Die Geskiedenis van die Wetenskapfiksiegenre

Wat is Wetenskapfiksie? Omdat die wetenskapfiksie genre so ʼn gekompliseerde genre is met sy magdom subgenres is dit moeilik om dit te definieer. Skrywer en redakteur Damon Knight (bekend vir sy kortverhaal TO SERVE MAN) het die probleem so opgesom; “wetenskapfiksie is waarna ons verwys wanneer ons dit sê.” en Vladimir Nabokov (bekend vir sy novelle LOLITA) het aangevoer dat as ons te streng begin raak met ʼn definisie vir wetenskapfiksie ons William Shakespeare se toneelstuk THE TEMPEST sal moet aanvaar as wetenskapfiksie.

Volgens die bekende wetenskapfiksie skrywer Robert A. Heinlein (bekend vir sy STARSHIP TROOPERS; STRANGER IN A STRANGE LAND en THE MOON IS A HARSH MISTRESS) is: “… wetenskapfiksie die realistiese spekulasie oor moontlike toekomstige gebeure, wat stewig gegrond is op voldoende kennis van die werklike wêreld waarin ons leef, in die verlede en die hede, met ʼn deeglike begrip van die aard en betekenis van die wetenskaplike metode.”

Rod Serling (bekend vir die televisiereeks THE TWILIGHT ZONE) definieer die wetenskapfiksie as: “… dit is fiksie wat die onmoontlike ʼn waarskynlike maak en wetenskapfiksie is wat die onwaarskynlike moontlik maak.”

Lester Del Ray (skrywer van wetenskapfiksie en fantasie boeke en die stigter van Del Ray Books) skryf dat: “Selfs toegewyde wetenskapfiksie-aanhangers het ʼn harde tyd om wetenskapfiksie te verduidelik en te definieer.”

Dit is vir hierdie rede dat daar tot op hede nog nie ʼn bevredigende definisie is vir die wetenskapfiksie nie en hiermee bevestig dit dat die wetenskapfiksie geen perke het nie.

Volgens die uitlatings van verskeie kenners, skrywers en aanhangers kan ons met bevrediging die volgende definisie aan u voorhou:

“Wetenskapfiksie of WF is ʼn wye genre van fiksie wat dikwels op huidige of toekomstige wetenskaplike, mediese en tegnologiese spekulasies gebaseer is. Dit maak ook gebruik van kreatiewe en verbeeldingryke elemente wat nie gevind kan word in ons eietydse realiteit nie, maar wat binne die konteks van die storie elemente bevat wat haalbaar kan wees binne die raamwerk van wetenskaplike prosesse en natuurwette.”

Hoe het die Wetenskapfiksie genre ontstaan? Soos vroeër genoem is die genre van die wetenskapfiksie divers en omdat daar nie ooreengekom kan word oor wat presies die wetenskapfiksie is nie, is dit ook nie verbasend dat daar nie konsensus bereik kan word oor die oorsprong en die geskiedenis van die wetenskapfiksie nie.

Daar is twee kampe van denke. Die eerste groep sê dat die genre se wortels in die vroeë fantasie werke soos die Mesopotamiese EPIC OF GILGAMESH gevind kan word en die tweede groep daarenteen argumenteer egter dat die wetenskapfiksie eers na vore getree het iewers tussen die 17de en vroeë 19de eeu, na aanleiding van die Wetenskaplike Revolusie wat gepaargegaan het met belangrike ontdekkings in die medici, sterrekunde, wetenskap en wiskunde.

Wetenskapfiksie in die 20ste eeu het heelwat meer aandag geniet in die literatuur veral met die integrasie van wetenskap en tegnologie in ons alledaagse lewe.

Ons gaan na die ontwikkeling van wetenskapfiksie kyk onder die volgende opskrifte:

  • Antieke en vroeë moderne wetenskapfiksie;
  • Proto-wetenskapfiksie gedurende die 17de en 18de eeu;
  • Proto-wetenskapfiksie gedurende die vroeë 19de eeu;
  • Jules Gabriel Verne en Herbert George Wells;
  • Die groei van wetenskapfiksie in die laat 19de eeu;
  • Vroeg in die 20ste eeu;
  • Moderne skryfwerk;
  • Wetenskapfiksie se impak op die grotere publiek;
  • Die Goue Tydperk van wetenskapfiksie;
  • Einde van Die Goue Tydperk;
  • Die Nuwe Golf en die nasleep daarvan;
  • Wetenskapfiksie in die 1980’s;
  • Kontemporêre wetenskapfiksie en sy toekoms;
  • Wêreld bekende toekennings vir die wetenskapfiksie.

Antieke en vroeë moderne wetenskapfiksie: Daar is heelwat antieke en vroeë moderne tekste, insluitend ʼn groot aantal romans en gedigte wat elemente van fantasie (o.a. Ovidius se 8 n.C. se METAMORPHOSES asook die Ou Engelse heldhaftige gedig van BEOWULF van ongeveer 8-11de eeu n.C. en die Middel-Duitse epiese gedig van 1230, NIBELUNGEN) of wetenskapfiksie bevat voordat die wetenskapfiksie as ʼn afsonderlike genre gesien was.

