‘n Onderhoud gevoer met Petronel

Afrifiksie het op die 17de November 2013 met die talentvolle Afrikaanse fantasie skrywer Petronel gesels oor Afrikaanse fantasie. Afrifiksie deel dit graag me u.

Petronel - AfrifiksieAF: Hoe lank skryf jy al?
P: Vandat ek kan onthou het ek al ’n pen in die hand maar het in 2011 my eerste boek voltooi.

AF: Wat maak die skryf van Afrikaanse fantasie vir jou so besonders?
P: Jy weet, ons het almal die een of ander tyd vas geglo dat die tandemuis vir jou geld gaan bring of dat jy soet moet wees as jy geskenke van Kersvader wil kry. Of dat daar feetjies en kaboutertjies in die voortuin baljaar en moenie vergeet van die eenoog nagmerrie-monster onder jou bed nie! Namate ons ouer word, vervaag hierdie wonderlike anderwêreldse karakters wat die norme van ons sorgelose kindwees dae gevorm het heeltemal weg in ’n gejaagde bestaan wat dreig om elke derde ou ’n hartaanval te besorg. Dit is nie net kinders wat by die wonder van feëverhale kan baat vind nie. Om fantasie te skryf bring daardie ongekunstelde sorgeloosheid weer terug en ek glo dat elke persoon kan baat vind in daardie uur of twee se ‘ontsnapping’ uit die harde werklikheid wanneer hy of sy ’n boek optel en lees van karakters of plekke wat somtyds effens verregaande klink, maar ons oombliklik terugroep na die wonder van daardie ánder sorgelose tydperk van ons lewens.

AF: Het jy enige raad vir aspirante Afrikaanse fantasie skrywers?
P: Ja. Skryf mensies. Skryf. Maak nie saak wat jy in jou gedagtes het nie. Skryf dit neer. Solank as wat jy ’n rekenaar, ’n pot koffie en ’n buisie gom byderhand het, kan jy ontsnap net waarheen jy wil. Die buisie gom is natuurlik om jou bas op die stoel vas te plak en jou in daardie ander wêreld te hou totdat jou boek voltooi is.

AF: Dink jy daar is nog vandag plek in Suid-Afrika vir Afrikaanse fantasie?
P: Daar is baie plek vir Afrikaanse fantasie in ons sonnige land. Ek weet nie waarom die meeste uitgewers daarvan wegskram nie. Dit is ’n skande dat ons fantasie liefhebbers ons verhale die meeste van die tyd net in Engels kan lees.

AF: Hoe sal jy die Afrikaanse fantasie genre vandag in Suid-Afrika beskryf?
P: Net soos wat my antwoord op die vorige vraag beskryf dink ek dit is ’n skreiende skande dat fantasie in Afrikaans so skaars is. Nes die spreekwoordelike hoendertande! Fantasie is ’n groot moet, in enige taal en ons Afrikaanse Suid-Afrikaners skiet vêr tekort.

AF: Wat kan ons nog in die toekoms uit die pen van Petronel verwag?
P: My geliefkoosde genre natuurlik. Fantasie, veral vampiere en weerwolwe. Sommer baie van hulle. Ek is juis op die oomblik besig om die klassieke weergawe van Bram Stoker se Dracula in Afrikaans te vertaal.

AF: Wat is jou gunsteling tydverdryf?
P: Skryf, natuurlik. Hoe dan anders?

AF: Hoe gaan jy te werk om jou verhaal na te vors en te skryf (waar kom jy aan jou idees)?
P: Ek begin by die milieu. Ek het ’n ou koffieblik waarin ek dorpe en plekke se name gegooi het. Moenie lag nie! Wanneer ek ’n nuwe boek begin, druk ek my hand in die blik en trek ’n plek. As die oplees van daardie spesifieke plek ’n interessante stukkie geskiedenis oplewer dan begin ek met stap twee, wat natuurlik die hoofkarakter is. Wanneer die hoofkarakter eers in sy omgewing is skryf die boek homself. Dis somtyds baie frustrerend as jy ’n spesifieke storielyn in gedagte het en jou karakters wil nie doen wat jy hulle beveel nie!

AF: Waar kan mense jou boeke koop en sal dit ook in eBoek uitgegee word?
P: My boeke kan by www.thompsonboeke.com bestel word en ja, dit sal in die nabye toekoms ook in eBoek beskikbaar wees.

AF: Wat was jou inspirasie om oor vampiere te skryf?
P: Vampiere is die mees fassinerende en herkenbaarste van die mitologiese figure. Hulle is ook die mees veelsydigste en mees humane van ons donker verbeeldingsvlugte en, gevolglik, die mees kwesbaarste en verleidelikste. Wat kan nou meer eroties wees as ’n helder maanligaand, ’n donker stegie en ’n super-sterk, super-vinnig, onsterflike wese met die son in sy oë wat jou in ’n paar ek belowe jou die heelal arms vasgryp? Of meer afgryslik as dinge skeefloop en jy eindig as sy maaltyd op? Nie alleen simboliseer en inspireer die idee van vampiere die vrees, hunkering, ontsag en bewondering in daardie donker kant van ons emosies nie, hulle vind ook sterk weerklank met elke een van ons innerlike begeertes en vrese en red ons as’t ware uit die eentonigheid van ons eenvoudige menslike bestaan.

