig nie, selfs nie na drie van die beste met meneer Basson se rottang nie!  Hierdie keer is die vriende egter in ‘n groot verknorsing.  Solank Jasper die stewige aarde onder sy voete voel, kan hy altyd ‘n plan maak, maar daar bo in die ruimte kan ‘n man mos g’n vastrapplek kry nie. Selfs die slimkop Ferdinand voel hier totaal verlore.

KRYGERS VAN DIE WOESTENY – Douglas Hill

Vertaal uit Engels deur Jan Schaafsma en uitgegee in 1990 deur Human & Rousseau uitgewers.

In Die Jagter het ons kennis gemaak met Finn Ferall, die jong man met die merkwaardige wildernisvaardighede.  Toe sy pa en suster deur die Slawehalers, vreemde wesens van ‘n ander planeet, ontvoer word, begin hy ‘n soektoeg om weer met hulle verenig te word, en slaag hy daarin om sy pa van hul greep te bevry.  In hierdie boek word sy avonture voortgesit.  Hy en sy vriend, ‘n Bloedgebroed met die naam Beir, bevind hulle in die hande van die fanatiese Mense van die Kloof, en daarna in die onherbergsame Woesteny.  Hier kry hulle boonop te doen met ‘n uiters gevaarlike teenstander in diens van die Slawehalers, met die naam Die Klou.  Gelukkig hoef hulle nie alle gevare alleen te trotseer nie, want daar is ander mense wat in die Woesteny hul tuiste gemaak het – trotse krygers wat nie skroom om die Slawehalers aan te val as hulle dit waag om die Woesteny te probeer oorsteek nie.   Krygers van die Woesteny is ‘n wetenskapfiksieverhaal vol spanning en aksie.  Lesers wat bekend is met die eerste boek in die reeks sal dié een ook verslind, en vir dié wat nog nie met Finn Ferral kennis gemaak het nie, wag daar ‘n aangename verrassing.

KRYGSHEER VAN DIE MELKWEG – Douglas Hill

Vertaal uit Engels deur JAN SCHAAFSMA en uitgegee in 1984 deur HUMAN & ROUSSEAU uitgewers.

‘n Boodskap op band is Keill Randor se laaste skakel met sy planeet, Moros, wat in ‘n geheimsinnige aanval vernietig is.  Keill self is stadig besig om te sterf aan die gevolge van bestraling, maar hy moet eers ‘n sending afhandel – hy moet wraak neem op die onbekende vyand wat sy mense vernietig het.  Hy staan egter nie alleen nie. ‘n Afgesonderde groep bekend as die Opsigters is oortuig dat die vernietiging van Moros deel is van ‘n groot plan van ‘n bose genie, wat hulle die Krygsheer noem, om die hele Melkweg te vernietig. Beide Keill en die Opsigters is gretig om sy identiteit vas te stel. In ‘n onvergeetlike doodstryd met een van ‘n onheilspellende groep genaamd die Slagvleuel, vind Keill en sy vreemde metgesel, Glr, die eerste aanduidings waar die gevreesde Krygsheer hom mag bevind.  Die verhaal verloop teen ‘n geweldige spoed vol avontuur en aksie en Keill Randor, die laaste Legioensoldaat, is ‘n onvergeetlike karakter.

LEON HUGO: RUIMTEVEGTER – Johan Kock

Daan Retief uitgewers, 1982

Ruimte-Sersant Gouws merk ’n Vreemde Vlieënde Voorwerp op toe hy heel terloops na sy ruimteradar kyk.  Die alarm het nie afgegaan nie!  Net vir ’n oomblik dink hy sy oë bedrieg hom.  Dan sien hy hulle duidelik.  Drie geel spikkels.  Sommer hier teen die aarde, so naby hy kan dit skaars glo.  Onmiddellik maak hy alarm.  Die elektroniese fluite weergalm deur meer as ’n duisend vertrekke.  Daarna klink sy stem hol oor die kragtige luidsprekers van die Suid-Afrikaanse Ruimteprogram-hoofkwartier se Opsporings-en Vernietigingsbeheerkamer…

LIEFDE IN DIE RUIMTE – Ilse Steyn

J.P. VAN DER WALT EN SEUN (EDMS.) BPK., 1998

Trumi van der Walt word ná twee eeue in vriesslaap in die drie en twintigste eeu wakker.  Haar geliefde Aarde word egter nou deur die tirannieke Hoofraad beheer en sy besluit om by die Bevrydingsfront aan te sluit.  Generaal Bart, die leier van die Frant, beskou haar egter as heeltemal te impulsief en ongedissiplineerd om ‘n rekruut te word.  Boonop is vroumense, veral dié wat nie onderdanig is nie, die laaste ding in die sterrestelsel waarvoor hy ooghare het.  Trumi is egter nie van hierdie eeu nie, en sy laat haar nog minder afskrik deur ‘n bombastiese rooikopmansmens.  Deur afpersing kry sy presies wat sy wil hê – en dan begin die vonke spat in die ruimte!