Een van die vroegste en mees algemene aangehaalde tekste as ʼn vroeë voorloper tot die wetenskapfiksie, is die antieke Mesopotamiese EPIC OF GILGAMESH (van ongeveer 2000 v.C.) en wat deur wetenskapfiksie skrywers soos Lester Del Ray en Pierre Vesins ondersteun word. In die EPIC OF GILGAMESH word die menslike rede en soeke na onsterflikheid behandel asook ʼn vloed toneel wat wil voorkom as ʼn katastrofiese wetenskapfiksie. Maar die gebrek aan konkrete wetenskap en tegnologie in die werk, is dit die rede waarom ander kenners die EPIC OF GILGAMESH eerder sien as ʼn fantasie en nie as wetenskapfiksie nie.

Antieke Indiese poësie, soos die Hindoe epiese RAMAYANA (5-4de eeu v.C.) sluit Vimana vlieënde masjiene in wat in staat is om in die ruimte en onder in die water te reis en kan met behulp van gevorderde wapens stede vernietig.

Indra se vimana, wat omvou is in ‘n groot skynsel, en gedryf is deur Matali, kloof die wolke en verlig die uitspansel en vul die hele hemel met sy brul… ook skroewe toegerus met wiele wat werk met atmosferiese druk, en klanke so hard soos die gegrom van ʼn groot massa wolke… Indra se vimana vlieg teen ‘n spoed dat mens dit skaars met die oog kan volg.” (Vana Parva, Art. Xlii)

Die vroeë Japanese verhaal van URASHIMA TARŌ handel oor ʼn tydreis na die verre toekoms, en was die eerste keer beskryf in die NIHONGI (720 n.C.). Die verhaal handel oor ‘n jong visserman genaamd Urashima Tarō wat ʼn skilpad se lewe red. As vergoeding vir sy goeie daad word Urashima toegelaat om Ryūgū-jō, die ondersese paleis van Ryūjin (die Drakeheer) te besoek waar hy vir drie dae vertoef het. Met sy terugkeer na sy tuisdorp, bevind hy homself drie honderd jaar in die toekoms in, waar niemand hom meer ken nie; sy huis in puin lê en sy hele gesin is alreeds lankal dood.

Verskeie stories binne die ONE THOUSAND AND ONE NIGHTS (8-10de eeu n.C.) bevat ook elemente van die wetenskapfiksie. Een voorbeeld hiervan kan gevind word in THE ADVENTURES OF BULUKIYA, waar die hoofkarakter Bulukiya se soeke na die “plant van onsterflikheid” hom op reise neem oor oseane, na die Tuin van Eden en na Jahannam. Bulukiya reis ook deur die kosmos en verken verskillende wêrelde (planete) heelwat groter as sy eie. Op Bulukiya se tog ontmoet hy die Jinn-samelewing en kom in aanraking met meerminne, pratende slange en bome asook ander vorme van lewe.

“…As hy uiteindelik daarin slaag om die ring te kry, sal hy nie net alleen die heer wees van alle geskape wesens nie, maar kan hy ook reis na die Land van Duisternis om daar te drink van die Lewende Fontein, wat skoonheid, jeugdigheid, kennis en onsterflikheid gee.”

In ABDULLAH THE FISHERMAN en ABDULLAH THE MERMAN, ontwikkel die hoofkarakter, Abdullah, die vermoë om onder die water asem te haal en ontdek so ʼn duikboot-samelewing wat ‘n omgekeerde weerspieëling is van die samelewing op land. Hierdie onderwater-samelewing is die uitbeelding van ʼn primitiewe kommunisme waar konsepte soos geld en klere glad nie bestaan nie.

Ander ONE THOUSAND AND ONE NIGHTS stories handel oor ou verlore tegnologie, gevorderde antieke beskawings wat afgedwaal het en katastrofes wat hulle onverwags betrap het.

In die verhaal THE CITY OF BRASS is ʼn groep reisigers op ʼn argeologiese ekspedisie in die Sahara om ‘n antieke vergete stad te vind om sodoende ‘n koper vaartuig op te spoor en te herstel wat Salomo eenkeer gebruik het om ‘n Jinn te vang. Op hulle tog ontdek hulle ‘n gemummifiseerde koningin, versteende inwoners en lewensgetroue menslike robotte, outomate en verleidelike marionette wat dans sonder enige snare en dan is dit ten uiteindelik ʼn robot ruiter van koper wat die groep lei tot die antieke stad.

In Dante se THE DIVINE COMEDY (van ongeveer 1308-1321), reis die vertellers na die planete en sterre wat die hemel uitmaak en wat bewoon word deur verskillende mense, byvoorbeeld, Mars met die siele van die martelare.

Proto-wetenskapfiksie gedurende die 17de en 18de eeu: Gedurende die 16de eeu wat ongekende wetenskaplike ontdekkings te weeg gebring het ʼn paar nuwe vorme van literatuur in Europa begin vorm aanneem. Hierdie tydperk van wetenskaplike ontdekkings staan vandag bekend as die tydperk van “Verligting” (wyswording).

