‘n Onderhoud gevoer met François Verster

Afrifiksie het die voorreg gehad om op die 30ste Januarie 2014 bietjie te gaan gesels met die bekende historikus en boekejoernalis Dr. François Verster oor sy eerste Afrikaanse wetenskapfiksieverhaal “Deur na Nebula 9” wat deur Thompson Boekdrukkery uitgegee gaan word. Afrifiksie deel dit graag met u.

François se foto - Afrifiksie & ThompsonBoekeAF: Wat het jou geinspireer om Deur na Nebula 9 te skryf?
F.V: Eerstens het Gerhardus Thompson my gevra of ek ‘n boek wil skryf in die WF genre, anders sou ek seker steeds niks daaraan gedoen het nie. Tweedens het my vriend Charles Stofberg se twee WF boeke my beïndruk, sodat ek ook wou probeer om so iets te doen en derdens is WF ‘n goeie platform om ‘n sekere sienings oor te dra sonder om noodwendig op mense se tone te trap – alles is mos baie abstrak en indirek. Dis dus ‘n lekker geleentheid vir satire, maar nie te deursigtig nie.

AF: Was daar enige uitdagings rakende die navorsing vir Deur na Nebula 9?
F.V: Nee, ek het hoofsaaklik “geteer” op wat ek al gelees het – lank gelede het ek Edgar Rice Burroughs, Asimov, ens. gelees – en die films soos Alien en Predator, asook die reeks Stargate het my baie idees gegee. Ek het eers nadat ek al ‘n ent ver was met die boek ‘n paar WF boeke gelees en besef hoe baie mens eintlik aan dieselfde simbole, karakters en uitkomste dink (deel van ons kollektiewe geheue) – so het ek ontdek dat Jan Rabie ook in Die Groen planeet van ‘n piramide skryf (ek het die idee by Stargate en boeke deur Erich von Däniken gekry). In my storie is dit meer ‘n Suid-Amerikaanse soort piramide as die Egiptiese tipe in Stargate. Die vermoede dat ruimtereisigers betrokke was by antieke beskawings is ook stokoud. Regte navorsing het ek nie juis gedoen nie en eerder name en objekte opgemaak soos ek aangegaan het: groot pret. Daarenteen het ek redelik navorsing gedoen vir ‘n historiese roman wat in 2013 gepubliseer is
die onus is daar meer op ‘n duidelike feiteraamwerk. Een rede waarom ek min ander werke gelees het kort voor ek begin skryf het was omdat ek bang was ek word te veel beïnvloed. So ek het gekyk na wat van WF as genre verwag word, besluit wat het ek om te sê (daai sentrale tema) en toe my plot uitgewerk. En toe ek aan die gang kom, het ek weer besef mens moet tog weet wat ander skryf sodat jy nie te veel herhaal wat reeds gedoen is nie, selfs al is dit nie heeltemal moontlik om iets 100% uniek te skep nie – die Grieke het mos al gesê niks onder die son is nuut nie.

AF: As jy enige raad kan gee aan aspirant Afrikaanse wetenskapfiksie skrywers, wat sal dit wees?
F.V: Sjoe, ek is ‘n beginner in die genre, maar wat ek nou geleer het is dat mens maniere moet vind om vars te bly (sover jou idees aangaan, sover jy kan), om soveel moontlik WF-elemente by te werk om dit ras-eg WF te maak, om soveel moontlik lesers te interesseer. Ek hou van ‘n vinnige tempo, maar ek het dit moeilik gevind om die tempo reg deur vinnig te hou – omdat mens wêrelde en karakters moet beskryf wat niemand anders dalk nog kan eens verbeel het nie, moet jy soms eers die spoed verminder en beskrywings gee. Ek het dié soort informasie deur die teks probeer versprei, sodat alles nie hier en daar verstoppings in die vloei veroorsaak nie. Ook het ek probeer om genoeg aan die leser se verbeelding oor te laat, hoewel ek veel meer sou kon beskryf het. Ek glo lesers moet deelneem aan die proses en ek sou dink WF lesers het genoeg intelligensie en verbeelding om dit te kan doen. Om te veel “voor te sê” is ‘n belediging vir sulke lesers. Aanvanklik het ek volgens my proefleser te min informasie gegee, so ek het toe tog meer “verduidelikend” geskryf. Hier moet mens dus ‘n balans vind. Maar so is dit tog met alles skryfwerk. En lees maar oor en oor om die foute te beperk. Los liewer iets uit as om ‘n flop te maak. Ek hoop maar ek het my eie raad gevolg! Met elke boek leer mens baie, dit kan ek darem al sê.

AF: Kan ons in die toekoms nog ’n Afrikaanse wetenskapfiksie boek sien uit die pen van Dr. François Verster?
F.V: Ja, ek dink so. Ek is besig met iets heeltemal anders nou, maar ek oorweeg ‘n opvolg op N9 – indien daar darem belangstelling in die eerste boek is!