LOELOERAAI – C.J. Langenhoven

Tafelberg uitgewers, 1972

Een aand, terwyl Neelsie Vroutjie se hand vashou en hulle die sonsondergang bewonder, wonder hy hardop of daar mense op Venus woon.  Skaars is hierdie woorde koud of ´n langwerpige, ronde, geelblink tuig wat soos ´n reusagtige eier lyk, daal reg voor hulle neer.  In die tuig is Loeloeraai, ´n bewoner van die planeet Venus.  In ´n japtrap leer hy Afrikaans praat en begin ´n wonderlike aarde-en-ruimte-ervaring vir Neelsie en sy gesin.  Maar nie almal is ewe bly oor Loeloeraai se koms nie … hy het die land immers onwettig binnegekom.  Buiten Loeloeraai, Neelsie en Vroutjie ontmoet die leser ook ander kleurvolle karakters: modebewuste Engela, Neelsie se skuldeiser, oom Stoffel, Herrie die olifant en die ewig pessimistiese Watwo.

MEGAN SE STER – Allan Baillie

Vertaal uit Engels deur Madeleine van Biljon en uitgegee in 1989 deur Daan Retief uitgewers.

Niemand verstaan haar nie.  Haar maats dink sy is vreemd anders.  Megan probeer oorleef tussen die huislike probleme van haar ouers, die onderonsies in die straat en die gesukkel met haar kleinboet.  Totdat sy die stem hoor wat om hulp roep.  Skielik besef sy dat sy oor wonderbaarlike kragte beskik.  Saam met Kel betree sy ‘n ongelooflike wonderwêreld in die buitenste ruim, maar noemand mag weet nie…

MELKWEGRYKE – Nicolaas van der Wath

LULU uitgewers, 2005

Dit is die jaar 3009.  Daar is reeds begin om van die Melkweg se planete met lewe te koloniseer.  Hoofsaaklik deur drie groot nasies: die Britte, die Duitsers en die Russe.  Al drie die nasies staan weer onder monargiese regerings.  Meestal konstitusionele monargieë.  Oor die Britte heers koning George die sestiende, oor die Duitsers is dit keiser Wilhelm twaalf en oor die Russe is dit tsaar Nicolaas nege.  Natuurlik is nog baie ander nasies wat hulle plekkie in die Melkweg het, sommige onder demokrasie, ander onder diktators, keisers, konings en die Pous se teokrasie.  Elke nasie het sy sektor van die Melkweg waarin hy onbewoonde planete koloniseer.  Gelukkig was daar tot vandag toe geen ander intelektuele wesens in die sterrestelsel gevind nie.  Ander sterrestelsels is al verken, maar selfs deur ‘n wurmtonnel neem dit weke om daar te kom.

MIEG SE KORT EN LANG MIDDAG – De Waal Venter

Queillerie uitgewers, 1992

Toe Mieg sien dat die interessante vrou van die supermark met haar swaar winkelsakke sukkel, bied hy impulsief aan om haar te help dra.  En hoekom sal hy nie saam met haar tee drink nie?  Dis nog lank voor sesuur, en hy het niks anders die aand te doen as geskiedenis-huiswerk en TV-kyk nie.  Maar toe hy agterkom sy kosbare polshorlosie is ‘n paar minute agter, word sy kort kuiertjie by Eva op ‘n vreemde manier ‘n lange.  En in die proses doen hy allerlei ontdekkings: soos dat tyd op ‘n manier rond is, soos sirkels wat aan mekaar raak, en dat mens partykeer in ‘n ander sirkel kan beland.  Hy leer ook dat daar net een manier is om weer terug te kom in jou eie sirkel, en dit is om aan te hou soek en nooit terug te deins nie.  Maar die belangrikste ding wat hy leer, is dat mens nooit werklik iemand verloor vir wie jy lief is nie.

NAG VAN DIE KOMEET – Allen Sharp

Vertaal uit Engels deur Ettie Williams en uitgegee in 1995 deur Tafelberg uitgewers.

‘n Snuffelstorie is ‘n storie met n verskil, want jy, die leser, kies self wat volgende moet gebeur.  Jy is met vakansie op ‘n klein eilandjie aan die kus van Skotland toe Loebertjef se Komeet, wat slegs een maal elke duisend jaar van die aarde af sigbaar is, verskyn.  Aangesien sy wentelbaan baie naby aan die aarde is, word ‘n Amerikaanse ruimteprogram geloods om roeigasse van die komeetstert te tap.  Maar iets loop verkeerd en die ruimtetuig bots teen die komeet, sodat dit van koers gedryf word.  ‘n Hele aantal vreemde en vreesaanjaende dinge begin gebeur en die vrees bestaan dat dit die einde van die aarde kan beteken.  Boonop word die eiland waarop jy jou bevind, ingeneem deur reusagtige vleisetende seemonsters…  Sien jy kans om die seemonsters aan te durf- en te oorleef?

NAG VAN DIE TYD – René Barjavel

Vertaal uit Frans deur Rina Scheiflinger en uitgegee in 1971 deur Tafelberg uitgewers.