Die humanistiese denker Thomas More (1516) se werk van fiksie en politieke filosofie getiteld UTOPIA handel oor ‘n fiktiewe eiland waar die bewoners van hierdie eiland volmaaktheid bereik het in elke opsig van hulle gemeenskap.

Die naam Utopie sou later sinoniem wees van die perfekte samelewing en sou later opgeneem word in die wetenskapfiksie met die verskil dat sogenaamde Utopie samelewings, wat wel op die oog af perfek voorkom, se gebrekke en die onbereikbaarheid daarvan beskryf word.

THE FAUST LEGEND (1587) bevat ‘n vroeë prototipe vir die mal wetenskaplike storie, en sou later aangepas word vir die wetenskapfiksie wat uitgebeeld is in die wetenskapfiksie rolprent FORBIDDEN PLANET (1956).

In die 17de en 18de eeu, die sogenaamde Tydperk van Redenering, het die belangstelling in wetenskaplike ontdekkings die skep van spekulatiewe fiksie aangevuur. Verskeie wetenskapfiksie werke van hierdie tyd het die vorm aangeneem van denkbeeldige reise na die Maan. Die eerste hiervan is Johannes Kepler se SOMNIUM (1634), asook die van Francis Godwin se MAN IN THE MOONE (1638) en Cyrano de Bergerac se COMICAL HISTORY OF THE STATES AND EMPIRES OF THE MOON (1656).

So ook het ruimtereise gedurende hierdie tyd aandag begin geniet soos die van Voltaire se MICROMÉGAS (1752) wat begin spekuleer het dat wesens van ander wêrelde op verskeie velde meer gevorderd is as dié van die aarde.

Ander proto-wetenskapfiksie uit die 17de en 18de eeue sluit in:

  • Shakespeare se THE TEMPEST (1610-1611);
  • Francis Bacon se THE NEW ATLANTIS (1627);
  • Margaret Cavendish se THE DESCRIPTION OF A NEW WORLD, CALLED THE BLAZING-WORLD (1666);
  • Simon Tyssot de Patot se VOYAGES ET AVENTURES DE JACQUES MASSÉ (1710);
  • Simon Tyssot de Patot se LA VIE, LES AVENTURES ET LE VOYAGE DE GROENLAND DU RÉVÉREND PÈRE CORDELIER PIERRE DE MÉSANG (1720);
  • Jonathan Swift se GULLIVER’S TRAVELS (1726);
  • Samuel Madden se MEMOIRS OF THE TWENTIETH CENTURY (1733);
  • Ludvig Holberg se NIELS KLIM’S UNDERGROUND TRAVELS (1741);
  • Louis-Sébastien Mercier se L’AN 2440 (1771);
  • Nicolas-Edmé Restif de la Bretonne se LA DÉCOUVERTE AUSTRALE PAR UN HOMME VOLANT (1781);
  • Giacomo Casanova se ICOSAMERON (1788).

Proto-wetenskapfiksie gedurende die vroeë 19de eeu: Gedurende die vroeë negentiende eeu het daar ʼn groot versnelling plaasgevind in die wetenskapfiksie genre en die meeste noemenswaardigste hiervan is die baanbreker publikasie van Mary Shelley se FRANKENSTEIN in 1818. Frankenstein se tema draai om ʼn mal wetenskaplike wat eksperimenteer met gevorderde tegnologie en die nagevolge daarvan. Mary Shelley se kortverhaal ROGER DODSWORTH: THE REANIMATED ENGLISHMAN (1826) sien ons waar ‘n gevriesde man in die ys weer tot lewe verwek word in ons huidige tydgleuf. Vandag is die herlewing van gevriesde (kriostaat) wesens, mense of plante ʼn algemene tema in die wetenskapfiksie. Nog ʼn toekomstige roman uit die pen van Mary Shelley is THE LAST MAN en word ook dikwels aangehaal as die eerste ware wetenskapfiksie roman.

In 1836 publiseer Alexander Veltman die eerste oorspronklike Russiese wetenskapfiksie getiteld: PREDKI KALIMEROSA: ALEKSANDRA FILIPPOVICH MAKEDONSKII. Predki Kalimerosa: Aleksandra Filippovich Makedonskii is dan ook die eerste tydreis-roman in die wetenskapfiksie.

Beïnvloed deur wetenskaplike teorieë van die 19de eeu en die gedagte rondom die menslike vooruitgang, skryf Victor Hugo THE LEGEND OF THE CENTURIES (1859). Dit is ‘n besonderse lang gedig in twee dele wat as ‘n distopie/utopie gelees kan word.

In die eerste toneel word ‘n groot gebreekte skip beskryf, die produk van die trotse en dwase mens wat dit vernoem het na Leviatan, dwaal nou op ʼn woestyn wêreld, waar die winde waai en die toorn van die gewonde natuur sigbaar is; die mensdom nou uiteindelik herenig en bedaard is na die sterre in die hemelruim om na vryheid te soek en om dit aan die lig te bring.

