Humor in WF+F

Almal wat aan die wonderwêreld van Fantastika dink, dink gewoonlik aan die groot monumente van die meesters in hierdie veld. Wanneer ons dink aan die groot name soos J.R.R. Tolkien, Jules Verne, George Lucas, C.S. Lewis, Arthur C. Clarke, ens. is daar een lyn wat deur dit alles loop, en dit is dat die wêreld van wat dalk moontlik sou kon wees of wat miskien eendag sou kon gebeur baie, baie ernstig is – en in baie gevalle selfs donker en boos.

Maar hoewel die genre oorheers word deur ernstige koue “realiteite”, is daar chronies ‘n smagting by die mens aanwesig om te lag – dikwels self in die aangesig van geweld of swaarkry. En daarom is dit seker nie vreemd dat humor in hierdie genre tog voorkom en selfs uiters gewild is nie.

Een van die heel gewildste boekreekse in die geskiedenis van wetenskapfiksie, is Douglas Adams se Hitchhiker’s Guide to the Galaxy wat uit vyf boeke bestaan wat hy self geskryf het en ‘n sesde een deur ‘n ander skrywer. Tewens, hierdie werke is só gewild dat die meeste mense voel dat indien iemand slegs een WF-boek in die lewe gaan lees, dit juis hierdie een moet wees. (Daar is ook ‘n fliek oor die boek gemaak maar dit was ‘n hopelose mislukking…)

En in die geval van fantasie is die storie soortgelyk. Hoewel Heer van die Ringe van Tolkien en Harry Potter die botoon voer in hierdie genre, is een van die heel gewildste skrywers in hierdie veld Terry Pratchett met sy reeks oor ‘n wêreld met die naam Diskworld.

 

Met sy eerste boek The Colour of Magic het hy ‘n reeks begin wat tans uit dosyne bestaan en waarvan telkens nog meer uitgegee word. Hierdie boeke is uiters snaaks en uiters gewild – en word sterk aanbeveel.

En dan is dit natuurlik ook moontlik om komiese WF+F-werke suksesvol as flieks uit te reik, soos lokettreffer van 1987, The Princess Bride. Dié fliek was so gewild dat dit amper onmiddellik kult-status verkry het.

Selfs in ander velde van Fantastika kom hierdie hunkering na humor en komedie voor. So byvoorbeeld is een van die onlangse (2016) superheldflieks, Deadpool uiters gewild met ‘n tweede een wat op pad is – ten spyte van sy lawwe manewales.

 

Ook Hancock (2008) is ‘n snaakse rolprent van ‘n superheld wat eweneens baie suksesvol was.

En dan is daar natuurlik die vermaaklike wêreld van die parodie, met talle skeppings deur derde partye wat die spot dryf met ander werke. Spaceballs (1987) is ‘n voorbeeld hiervan wat draaksteek met die magtige Star Wars, maar wat in eie reg groot populariteit geniet – veral onder Star Wars aanhangers.

 

Daar bestaan geen twyfel dat komedie deel sal bly binne die genre nie – wat natuurlik ook geleenthede skep vir Afrikaans wat tot ‘n groter mate kan toetree tot hierdie faset van die spekulatiewe fiksie…