Die nuus ontplof soos ‘n bom in die wêreld.  Skreeuende koerant-opskrifte: Die Geheim van die Pool, ‘n Stad. Onder Die Ys, UNESCO Gaan Die Suidpool Ondersoek.  Die aanloop tot hierdie dramatiese nuus is ‘n Suidpool-ekspedisie – ‘n ekspedisie wat sekere wetenskaplike navorsing wou gaan doen.  Daar vang hulle ‘n geheimsinnige sein op, ‘n sein wat ‘n duisend meter onder die ys vandaan kom, wat vermoedelik 900 000 jaar oud is.  Oombliklike opgewondenheid.  Spesiale apparate en voorrade word aangevra.  ‘n Skag word gesink.  ‘n Dorp ontstaan.  Dit word ‘n internasionale poging om ‘n lewensbelangrike geheim te ontrafel.  Wat gaan die wêreld se beste tegnici en wetenskaplikes ontdek as hulle deur die yslaag gedring het?  Hulle lê ‘n fantastiese wêreld bloot, oorblyfsels van ‘n hoogs ontwikkelde verlore beskawing en twee mense wat in ‘n spesiale omhulsel teen ‘n baie lae temperatuur lewe…  Dit word ‘n moderne avontuur, tegelyk opwindend en tragies, van twee minnaars aan die einde van ‘n ou, nuwe wêreld.  Nag van die Tyd verbeeld dramaties ‘n krisispunt in die wêreldgeskiedenis.  Die geheim van die ys veroorsaak verskerpte spioenasiebedrywighede deur die groot moondhede.  Die Amerikaanse en Russiese vlote snel na die Pool toe.  Die uiteinde van die wêreld hang af van die lot van Elea en Païkan wat tot aan die einde in die weegskaal is.

NARCISSUS – Wille Martin

Klub Saffier, 1982

Kaptein Kristin is in die knyp en die- slag besluit Alex Brutus en die ander manne van die rekenaarskip, Narcius, om die strydbyl te begrawe en haar te red, waar sy ook al mag wees.  Om te wete te kom waar sy haar bevind, is moeiliker as wat hulle kan raai want sy het in die hande van die gewetenlose Natan geval, ‘n sinistere wese wat skynbaar alles wéet wat in die Heelal aangaan.  In hul pogings om Kristin re vind, beleef Staal, Kosmo, Flynn en Alex, sowel as die kryger-vroue van die Aarde, allerhande opwindende, fanatiese avonture.  In die plek van Kristin, is die androied, Narcissus, Kristin se dubbeiganger, ‘n toevoeging tot hul geledere.  Hulle beweeg in ruimte sowel as tyd en bevind hulle in en stadium terug op hul eie planeet, in hul eie tyd, waar hulle tot hul skok ontdek dat daar net éen lot op arme Narcissus wag — en dit is die skrootwerf!  Hulle moet weer eens vlug…  En Kristin?  Ondergaan sy ondraaglike foltering, soos Alex-hulle vermoed? Inteendeel.  Natan, aantreklik, wêreldwys en magtig, is vasberade om haar met elke slinkse set waaroor hy beskik, sy eie te maak, en soms lyk dit asof Kristin van Alex wil-wil vergeet en aan Natan toegee…

NOVA: DIE BEGIN – Fanie Viljoen

LAPA uitgewers, 2010

Iets is nie pluis in die weermagdorp Nova nie.  Wat is die vreemde ligte wat Lucas en die res van sy gesin een aand op pad terug van vakansie sien?  Waarom jok sy pa vir hom?  Hoekom is die weermag so geheimsinnig oor die projekte waarmee hulle agter hoë heinings besig is?  En wat is die glibberige swart ding wat Lucas in die rivier gesien het?  Voor hy sy oë uitvee, word Lucas en sy vriende deel van ’n wilde avontuurrit vol tergende – en gevaarlike – raaisels.

NOVA: VUURDOOP – Fanie Viljoen

LAPA uitgewers, 2011

“Hulle het die kinders geopereer. Kry al vyf van hulle bymekaar. ons vat hulle vanaand nog Eenheid toe.”

Dis vir Lucas en sy vriende steeds onwerklik om te dink hulle is vroeër ontvoer.  Deur ruimtewesens.  Maar gelukkig is al vier van hulle nou veilig, en dinge kan terugkeer na normaal.  Als is egter nie pluis nie.  Watter geheime skuil nog agter die hoë heinings van die Nova-eenheid?  Wat sal gebeur as Lucas se pa uitvind die ruimtewesens het hulle geopereer?  Wat beteken die onstellende beelde wat Lucas in sy vriende se oë sien?  En hoe lank voor die geheimsinnige ruimteskepe weer hul verskyning maak?