Ander proto-wetenskapfiksie uit die vroeë 19de eeue sluit in:

  • Jean-Baptiste Cousin de Grainville se LE DERNIER HOMME (1805);
  • Félix Bodin se LE ROMAN DE L’AVENIR (1834);
  • Emile Souvestre se LE MONDE TEL QU’IL SERA (1846);
  • Louis Geoffroy se NAPOLEON ET LA CONQUÊTE DU MONDE (1836);
  • C.I. Defontenay se STAR OU PSI DE CASSIOPÉE (1854);
  • Camille Flammarion se LA PLURALITÉ DES MONDES HABITÉS (1862);
  • Edward Bulwer-Lytton se THE COMMING RACE (1871).

Jules Gabriel Verne en Herbert George Wells: Die wetenskapfiksie het behoorlik begin lewe kry in die laat 19de eeu in Europa met die wetenskaplike liefdesverhale van Jules Verne en die wetenskap-georiënteerde en sosiaal-kritiese romans van H.G. Wells.

Verne se avontuur stories, veral A JOURNEY TO THE CENTER OF THE EARTH (1864), FROM THE EARTH TO THE MOON (1865), en TWENTY THOUSAND LEAGUES UNDER THE SEA (1869) wat geken word deur hul gemengde en gewaagde romantiese avontuur met die tegnologie van die dag óf die logiese uiteensetting van die tegnologie van die toekoms was Verne se werke ʼn geweldige kommersiële sukses.

L. Sprague de Camp argumenteer dat Verne “die wêreld se eerste voltydse wetenskapfiksie skrywer was.”

Wells se stories, aan die ander kant, gebruik weer die wetenskapfiksie metodes en toestelle om didaktiese punte oor sy gemeenskap te maak. In THE TIME MACHINE (1895), as byvoorbeeld, is die tegniese besonderhede van die masjien net liggies aangeraak, sodat daar op die storie van die Tydreisiger gefokus kan word wat kritiek lewer op die klassifikasie van mense in groepe op grond van gedeelde sosio-ekonomiese omstandighede in die Engelse samelewing van daardie tyd. In THE WAR OF THE WORLDS (1898), word die Marsmanne se tegnologie weereens nie verduidelik nie en die storie word opgelos deur ‘n deus ex machina (‘n knoop tegniek waardeur ‘n oënskynlik onoplosbare probleem skielik opgelos word, met ʼn geforseerde en ʼn onverwagse ingryping van ‘n paar nuwe gebeurtenisse, karakters, vermoëns, of voorwerpe), al is daar ʼn wetenskaplike verduideliking.

Die verskille tussen Verne en Wells se werke het ʼn spanning laat ontstaan wat tot vandag toe nog in die wetenskapfiksie en sy geskiedenis bestaan. Die vraag of wetenskapfiksie die realistiese tegnologie van die dag en die toekoms moet aanbied of moet dit fokus op die karakters en idees, asook die gedagte om eerder ʼn opwindende storie te vertel of om ʼn didaktiese punt te maak.

Die groei van wetenskapfiksie in die laat 19de eeu: Met Wells en Verne se internasionale sukses as wetenskapfiksie skrywers en die belangstelling van die publiek verskyn daar ander kortverhale in tydskrifte en word novelle van ander skrywers gepubliseer in die laat 19de eeu.

Samuel Butler publiseer EREWHON in 1872 wat handel oor die konsep dat masjiene eendag menslike gevoelens sal ontwikkel en die menslike ras begin verdring en sodoende vervang.

Hoewel Sir. Arthur Conan Doyle beter bekend is vir sy SHERLOCK HOLMES reeks het hy ook wetenskapfiksie geskryf, net soos Rudyard Kipling en die Bengali Wetenskapfiksie Skrywers wat skrywers soos Roy Rodgers en Begum Roquia Sakhawat Hussain ingesluit het. Hussain wat SULTANA’S DREAM (1905) geskryf het word vandag beskou as een van die eerste feministiese wetenskapfiksie werke.

Nog ‘n vroeë feministiese wetenskapfiksie was dié van Charlotte Perkins Gilman se HERLAND (1915).

Vroeg in die 20ste eeu: Die volgende groot wetenskapfiksie skrywer na Wells en Verne was Olaf Stapledon, wie se vier groot werke die FIRST AND LAST MEN (1930), ODD JOHN (1935), STAR MAKER (1937), en SIRIUS (1940), ‘n magdom nuwe idees ingesluit het wat wetenskapfiksie skrywers sedertdien aangeneem het. J.H. Rosny Aîne, wat gebore is in België, word vandag beskou as die vader van die moderne Franse wetenskapfiksie wat klasieke werke insluit soos LES XIPEHUZ (1887) en LA MORT DE LA TERRE (1910). Later in die twintiger-en dertigerjare sou ons sien dat die wetenskapfiksie genre in ʼn nuwe formaat (tydskrifte) verteenwoordig word.

Die eerste tydskrifte wat uitsluitlik wetenskapfiksie gepubliseer het was in Swede en Duitsland. Die eerste Engelse weergawe AMAZING STORIES (1926) wat deur Hugo Gernsback gepubliseer was was ʼn groot sukses en alhoewel Gernsback skrywers aangemoedig het om stories met wetenskaplike realisme te skryf, om sodoende sy lesers oor wetenskaplike beginsels op te voed, het hy ook vele stories gepubliseer wat nie gegrond was in die werklikheid nie.