AF: Wat sou jy sê is die grootste uitdaging vir die Afrikaanse wetenskapfiksie genre om as ’n erkende literêre genre geag te word?
F.V: Die eerste ding is kwaliteit. As mense glo dis die geld en tyd werd om te koop en lees, sal dit ontwikkel en ek dink dis heeltemal moontlik dat Thompson Boekdrukkery ‘n groot ding begin het om soveel ondersteuning te bied. Ons moet realisties wees en ons nie blind staar teen die Engelse mark nie – hulle het ‘n groot geografiese omset en baie geld agter hulle en is al lank aan die groei. Sodra groter uitgewerye kennis begin neem, sal momentum versnel. Nie na ligspoed nie, maar dalk deur die klankgrens… Een woord van waarskuwing, en dit geld ons almal: ons moet die teksversorging so goed as moontlik te doen. Die bladuitleg, omslagontwerp, ens. is nie die probleem nie, want met die huidige tegnologie en talent (daarvan het Afrikaners baie) kan uitstekende produkte geskep word. Gerhardus blink juis uit met alles wat ons as skrywers nie wil of kan doen nie en ek is baie in my noppies met N9 se proefkopie.

AF: Lees jy enige wetentskapfiksie? En indien wel, wie is jou gunsteling skrywer en waarom?
F.V: Ek lees baie punt. Maar die lang antwoord is nee, ek lees nie baie WF nie; ek sal nou meer daarvan lees, noudat ek meer bewus is van wat dit behels – die binnewerke. Maar ek lees en skryf elke dag aan talle genres, doen navorsing as argivaris, en as vryskutjoernalis, so my tyd raak algaande meer beperk, en ek het gesien mens móét beter beplan – tydsbestuur is selfbestuur. Van alle WF skrywers sover het ek tog steeds ‘n sagte plekkie vir Burroughs – die Pellucidar-reeks het my baie plesier verskaf. Ek is nie so opgetrek met super-tegnologie nie, hou van kleurvolle karakters en daar moet darem ‘n redelike mate van realisme wees.

AF: Waarom sou jy sê dat Afrikaans-sprekendes nie groot lesers is van die Afrikaanse wetenskapfiksie nie? En kan ons iets daaraan doen.
F.V: Afrikaanse lesers is maar soos alle lesers in die opsig dat dit waaraan hulle die meeste blootgestel word, is waarvan hulle sal leer om van te hou. Daar is sover relatief min Afrikaanse WF boeke, maar “relatief” – daar is reeds meer as ek onlangs nog gedink het. Omdat misdaad nou so hoogty vier is speurverhale tops, en seks is skielik ook gewild (kyk maar na Litnet se hyg-seksie) sodat WF boonop daarmee moet meeding. Dog, noudat ons minder Calvinisties raak; hopelik val nog taboes en vrese vir die onbekende weg. Al wat ons kan doen is om goeie produkte te skep en soveel moontlik reklame te maak. Weereens; Afrifiksie en Thompson doen al baie en die internet is duidelik ‘n fantastiese hulpmiddel.

AF: Is daar enige versteekte boodskappe in Deur na Nebula 9?
F.V: O, baie… hehe. Nee, die leser sal self moet besluit, maar ek kan noem dat die sentrale tema magsmisbruik is, met juis geheime agendas en verraad in talle vorme daarmee saam – klink dit bekend? Dit behoort, want ons land het sy kwota daarvan opgelewer. Maar dis ook universeel. Die mens  en sy ego, die tropmentaliteit van so baie mense  in  elke denkbare kultuur, die gebrek aan etiek in die wetenskap… en selfs kommentaar oor die toekoms van boeke en Afrikaans: dis daar en ek hoop dit verveel nie te veel mense nie.

AF: Voel jy dit is nodig dat Afrikaanse skrywers Engelse woorde in hulle werke gebruik?
F.V:Ek skat dis selde nodig, behalwe dalk indien dit ‘n verwysing/kode bevat wat algemeen bekend is. Meestal kan ons nuwe woorde skep as ons dit benodig. Ek het, so enigiemand kan. Dis immers ‘n kreatiewe uitdaging. Lekker pret.

AF: Waarom sou jy sê is dit moeilik vir enige Afrikaanse wetenskapfiksie skrywer om aanvaar te word deur van die groot uitgewers in Suid-Afrika?
F.V: Ek werk vir Naspers (nie by die uitgewersafdeling nie!), maar ek weet dat die groot uitgewers wil groot bly, so hulle moet vooraan bly en om dit te doen moet hulle genoeg wins maak. Daar is ook meer uitgawes, en meer poste op die spel, so mens moet besef dat hierdie mense elke dag belangrike besluite moet maak. Geen uitgewer sal tog ‘n potensiële goue eend laat vlieg as hy/sy weet dis die geval nie. Maar mens weet nie, en foute sal altyd gemaak word. Ons as skrywers moenie persoonlik beledig voel as ons werk afgekeur word nie. Ek weet dis moeilik – ek was ook al daar (en sal weer daar kom), maar dan soek jy ‘n ander uitgewer. En kyk hoe gelukkig is ons: hier is Gerhardus! Ons moet hoop Thompson word so ‘n groot naam dat die groot uitgewers ons almal raaksien. Dis immers wat Gerhardus ook wil hê – almal, veral Afrikaanse WF sal daarby baat. As voorbeeld en motivering: My roman Een teen Adamastor (Maskew Miller Longman, 2013) is deur ‘n groot uitgewer afgekeur en toe wen ek MML se prys as beste Afrikaanse skrywer, so laat dit ‘n les wees – vir ons én vir die betrokke groot uitgewer! Goed, dit was die lang antwoord. Die korte is dat hulle waarskynlik tans bang is dit verkoop nie goed genoeg nie.