ONDULAN – Gerrit van Dijk

Xlibris uitgewers, 2011

Sowat 150 jaar ná die Wederkoms van Christus ontvang kadet Taéll Adanaii Shanidar ‘n boodskap tydens ‘n diepruimte-verkenningsekspedisie, dat sy ma en broer ernstig beseer is onder omstandighede wat streng geheim gehou word.  By sy terugkeer na die Aarde, vind hy uit dat die enigste persoon wat lig kan werp op die gebeurtenis, is die Sentrin, Aregan Shanidar, An-Jorí van die Shanidar-familie.  ‘n Oorlewende uit die Christen-vervolging van die Antichris, vroeg in die 21-ste eeu, is Aregan ‘n sleutelfiguur in die planetêre ruimteverkenningsliggaam, ASTRA, se interdimensionele navorsingsprogram.  Die fokusveld van hulle navorsing, is die herwinning van plant- en dierspesies wat uitgesterf het tydens die Slag van Armageddon.  Want sedert die wêreldwye vernietiging van die Derde Wêreldoorlog, werk wetenskaplikes van die Duisendjarige Vredesryk onverpoos om die Aarde weer na haar volle eertydse glorie te herstel.  Die enigste oplossing vir die herwinning van hierdie uitgestorwe spesies, is uiteindelik om terug te beweeg in tyd, om die DNS van hierdie verlore spesies te onderskep vir ‘n intensiewe teëlprogram.  Maar die epiese tog word vertraag deur Helicron, ‘n mede-oorlewende uit die 21-ste eeu wat ernstig waarsku teen hierdie ambisieuse, geskiedkundige onderneming- Lucifer, die Stelselheer wat die Aarde sedert die val van die mens regeer het, is vir die duur van hierdie Duisendjarige regering van Christus, veilig verwyderd van die mensdom, vasgevang in ‘n Gravitasiekolk in ‘n vreemde dimensie.  Open jy ‘n deur na die verlede waar Lucifer steeds heers, stel wetenskaplikes die Duisendjarige Vrederyk in gevaar van ‘n demoniese oorname.  -’n Demoniese oorname, soos voorspel in Openbaring!

ONTMOETING OP ‘N ROOI PLANEET – Allen Sharp

Vertaal uit Engels en uitgegee in 1991 deur Tafelberg uitgewers.

‘n Snuffelstorie is ‘n storie met ‘n verskil, want jy, die leser, kies self wat volgende moet gebeur.  Dit is die jaar 2066 n.C. ‘n Kernoorlog het op die aarde uitgebreek.  Jy en jou kollegas vlug in ‘n reuse-ruimteskip na die veiligheid van die buitenste ruimte.  Maar is dit werklik veilig?  Die lede van die ruimtespan sterf een na die ander tot jy later alleen op die skip is saam met ‘n geheimsinnige ingenieur van wie die skip se pratende rekenaar niks weet nie.  Dan beland jy op ‘n eienaardige planeet aan die ander kant van ‘n swart gat.  Jy moet veg vir ‘n tweede kans – ‘n tweede kans vir jou én vir die aarde…

PLANEET 3 – Wille Martin

Klub Saffier, 1981

Kaptein Staal, luitenant Kosmo, Alex Brutus en die rekenaar Narcissus se ruimtetuig spring uit sy hiperdemensie en hulle word gedwing om te land op die derde planeet van ‘n vreemde sonnestelsel.  ‘n Planeet wat omtrent net uit water bestaan met lewende wesens!  Die Aarde.  Kaptein Kristin van die Walküre kry opdrag om na die noorde te gaan om ‘n opstand onder die mans, wat in kampe gehou word, te gaan onderdruk.  Vandat die vroue, baie eeue gelede, die aarde oorgeneem het, word mans nie toegelaat om te regeer nie.  Hulle word net vir teeldoeleindes gebruik en die gedugte leër wat die Aarde moet beskerm teen aanslae uit die ruimte, bestaan uit vroue.  Amasone-tipevroue, wat mans as baie lae wesens beskou.  Toe die vroue-soldate in die Noorde kom, vind hulle tot verbasing dat die mans aangevoer word deur vreemde mans van ‘n ander planeet.  Die vreemdelinge word oorrompel deur die Walküre en gevange geneem.  Gou besef Kaptein Kristin en haar medesoldate dat hierdie mans nie soos hulle mans is nie.  Hulle is groot en sterk en gewoond daaraan dat vroue hulle onderdanig is.  Kaptein Staal en sy manne besef dat hulle in die vroue van die Aarde se mag is.  Hoe gaan hulle ooit van die planeet wegkom?  Maar dan vind hulle ‘n uitweg.  Waarom nie hierdie vrouens gebruik nie?  Waarom nie hulle gevorderde tegnieke gebruik om hulle skip te herstel nie.  ‘n Vrou bly maar ‘n vrou, al is sy ook ‘n Amasone… hulle raak netso maklik verlief as ‘n gewone vrou.  Maar waarmee hulle nie rekening gehou het nie, is dat hierdie vroue self besluit het om die manne van Atlantis hier te hou vir hulle eie doeleindes.

PRINSES IN DIE RUIMTE – Ilse Steyn

LAPA uitgewers, 1996

Die prins van Woltan sal ‘n wese van Aarde as sy vrou neem, lui die eeue oue voorspelling.  Al wat die dronkgeslane Erik nie verstaan nie, is dat dit ook sê dat sy “van die voorvaders” kom en sekere van sy eienskappe sal hê.  Anais van Aarde besorg hom egter die skok van sy Wotannese lewe: buiten dat sy nie ‘n goue vel soos hy het nie, kommunikeer sy deur middel van telepatie met hom, laat sy sekuriteitsdeure op die pendeltuig sonder moeite oopgaan en spreek haar gedrag alles behale van iemand wat die Eerste Vrou gaan word.  Vir Anais maak egter niks anders saak as dat sy die tien weeskinders, met wie sy ‘n onuitwisbare band het, van die heersers van Aarde se onderdrukking wil bevry nie.  Maar dan word haar en die Woltannese prins se ruimtelike bestaan baie meer verweef as wat enigiemand in die Eerste Sterrestelsel ooit sou kon voorspel…

PROJEK X: OP EIE RISIKO – Martin Labuschagne

Perskor-boekdrukkery, 1998

Ontdek ‘n wêreld vol geheime saam met Ruan, Chantel en Arend.