Moderne skryfwerk: Skrywers het probeer om te reageer op die nuwe wêreld na die Wêreldoorloë en in die 1920’s en 30’s maak skrywers hulle heeltemal los van die wetenskapfiksie en verken nuwe maniere om ʼn storie te vertel. Alhoewel die gepubliseerde werke van Franz Kafka en die van modernistiese skrywers soos James Joyce, T.S. Eliot, Virginia Woolf en andere nie verbonde is aan die wetenskapfiksie nie, handel hulle werke wel oor die impak van die moderne tyd (van tegnologie, wetenskap, en veranderings) op mense se lewens, en dekades later, tydens die Nuwe Golf, kan mens nog steeds die modernistiese literêre tegnieke van hierdie skrywers in die wetenskapfiksie bespeur.

ʼn Sterk tema in modernistiese skryfwerk was vervreemding. Vervreemding is waar skrywers die bekende van instellings en praktyke neem wat as normaal beskou word en dit uitbeeld as oënskynlik bisarre praktyke van ‘n vreemde kultuur. Die lesers van modernistiese romans is dikwels gelei om alles te bevraagteken.

Terselfdertyd, in die tradisionele literêre wetenskapfiksie romans, is die onenigheid van utopiese voorwaardes en die menslike begeertes ontwikkel in wat vandag bekend staan as die Distopie roman. Vir ‘n geruime tyd, is die fiktiewe wetenskaplike elemente van hierdie werke geïgnoreer deur die literêre kritici, al het hulle meer bygedra tot die wetenskapfiksie genre as die modernistiese skrywers.

Die utopiese werke van Wells het wetenskapfiksie skrywers grootliks beïnvloed o.a. die van Hugo Gernsback se RALPH 124C 41+.

Yevgeny Zamyatin se 1920 roman WE toon ‘n poging om ‘n totalitêre utopie tot stand te bring wat op die ou einde uitloop as ‘n distopiese staat waar mense hulle vrye wil verloor. Zamyatin se werk het die latere werke van Huxley en Orwell grootliks beïnvloed.

Aldous Huxley oorbrug egter die gaping tussen die literêre instellings en die wêreld van die wetenskapfiksie met sy BRAVE NEW WORLD (1932). BRAVE NEW WORLD is ‘n ironiese uitbeelding van ‘n stabiele en oënskynlike gelukkige samelewing wat gebou is deur die mens se bemeestering van genetiese manipulasie.

George Orwell met sy NINETEEN EIGHTY-FOUR (1948), het waarskynlik die mees hoogsaangeskrewe van hierdie literêre distopies geskryf. Hy beskryf ʼn tegnologiese totalitêre regime wat die samelewing beheer deur totale beheer uit te oefen oor die hantering en uitvloei van inligting.

Ray Bradbury se FAHRENHEIT 451, Ursula K. Le Guin se THE DISPOSSESSED: AN AMBIGUOUS UTOPIA, en meeste van Kurt Vonnegut se skryfwerk en die van latere wetenskapfiksie het die gesprek van die utopie en die distopie voortgesit.

In die laat 1930’s, word John W. Campbell aangestel as die redakteur van ASTOUNDING SCIENCE FICTION. Onder leiding van Campbell het ‘n massa nuwe skrywers na vore gekom uit ‘n groep van wetenskapfiksie ondersteuners wat as die Toekomstiges bekend gestaan het. Skrywers soos Isaac Asimov, Damon Knight, Donald A. Wollheim, Frederik Pohl, James Blish, Judith Merril, Robert A. Heinlein, Arthur C. Clarke, en A.E. van Vogt was van die bekende skrywers van die tydperk wat later bekend sou staan as die Goue Tydperk van die wetenskapfiksie.

Wetenskapfiksie se impak op die grotere publiek: Orson Welles se THE MERCURY THEATRE ON THE AIR het ‘n radio-weergawe van H.G. Wells se THE WAR OF THE WORLDS uitgesaai wat die beroemde massa paniek onder groot getalle mense teweeg gebring het omrede hulle geglo het dat dit ʼn werklike nuusuitsending was oor vreemde wesens vanuit die buitenste ruim wat die aarde inval. Hoeveel van hierdie staaltjies van massa paniek daar is, kan ons nie sê nie, maar die idee dat indringers vanuit die ruimte die aarde sal inval is opgesluit in die bewussyn van die alledaagse mens.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het vegvlieëniers bespiegel oor die oorsprong van die “Foo Fighters” wat tussen hulle in die lug gevlieg het. Intussen het die Duitsers die vlieënde bomme ontwikkel, bekend as V1 en V2, wat mense herinner het aan die vuurpylskepe wat alomteenwoordig in die wetenskapfiksie tydskrifte voorgekom het. Spuitenjin vliegtuie en die atoombom is ook in hierdie tyd ontwikkel.

In Cleve Cartmill se kortverhaal DEADLINE (1944) waar hy skryf oor ʼn fiktiewe atoombom projek het daartoe gelei dat die FBI die kantore van ASTOUNDING SCIENCE FICTION besoek het.