AF: As jy slegs een boek mag kies om vir die res van jou lewe te lees watter boek sal dit wees?
F.V: O magtag. Miskien as mens een hengse versameling Asterix-verhale in een bundel kan druk?

AF: Wat is jou gunsteling tydverdryf?
F.V: Lees was altyd daar, van so lank as ek kan onthou, en dis meer as tydverdryf; dis integraal deel van my lewe. Ek lees elke oomblik wat ek kan, ook op die troon. Ons huis is ‘n biblioteek. So enigiets anders is “tydverdryf” en op die oomblik is dit dalk skryf, maar skilder was voorheen en vóór dit sport – veral tennis en rugby. “Lees, leer en lewe” – dis my leuse.

AF: Wat is jou gunsteling kos.
F.V: Soos Garfield; lasagna. Nee, ek weet nie – braaivleis, bobotie… nee, ek kan nie kies nie! O, ek is mal oor aartappelskyfies. Ek sal dalk daarvan kan lewe.

AF: Watter karakter in Deur na Nebula 9 was vir jou die moeilikste om te skryf?
F.V: Nie een was moeilik nie, want ek het nie diepe karakterontwikkelings probeer uitderm nie. Ek wou die tempo redelik vinnig hou en het eerder op die plot gekonsentreer. Ek dink as mansmens sal ek seker sukkel om ‘n oortuigende vrouekarakter te skep, indien dit sou neerkom op intense emosionele wroegings, ens. – ek bedoel natuurlik uit ‘n vrou se perspektief. Ek hoop dus Leia, Samanda en dies meer is nie te plastiekerig nie. Hulle is egter sterk vroue, soos die omstandighede in die verhaal vereis.

AF: Deur na Nebula 9 is gevul met ’n magdom karakters, kulture en speel af op verskeie planete en mane. Was dit vir jou moeilik om kop te hou met die verloop van die verhaal?
F.V: Ha, inderdaad – ek moes sekere dele oorskryf, want dit was nogal chaos. Uiteindelik het alles darem sinvol ontwikkel. Hoop ek.

AF: ’n Mens het altyd ’n gunsteling. Kan ek dan vra watter karakter was jou gunsteling?
F.V: O, natuurlik Arnan. Ek dink juis ek kan nog baie meer met hom doen, vandaar die hunkering na ‘n opvolgboek. Terloops, ek hou van honde, maar ek is seker dis duidelik dat ek katte verkies.

AF: Hoe lank het jy aan Deur na Nebula 9 geskryf?
F.V: Ek dink dit was seker skaars drie maande. Ek was toe ook besig met twee ander boeke, en dit het rof geraak. Die een boek moes by die Kaapse Open Book Festival in September 2013 bekendgestel word en die ander een het ek eers eenkant geskuif, al weet ek die uitgewer (een van daai grotes waarvoor ons so lugtig is!) mag dalk belangstelling verloor (ek karring nou weer aan daarmee). Die oorskrywery N9 het baie langer geneem as die eerste weergawe. Maar dis hoe dit behoort te wees.

AF: Wat is jou grootste wens?
F.V: Wêreldvrede. Wel, dit ook, maar as ons realisties wil wees, sal ek tevrede wees met ‘n eiland langs Wilbur Smith s’n. Nee, ek spot steeds – dit sal lekker wees as ek minstens een regtige goeie boek kan skryf wat aan miljoene mense plesier verskaf. Ek dink nie enige skrywer behoort meer as dit te vra nie. Altans, dis wat ek my verbeel – en dis wat ek sal wil hê as ek eendag aan myself as ‘n bona fide skrywer dink.

AF: As Deur na Nebula 9 die geleentheid kry om verfilm te word, wie sal jy graag wil sien die draaiboek skryf; die rolprent vervaardig en in watter taal sal jy verkies?
F.V: Wel, hoekom nie Gavin Hood nie?  Kom ons hou dit in die familie. Anders Ridley Scott miskien. Taal; as ons wil hê dit moet met meer as Leon Schuster kompeteer, dan maar Engels, helaas.

AF: Wat is jou gedagtes rakende die vrywilligers wat bereid is om hulleself te gaan vestig op Mars (www.mars-one.com) om nooit weer terug te keer na die Aarde toe nie?
F.V: Oi, ek dink hulle is gek. Hulle moet eers Rabie se Die groen planeet lees!

Dankie en sterkte aan almal vir 2014.