Asof dit ‘n voorteken is, sing Battery 9 “Wees bevrees” oor die luidsprekers op pad na oom Dirk se plaas.  Want die plaas is bekend vir voorwerpe wat in die lug rondsweef.  En die mense in wit mantels wat daar ronddwaal ná die brand by die ou murasie.  ‘n Pap wiel in ‘n reënstorm stuit nie vir Ruan, Chantel en Arend nie.  Hulle is vasbeslote om die raaisel van die plaas op te los.  Asof die vreemde hallusinasies nie scary [vreesaanjaend] genoeg is nie, verdwyn kos uit die yskas en verbeel Ruan hom dat hy die “kolonel” in die dorp sien.  Dieselfde “kolonel” wat hulle laas in die ondergrondse tonnel waar die alien [vreemde wese] vir hulle weggekruip het, gesien het.  Ruan besluit om weer vir Zero, die hacker [kodebreker], te kontak, maar hulp kom uit ‘n onverwagse oord.  Daar is ‘n man wat himself Vince noem, wat uit die bloute op die plaas aankom.  ‘n Man in ‘n wit mantel en lang, bruin hare wat wild oor sy skouers hang. ‘n Man wat beweer dat hy onder sy mense as die Meester bekend staan…

[Afrifiksie: Jong volwasse WF - 6.5/10. Ek moes drie woorde vertaal hierbo (in rooi) net om te bewys dat ons wel Afrikaanse woorde het om beskrywend genoeg te wees. Ek was wel tog beindruk met Martin Labuschagne se beskrywing van die transdimensionele tonele en die spanning wat wat hy geskep het. Maar sy oormatige gebruik van Engelse woorde, in die dialoë, het my laat sug van verligting toe ek klaar is.]

het my totaal en al beskrywing van mense onder ons met  die voorstelling daarvan, maar die magdom onodige Engelse woorde

REISIGERS DEUR DIE RUIM – Prof. Arthur E. Bleksley

President uitgewers, 1961

Twaalf lange maande in die onmeetlike ruimte met die een asemrowende en verbysterend spannende ervaring na die ander – dit is die onderwerp van hierdie fantastiese avontuurverhaal uit die pen van een van Suid-Afrika – en daarby die wêreld se bekendste en veelsydigste wetenskaplike en ‘n sterrekundige vir wie die sterrekunde ‘n lewende en daaglikse werklikheid geword het.  Die skrywer, professor in die toegepaste wetenskap aan die Universiteit Witwatersrand en direkteur van die Johannesburgse Planetarium, is egter nie net wetenskaplike en vooraanstaande sterrekundige, asook ‘n leidende figuur met atoomnavorsing nie; met hierdie sonderlinge werk toon hy dat hy ook oor onmiskenbare skrywerstalent beskik.  U sal Reisigers deur die ruim met genot lees.  As uitgewers is ons trots op die baanbrekerswerk wat ons met hierdie verhaal in Afrikaans kan lewer, veral in hierdie gebeurtenisvolle jaar op die gebied van ruimtereise.  Ons is oortuig dat hierdie werk nog in verskeie ander tale die lig sal sien.  Dis die verhaal van prof. dr. Anton van der Linde, ‘n toonaangewende ruimtedeskundige, wie se lewensdroom verwesenlik word as sy ruimteskip die Suiderkruis voltooi en alles vir die lansering gereed gemaak word.  Omdat sy grootste projek deur ‘n vyandiggesinde element bedreig word, besluit hy om dadelik sy beplande reis na die maan te onderneem en dis die tweeling Hannes en Anna wat hom vergesel.  Reeds wanneer hulle op weg is na die maan ontdek hulle ‘n vierde persoon in die ruimteskip – ou April Dhlamini.  By hulle aankoms op die maan speel die een spannende toneel na die ander af, veral as Hannes in die donker dieptes van ‘n maankrater verdwyn.  Van die maan is die ruimteskip na Venus met nog meer avonture en gevare, dan in die rigting van die gloeiende son, verby Merkurius totdat hulle eindelik ‘n jaar later op Mars neerstryk, waar hulle met “menslike” – wesens kontak maak.  Eers wanneer ons hierdie merkwaardige boek gelees het begryp ons ruimtereise soveel beter, veral wat al vanjaar op hierdie gebied in ander dele van die wêreld gepresteer is.  Dit is die een boek wat u nie sal kan neersit as u dit eenmaal opgeneem he tom te lees nie.