Wanneer die storie van ‘n vlieënde piering naby die dorpie Roswell in New Mexiko geval het in 1947, het die wetenskapfiksie ʼn moderne volksverhaal geword.

Die Goue Tydperk van wetenskapfiksie: Die tydperk tussen 1940 en 1950 word dikwels verwys na as Die Goue Tydperk van die wetenskapfiksie.

Met die aanstelling van die veeleisende redakteur, John W. Cambell Jr., in 1937, by die tydskrif ASTOUNDING SCIENCE FICTION en met die publikasie van stories en romans deur skrywers soos Isaac Asimov, Arthur C. Clarke, en Robert A. Heinlein, het die wetenskapfiksie begin status kry as ʼn ernstige fiksie.

Oor die invloed van Cambell op die wetenskapfiksie en sy skrywers het Asimov die volgende geskryf: “Ons was vertakkings van homself, ons was sy literêre klone.”

Campbell se aanmoedigende woorde aan sy span skrywers was; “Skryf vir my ‘n wese wat net so goed kan dink as ʼn mens, of beter as ‘n mens, maar nie soos ‘n mens nie.”

Campbell het ʼn hoër standaard gestel aan sy skrywers, as al die redakteurs voor hom, en het veral gekonsentreer op die gehalte van hulle skryfwerk en het spesiale aandag gegee aan die ontwikkeling van die groep jong skrywers wat hulleself aan hom verbind het.

Einde van Die Goue Tydperk: Op soek na groter vryheid om uitdrukking te gee aan hulle kreatiwiteit het skrywers begin om van hul artikels te publiseer in ander tydskrifte, insluitend THE MAGAZINE OF FANTASY AND SCIENCE FICTION, IF MAGAZINE ‘n die herstigte AMAZING STORIES, en ook in die GALAXY.

Onder redaksie van H.T. Gold en later ook Frederik Pohl, het die GALAXY ‘n meer literêre vorm van die wetenskapfiksie beklemtoon wat aangeleer is van die hoofstroom literatuur. Dit het heelwat minder klem gelê op die wetenskaplike geloofwaardigheid as Campbell se ASTOUNDING SCIENCE FICTION.

Met die gewildheid van GALAXY het dit die einde van die Goue Tydperk van die wetenskapfiksie gebring, maar die meeste van die Goue Tydperk skrywers was in staat om aan te pas by die veranderinge en kon aanhou skryf.

Die Nuwe Golf en die nasleep daarvan: Samuel Beckett se THE UNNAMABLE en WAITING FOR GODOT was invloedryke werke gedurende die 1950’s.

William S. Burroughs was die skrywer wat die wetenskapfiksie saam met die modernistiese skryfstyl in die literatuur gekombineer het. Met die hulp van Jack Kerouac publiseer Burroughs NAKED LUNCH, die eerste van ‘n reeks romans wat gebruik maak van ‘n semi-dadaïstiese tegniek genaamd die ‘Cut-up’ en die modernistiese dekonstruksie van die konvensionele samelewing, die ontmaskering van normaliteit om die leegheid daarvan te openbaar. Burroughs skets visioene van die samelewing as ‘n sameswering van vreemde wesens, monsters, polisiestate, dwelmhandelaars en alternatiewe vlakke van die werklikheid. Die taalgebruik van die wetenskapfiksie vermeng met die eksperimente van die modernisme in ‘n verslane generasie. Die filosofie van die bekende wetenskapfiksie skrywer Philip K. Dick sou onmoontlik gewees het sonder die invloed van Burroughs.

In 1960 publiseer die Britse romanskrywer Kingsley Amis, NEW MAPS OF HELL, ‘n literêre geskiedenis van die wetenskapfiksie. Hierdie ernstige aandag van ‘n hoofstroom en aanvaarbare skrywer het goed gedoen vir die wetenskapfiksie se reputasie.

Nog ‘n mylpaal vir die wetenskapfiksie was die publikasie van Frank Herbert se DUNE in 1965. DUNE is ‘n digte, komplekse en gedetailleerde werk van die wetenskapfiksie met politieke intrige in ‘n toekomstige sterrestelsel. DUNE speel af op die woestynplaneet Arrakis; ʼn vreemde wêreld met mistieke godsdienstige oortuigings en ʼn gedetailleerder ekostelsel.

So ook het die werk van Roger Zelazny, wie se romans soos die LORD OF LIGHT en sy mees bekende THE CHRONICLES OF AMBER getoon dat die lyne tussen die wetenskapfiksie, fantasie, godsdiens en sosiale kommentaar baie dun is.

In Brittanje gedurende die 1960’s het skrywers, wat later sou bekend staan as Die Nuwe Golf generasie, geëksperimenteer met die verskillende vorme van die wetenskapfiksie, wat sterk geneig het na surrealisme, sielkundige dramas en hoofstroomvorme van skryf. Die Nuwe Golf van die 60’s se skryfwerk het gesentreer rondom die publikasie van werke in die tydskrif NEW WORLDS nadat Michael Moorcock redaksionele beheer van die tydskrif in 1963 oorgeneem het. Die skrywers van die Nuwe Golf het geglo dat hulle help bou aan die nalatenskap van die Franse Nuwe Golf Artistieke Beweging. Alhoewel Die Nuwe Golf grootliks ‘n Britse beweging was, en het daar ook parallelle ontwikkeling plaasvind in die Amerikaanse wetenskapfiksie gedurende dieselfde tyd.