RIKUS EN DIE DING MET DIE DUKSE – Frans Coetzee

DE JAGER-HAUM UITGEWERS, 1986

Rikus en sy harige metgesel strand op die planeet Duksa en bevind hulle in ‘n oerwoud van rusiemakerige pienk slurpwesentjies, eienaardige boustrukture, rammelkasruimteskepe en wetenskaplike uitvindings van twyfelagtige aard…   Hulle raak ongevraag kniediep betrokke by die Duksiaanse struwelinge en besef uiteindelik dat die moontlikheid om die planeet te verlaat, baie skraal is.  Dit is nie wat Rikus in gedagte gehad het toe hy na sy pa begin soek het nie.  En om aangesien te word vir ‘n geurige happie nagereg, was beslis ook nie wat Rikus se uitsonderlike troeteldier in gedagte gehad het toe hulle die soektog aangepak het nie…  Maar dit was maar een van die wedervarings wat hulle op die onvergeetlike Duksa beleef het.

ROWERS VAN DIE RUIMTE-EEU – André van der Merwe

Nasionale boekhandel, 1964

Na jare van vrede is daar weer ‘n rower in die buiteruimte.  Ewe skielik verdwyn daar ‘n groot ruimteskip met baie voorrade.  Wat veral snaaks is, is dat dié skip net onverstaanbare brokkies na die Aarde uitgesaai het.  Daarna het dit spoorloos weggeraak.  Paul Roux word met ‘n jagskip die ruimte ingestuur om ondersoek in te stel.  Dae lank trek hy en sy helpers kruis en dwars deur die ruimte.  Maar hulle soek verniet.  Hulle begin al daaraan dink om die soektog te staak.  En net toe vang hulle ‘n eienaardige radioboodskap op wat hulle na ‘n planeetjie lei.  Is dit nie dalk ‘n valse boodskap nie?  Paul besluit om die planeetjie te gaan verken.  In hulle ruimtepakke swerf hy en sy helpers daar rond.  Dit is woes en onherbergsaam.  Daar is geen teken van lewe nie.  Terwyl Paul nog so loop en soek, voel hy onverwags dat daar gevaar dreig.  Hy draai hom om en sie vier mans wat pistole op hom gerig hou.  En nou wee thy, hy is binne-in sy avontuur – die gevaarlikste wat hy nóg meegemaak het…

SENDING NA PLANEET 55-7 – Yvonne Botha

Human & Rousseau uitgewers, 1996

Toe die studente op Fraich opdragte vir hul eerste volwaardige sendings ontvang, is Xack een van die gelukkiges wat asteroides moet gaan kraak.  Xenia moet ‘n bewoner van die nuutontdekte planeet 55-7 gaan haal vir navorsingsdoeleindes.  Dinge verloop egter nie heeltemal volgens plan nie.  Xack kraak sy eerste asteroide suksesvol, maar bots net daarna teen ‘n towenaar en beland op een van Delta Sefkot se gevreesde vullisplanete.  Xenia kry wel haar 55-7-bewoner in die Ysvoël, maar kort voor lank bevind hulle hulle op dieselfde planeet.  Die Delta Sefkoters neem hulle gevange en die twee studente vrees vir die ergste.  Maar die ergste ontdek hulle eers later: ‘n magsugtige towenaar Listoor het ‘n bose plan om die heelal onherroeplik te verander.  Met net enkele ure oor om die heelal te red, moet hulle eers uitvind hóé…

SEUNS VAN DIE WOLKE – August van Oordt

Nasionale boekhandel, 1931

Ons kan aanneem as ‘n feit dat binne honderd jaar amper almal wat nou lewe, dood en begrawe sal wees.  Waarom dan, mag ons nie ‘n kykie in die toekoms neem nie?  Die mense van die toekoms is mos ons kindskinders.  Dus, geagte leser, vergeet u daaglikse sorge vir ‘n rukkie en vlieg saam met my in gedagte die toekoms in, en laat ons by die kinders van die toekoms gaan kuier en sien hoe hulle die lewe op die ou aardbol geniet.

SLAWE VAN DIE MARSMANNE – André van der Merwe

Nasionale boekhandel, 1964

Op Mars is daar iets snaaks aan die gang.  Kort-kort verdwyn daar jong manne wat met ruimteskepe van die Aarde af gekom het.  Is hulle gedood, het hulle gevlug of het hulle gedros?  Dit is kaptein Paul le Roux se opdrag om dié Mars-geheim te ontrafel.  Ná ‘n reis van amper 62 miljoen myl deur die ruimte in twaalf dae, kom hy op Mars aan.  Hy ruik dadelik onraad, sluip soos ‘n dief deur die strate, doen navraag by die Mars-polisie – en dan word hy self ontvoer.  Saam met baie manne van die Aarde is hy die ponder die grond gevange.  Hulle omstandighede is haglik: twaalf uur hard werk, twaalf uur rus; wagte met straalpistole en skokswepe om opstandigheid en laksheid te onderdruk.  Al wat die slawe-arbeider doen, is werk, eet, slap en… wag op die dood.  Daar is geen uitkomkans, geen hoop nie.  Maar Paul laat nie alle hoop vaar nie.  Hy wil ‘n plan maak.  “Jy is die soort man op wie ons almal gewag het,” sê een van sy mede-slawe.  En die manne wat hul hoop op Paul le Roux vestig, word nie teleurgestel nie – net soos die leser van hierdie toekomsverhaal nie teleurgestel sal wees as hy spanning soek nie.

STAD AAN DIE EINDE VAN DIE WÊRELD – François Bloemhof

Maskew Miller Longman uitgewers, 2007

“Hy is skaars terug in sy woonstel toe sy polsband ‘n biep gee.  Die eerste boodskap!  Hy weet sommer dit sal Jurg wees.  Maar op die skerm staan: Onbekende sender.  Y is sat vir advertensies wat só by hom uitkom – maatskappye het allerhande maniere om polsbandnommers in die hande te kry en dan die draers met boodskappe te bambardeer, al probeer jy hulle blokkeer.  Sy opgewondenheid sit om in irritasie.  Maar dis nie ‘n advertensie nie: Wanneer jy in die stad kom, waarsku vir Ying Li dat iemand op pad is om haar dood te maak.”  In 2084 behoort die wêreld aan tieners – en die gelukkiges onder hulle gaan stad toe.  Stad, plek van groter plesier as wat jy jou kon voorstel.  En groter gevaar as wat jy kon raai.  George Logan se bestemming.

SWAARTEKRAG EEN KOMMA EEN – De Waal Venter

Human & Rousseau uitgewers, 1994

Wat gebeur as drie tieners deur vreemde wesens uit die ruimte ontvoer word na ‘n planeet ligjare ver van die aarde af?  Pit, Alpha en Ovvie ervaar rillingsvreemde dinge in die skip van die “Taumi”.  Met behulp van Ovvie se geniale tegnologiese vermoëns flans hulle ‘n laserstraal aanmekaar en die twee seuns veroorsaak byna ‘n ramp…  Maar Pit se jongste sussue, Alpha, met haar naaldskerp verstand, vermoed gelukkig betyds dat Tilonlli, die wese wie se taak dit is om met hulle te kommunikeer, moontlik iemand is om te vertrou.  In hierdie aksievolle en oorspronklike ruimteverhaal vir tieners is daar spanning en avontuur wat mens met jou voete plat op die aarde nooit sal raakloop nie.  Veral as Pit, Ovvie en Alpha uiteindelik agterkom wat die werklike rede vir hul ontvoering is.  Dit begin vir hulle ‘n al hoe sterker moontlikheid lyk dat die hele aarde se voortbestaan, op meer as een manier, in die weegskaal is…

SWART STER OOR DIE KAROO – Jan Rabie

Human & Rousseau uitgewers, 1957

Dit duur ‘n tydjie voor die skokkende besef tot almal deurdring: die gelyktydige ontploffing van twee kragtige atoombomme het die aarde se draaiing stopgesit.  Die gevolg is ‘n wêreldramp van ongekende omvang waarin miljoene mense omkom.  By die navorsingstasie Saakni in die Karoo veg ‘n paar honderd mense – wetenskaplikes, soldate en vlugtelinge – teen die ewige nag en die onhoudbare koue wat dreig om alle lewe daar uit te wis.  Tog hou hulle onbewustelik die sleutel tot die toekoms.  Met die hulp van Eva Stellaris ontdek luitenante Wouter Rens en Jos Viljee en ingenieur Jordaan hierdie sleutel tydens ‘n sending na die geheimsinnige swart ster Nos.  Hulle kom mettertyd tot die ontdekking dat die ramp wat die aarde getref het eintlik ‘n bedekte seen is, dat dit nie net sonder rede gebeur het nie, maar deel is van ‘n veel groter plan, dat dit nie finaal is nie, maar in ‘n groot mate herstel kan word, en dat alles net van hulle afhang…  Hierdie boek is ‘n spannende toekomsfantasie wat ‘n duidelike boodskap inhou: omdat die mens by magte is om die aarde te vervoes, is sy toekoms in sy eie hande.  Hoe hy hierdie mag gaan gebruik – of hy die aarde gaan verwoes of daarvan ‘n beter plek gaan maak – hang net van homself af.

TORINGHOOG EN MYLE BREED – Tonke Dragt

Vertaal uit Nederlands deur Retha Scholtz en uitgegee in 1978 deur Tafelberg uitgewers.

Edu Jansen, planeetondersoeker, kom vir die tweede maal op Venus, ook genaamd Afroi.  Afroi, die wilde, die nog onbekende, waar vlammende woude dreigend en misterieus gloei, toringhoog en myle breed.  Afroi, waar die Aardmense in ‘n mensgemaakte koepel skuil, omring van elke moontlike tegniese apparaat, bedien deur robots, onderhewig aan strenge voorskrifte selfs wanneer die dapperstes onder die dapperes die klein kring om die Koepel verken.  Daar word geen sprietjie van die vreemde plante in die Koepel en sy omgewing toegelaat nie, want op Afroi kan die mense van die Aarde niks vertrou nie.  Selfs die lug straal ‘n onheilsinvloed uit.  En as die heimwee die Aardmense oorval, gaan hulle na die Heimweekamer en kyk na skilderye van Aardse stede.  Almal dieselfde, hierdie enorme stede, maar tog tuis vir niemand, ‘n plek waar hy begin het.  Op Aarde is daar lank nie meer velde en gras en bome nie, maar in ou, ou boeke word daar nog vertel van woude en blomme en grond waar ‘n man rus kan vind en vrede vir sy siel.  Edu het van die ou boeke gelees.  Vir Edu, die dromer, die ewige reisiger wat brand om te verken en te verstaan, is die Woude van Afroi nie net skrikwekkend, gevaarlik en verbode nie.  Die Woude trek hom onweerstaanbaar aan.  Hy word gelok, geroep, gedwing om die gloeiende Woude in te gaan.  En hy gaan, alleen.  Wat sou hy buite vind?  Monsterplante, hemelsblou diere, visse met slurpe … en groen mannetjies?  En sy soeke verdiep na binne, en in homself vind hy vreeswekkende vermoëns, ongekende dieptes … en die liefde.  Maar sou hy gek word, soos ‘n paar van sy voorgangers, of sou hy bestand wees teen die Onbekende Faktor?