Die verhouding wat die Britse Nuwe Golf teenoor die Amerikaanse wetenskapfiksie gehad het is duidelik gemaak deur Harlan Ellison se oorspronklike bundel DANGEROUS VISIONS, wat beide Amerikaanse en Britse wetenskapfiksie skrywers uitgedaag het oor die aanvaarbare grense van die wetenskapfiksie.

Die Nuwe Golf skrywers en hul tydgenote het groter klem gelê op styl en ‘n hoogdrawende vorm van storievertelling. Hulle het ook begin aandag gee aan omstrede onderwerpe wat wetenskapfiksie skrywers voor hulle vermy het. Vir die eerste keer is seksualiteit, waaroor Kingsley Amis gekla het en wat byna heeltemal geïgnoreer was in die wetenskapfiksie, het ook gedurende hierdie tyd ernstige aandag gekry deur skrywers soos Samuel R. Delaney, Ursula K. Le Guin, Norman Spinrad, en Theodore Sturgeon.

Kontemporêre politieke kwessies het ook ʼn stem gekry deur die werke van skrywers soos John Brunner en J.G. Ballard wat waarskuwende verhale geskryf het wat gehandel het oor, onderskeidelik, oorbevolking en katastrofes.

Asimov het opgemerk dat die Tweede Revolusie in die wetenskapfiksie heelwat minder opsigtelik was as die eerste, wat toegeskryf kan word aan die ontwikkeling van die bundel wat ouer stories meer prominent gemaak het. Maar ‘n aantal van die Goue Tydperk skrywers het wel hulle skryfstyl verander om by die Nuwe Golf aan te pas. Robert A. Heinlein verander vanaf sy Campbell-era se Toekomstige Geskiedkundige stories na ʼn meer stilistiese avontuurlistige en seksuele werke wat STRANGER IN A STRANGE LAND en THE MOON IS A HARSH MISTRESS van sy bekendste werke van hierdie tyd insluit. Isaac Asimov skryf THE GODS THEMSELVES en vele ander wetenskapfiksie skrywers het ook voortgegaan om suksesvolle verhale te skryf in hierdie styl.

Ursula K. Le Guin projekteer en probeer afleidings maak van sosiale en biologiese veranderinge in haar werke wat antropologies van aard is. Philip K. Dick verken weer die metafisika van die menslike verstand in ‘n reeks verhale wat selde afhanklik is van die fiktiewe wetenskaplike inhoud. Le Guin, Dick en ander soos hulle sou later beskou word as skrywers onder die Sagte Wetenskapfiksie subgenre eerder as met die Nuwe Golf.

Sagte Wetenskapfiksie is die teenoorgestelde van Harde Wetenskapfiksie. Alhoewel wetenskaplike geloofwaardigheid die sentrale beginsel was van die genre sedert die tyd van Gernsback, het skrywers soos Larry Niven en Poul Anderson nuwe lewe in die Harde Wetenskapfiksie geblaas met stories wat beskik het oor ʼn kundige skryfstyl en goeie karakterisering van die hoofkarakters, terwyl ʼn hoë vlak van wetenskaplike gesofistikeerdheid behoue gebly het.

Wetenskapfiksie in die 1980’s: Teen die vroeë 1980’s, het die Nuwe Golf begin vervaag met die koms van die persoonlike rekenaar wat tegnologie ʼn integrale deel van die mensdom se bestaan geword het.

Wetenskapfiksie skrywers het daarom ʼn drang ontwikkel om stellings oor die invloed van hierdie tegnologie neer te pen op kulturele en politieke gebiede.

Op grond van die werk van die Nuwe Golf het die Kuberpoen beweging in die vroeë 80’s ontwikkel. Hoewel dit dieselfde skryfstyl uitgeoefen het as die van die Nuwe Golf, het dit gou sy eie unieke skryfstyl ontwikkel wat meer en deels gefokus het op die Poenas met hul denkbeeldige toekomstige onderwêreld en unieke mode-styl. Kuberpoen skrywers soos William Gibson het weg gebreek van die tradisionele wetenskapfiksie (met sy optimisme en die ondersteuning vir vooruitgang). William Gibson se NEUROMANCER in 1984 was ʼn reuse kommersiële sukses en het ook so die Kuberpoen beweging aan die breër literêre wêreld bekend gestel.

Ander belangrike skrywers in die Kuberpoen beweging sluit Bruce Sterling, John Shirley, en later Neal Stephenson in. Alhoewel Kuberpoen later vermeng en opgeneem is met ander subgenres van die wetenskapfiksie, was daar wel in die begin die idee van ideologiese suiwerheid. John Shirley vergelyk die Kuberpoen beweging met die van ‘n stam.

Kontemporêre wetenskapfiksie en sy toekoms: Kontemporêre wetenskapfiksie is gekenmerk deur die verspreiding van kuberpoen na ander dele van die mark van idees. Kuberpoen is lankal nie meer ʼn stam binne die wetenskapfiksie nie, maar het ‘n integrale deel van die wetenskapfiksie geword wie se interaksies met die ander subgenres in die veld die primêre tema geword het rondom die begin van die 21ste eeu.