VREEMDELING – VESTING – Douglas Hill

Vertaal uit Engels deur Jan Schaafsma en uitgegee in 1991 deur Human & Rousseau uitgewers.

Vreemdeling – Vesting vervolg op Die jagter en Krygers van die Woesteny en bring die avonture van Finn Ferrall en sy vriende – en hul stryd teen die wrede Vreemdeling-heersers van die aarde, die Slawehalers – tot ‘n opwindende einde.  Die mense van die Woesteny word stadig deur ‘n meedoënlose opmars van die Slawehalers suid gedryf, en Finn, Beir en hul vriende moet pal staan en die warrelwaens aandurf, of bly terugval tot in die gevreesde radioaktiewe Brandsand, waar ‘n sekere dood op hulle wag.  Terwyl Finn ondersoek instel na ‘n vreemde ruimteskip wat naby die vriende neerstryk, word hy gevange geneem en na die Vesting vervoer.  Hier leer hy hoe dit voel om ‘n slaaf te wees, en kom hy ook meer te wete oor die Vreemdelinge, waarom hulle na die aarde toe gekom het, en wat hul plan vir die planeet is.  Met groot durf en waagmoed, en die hulp van Beir en die ander, slaag Finn tog daarin om te ontsnap, en deel te hê aan die laaste opstand teen die vyand.

VYFFFF – De Waal Venter

Tafelberg uitgewers, 1988

Waldemar die Beskeie is ´n sofont met die amp van Spesiale Agent.  Hy is lid van die homo sapiens-ras, het ´n baie hoë graad van siob”horr, is manlik en beskik oor besondere intelligensie en indrukwekkende vermoëns.  Dit is sy taak om Lox, die Voorsitter van Sdon en waarskynlike opvolger van die Keiser, op te spoor.  Lox is ontvoer, vermoedelik deur die gehate Kliënte, wat tog so belangrik is vir geordende handel in die Keiserryk.  Waldemar word bygestaan deur Ffff, ´n Olifaktiaan, wat met geure kommunikeer en soos ´n dubbel-bedmatras lyk; die skone Penni, jongdame Van-die-eilande en ook ´n Spesiale Agent; graaf André Slink, ´n gesofistikeerde losbol wat in der waarheid ´n Spesiale Spesiale Agent is; asook dié se vriend, die reusagtige Barbar met sy wilde bos geel hare en harde lag.  Hierdie gedugte span word later nog meer gedug toe die klein, donker Okei Mpanza hom by hulle aansluit.  Die soektog neem hulle van een uithoek van die Melkwegstelsel na die ander.  Op elke nuwe planeet kry hulle met ander sofonte te doen – elkeen met sy eie eienaardighede.  Maar oral is daar Kliënt-robotte om die saak vir die vyf te bemoeilik.  Hierdie heerlike ruimtefantasie is nie net met onverwagte kinkels en kabels, humor en spanning gepak nie, maar ook met liefde en geweld.  Selfs ´n Spesiale Agent van die kaliber van kaptein Waldemar sal sukkel om tienerlesers te red van die Vyffff-plesier-firma as De Waal Venter hulle eers in sy greep het.

WOTAN SQ7 – Pieter Steen

Tafelberg uitgewers, 1989

“Agter hom sluit die hyserdeur met ‘n sagte suisgeluid.  Die grys rook omvou hom soos ‘n kombers.  Hy is op die oppervlak.  Vir die eerste keer in sy lewe is hy nie intra terram nie, maar staan sy voete waar aarde en atmosfeer ontmoet.”  Wotan SQ7 is sestien jaar intra terram en ontvang oppervlakkrediet waarmee hy ‘n kort besoek kan bring aan die oppervlak van die aarde – ‘n oppervlak wat gedurende die Groot Oorloë verwoes is deur kernmissiele wat van vasteland tot vasteland aanhou vuur het lank nadat alle tekens van lewe uitgewis is.  Wotan het nog altyd ‘n vermoede gehad dat daar meer aan die lewe moet wees as wat die siellose, gereglementeerde tonnelbestaan twee kilometer onder die aarde kan bied.  Sy onbedwingbare vryheidsdrang en sy weetgierigheid maak dat hy na sy eerste besoek aan die oppervlak nie langer die dekrete van Sentrabeheer en Moeder, die ontsaglike sentrale rekenaar, klakkeloos kan aanvaar nie.  Wotan SQ7 is meer as net ‘n futuristiese avontuurverhaal – dit is ook die verhaal van hoe die mens se vrye gees triomfeer ten spyte van beperkinge wat daarop geplaas word.