Kuberpoen het ook die rolprentbedryf beïnvloed, met rolprente soos JOHNNY MNEMONIC en THE MATRIX SERIES, en die animasieprente van AKIRA en GHOST IN THE SHELL asook in die medium van videospeletjies, was dit die krities bekroonde DEUS EX en METAL GEAR SERIES.

Opkomende temas in die 1990’s is gekenmerk deur omgewingsake, die implikasies van die Internet, vrae oor biotegnologie en nanotegnologie asook skaarste in sekere samelewings. Neal Stephenson se THE DIAMOND AGE ondersoek hierdie temas. Lois McMaster Bujold se VORKOSIGAN romans het die karakter-gedrewe storie weer na die voorgrond gebring.

Kuberpoen se afhanklikheid van ʼn nabye toekoms, wat nie so ver in die toekoms afspeel soos ander wetenskapfiksie nie, het van die subgenre ʼn handelsnaam gemaak. In William Gibson se 2003 kuberpoen roman, PATTERN RECOGNITION, speel die verhaal af in die hede, wat gesien word as die algehele beperking tot enige nabye-toekoms verhale wat probeer om voorspellings te maak.

Kuberpoen se idees het ook al in ander rigtings van die wetenskapfiksie versprei. Skrywers van Ruimtesepies het al werke opgelewer met kuberpoen motiewe, insluitende die werk van David Brin (KILN PEOPLE) en Ken MacLeod (FALL REVOLUTION SERIES). Hierdie samesmelting van die twee uiteenlopende subgenres van die wetenskapfiksie in die 1980’s het ‘n nuwe voorspellende literatuur voortgebring wat in teenstelling is met die van tegnologiese stories wat vertel word in die hede.

John Clute skryf dat die wetenskapfiksie rondom die begin van die 21ste eeu op twee maniere verstaan kan word: “‘n triomfantlike visie van die wetenskapfiksie as ‘n genre en as ‘n reeks van hoogstaande werke wat ons blik gevestig het op die toekoms, wat nou tot ʼn einde is… [of]… onduidelik van die wêreld in daardie jare… noodlottig onherkenbaar van die wêreld wat dit probeer voorstel en aangedui het.”

Wêreld bekende toekennings vir die wetenskapfiksie:

Die Nebula-toekenning (www.sfwa.org/nebula-awards):

Die Nebula-toekenning is een van die mees gesogte wetenskapfiksie en fantasie toekennings wat jaarliks erkenning gee vir die beste werke van die wetenskapfiksie en fantasie wat gepubliseer is in die VSA gedurende die vorige jaar.

Die toekennings word georganiseer en toegeken deur die Wetenskapfiksie en Fantasie Skrywers van Amerika (SFWA), ʼn nie-winsgewende vereniging van professionele wetenskapfiksie en fantasie skrywers.

Die eerste toekennings was toegeken in 1966 tydens die stigtingseremonie en die wenners was:

Roman: DUNE deur Frank Herbert.

Novella: HE WHO SHAPES deur Roger Zelazny en THE SALIVA TREE deur Brian Aldiss (gelykop).

Novelle: THE DOORS OF HIS FACE, THE LAMPS OF HIS MOUTH deur Roger Zelazny.

Kortverhaal: “REPENT, HARLEQUIN!” SAID THE TICKTOCKMAN deur Harlan Ellison.

Die Hugo-toekenning (www.thehugoawards.org):

Die Hugo-toekennings word jaarliks toegeken vir die beste Engels gepubliseerde wetenskapfiksie of fantasie werke van die vorige jaar. Die toekennings is vernoem na Hugo Gernsback, die stigter van die baanbreker-wetenskapfiksie tydskrif Amazing Stories. Die toekennings word georganiseer en beheer deur die The World Science Fiction Society (WSFS) en word toegeken by die jaarlikse Wêreld Wetenskapfiksie Konvensie as die sentrale fokus van die byeenkoms.

Die eerste Hugo-toekennings was oorhandig in 1953 by die 11de Wêreld Wetenskapfiksie Konvensie as ʼn eenmalige gebeurtenis maar sedert 1955 het dit ʼn jaarlikse instelling geword. Anders as die Nebula-toekenning, waar wenners gekies word deur ʼn komitee, word die Hugo-wenners aangewys deur lesers en ondersteuners.

Die wenners van die eerste Hugo-toekennings is aangewys in 1953:

Roman: THE DEMOLISHED MAN deur Alfred Bester.

Professionele Tydskrif: Astounding, John W. Campbell, Jr. en Galaxy, H. L. Gold (gelykop).

Binneblaaie illustreerder: Virgil Finlay.

Omslag kunstenaar: Ed Emshwiller en Hannes Bok (gelykop).

Nuwe Skrywer of Kunstenaar: Philip José Farmer.

Uitnemendheid in werklikheidsartikels: Willy Ley.

Nr. 1 Ondersteuner persoonlikheid: Forrest J Ackerman.