AF: Hoeveel boeke het jy al geskryf en kan jy vir ons ietsie van elkeen vertel?
P: 3 wat gepubliseer is.

Wanneer die middernagson weer skyn –

Lucian Delavantey is onsterflik.
Vir ‘n ewigheid vasgevang in ‘n makabere half-lewe waaruit daar geen ontsnapping is nie; met ‘n leë en uitsiglose toekoms wat soos ‘n oneindige berg voor hom uitgestrek lê…
Totdat Henriette Middleton op haar gevaarlike spykerhakkies oor sy paadjie stap; – en saam met haar die grusame monster met sy onblusbare dors vir vars bloed.
Háár bloed…

Man… of die Monster? –

Inés Aglionby is ‘n Suid-Afrikaanse joernalis wat land uit is op ‘n storie… oor marmer van alle eentonige onderwerpe.
By ‘n baie verlate marmer breekgat iewers tussen Spanje en Frankryk loop sy haar egter in meer as net die marmer vas…
Estéban Menderiaga.
Maar Estéban het ‘n donker, bloeddorstige geheim wat hy met alle mag ‘n geheim wil hou, veral vir die klein heks met die spittende tong en vuurspuwende oë uit die sonnige land.

Hy sou dit miskien kon regkry, as Carlos, met sy waansinnige vendetta nie op haar spoor was nie.

Jou lewe… vir My liefde –

’n Wilde verjaarsdagviering, ’n dronkie in ’n donker stegie, ’n vreemde hand op sy skouer… dood.
Dit is die verhaal van Alix Mitchell se lewe.
Behalwe dat Alix se dood, in die gedaante van ’n liplekker lyfie onder ’n stywe korset en glinsterende silwer-groen katoë bokant ’n paar ek-belowe-jou-die-hemel bloedrooi pruil lippies, toe nie die dood soos in rigor mortis begrawe-dood was nie.
Dit is veel erger.
Na ’n honderd en agt jaar se desperate soeke na wraak en vergelding spoor Alix haar uiteindelik op. Die Satan’s-Delilah van daardie lank-verby stegie.
Dit is definitief sy!
Dieselfde gesig, dieselfde hare, dieselfde onmiskenbare tatoeëermerk. Presies net soos wat hy dit in elke een van sy nagmerries kan onthou.
Maar iets is fout. Gróót fout!
Hierdie Delilah wat bewusteloos en half verskeur in sy arms lê en veg vir haar lewe ruik na angeliere en appelkose en… menslik!

AF: Wat is Petronel se gunsteling musiek?
P: As ons van Afrikaanse musiek praat, Theuns Jordaan, sonder twyfel. En Bok van Blerk. Andersins luister ek graag na Klassieke musiek en groepe soos Gregorian en Blackmore’s Night, maar moenie die tieners se hip-hop, R&B en rap weggooi nie. Ek geniet nogal sekere snitte van Eminem en Black Eyed Peas.

AF: Wat is Petronel se top 5 rolprente?
P: Underworld, Blade, die Twilight reeks. Werklik enige iets wat ’n vampier of weerwolf in het. Dan is ek natuurlik sot op ’n goeie romantiese komedie, veral een met Gerard Butler in die hoofrol.

AF: As jy slegs 10 boeke mag kies om vir die res van jou lewe te lees watter boeke sal dit wees?
P: Enige iets wat Karen Marie Moning geskryf het. Ek is absoluut mal oor haar boeke.

AF: Verkies jy sagteband boeke of eBoeke en waarom?
P: Persoonlik verkies ek sagteband. Daar is geen gevoel op aarde wat kan vergelyk met die sensasie van papier tussen jou vingers nie.

AF: Het Petronel enige stokperdjies?
P: Skryf, skryf en nogmaals skryf en dan natuurlik lees. Ek het eenkeer gelees dat ’n skrywer wat meer skryf as lees nooit ’n goeie skrywer kan word nie, nou probeer ek net soveel lees as wat ek skryf.

AF: Is daar enige verskuilde sosiale, ekologiese of morele boodskappe in jou boeke?
P: Haai nee. Ek is nie een van daai tipes nie. Ek skryf uitsluitlik vir die ontspanning en ‘ontsnapping’ daarvan.

AF: Sal jy Petronel beskryf as ’n ekstrovert of introvert en waarom sal jy so sê?
P: Beslis ’n ekstrovert. Ek is baie lief vir mense en kom met almal oor die weg. Ek kan nou vir jou ’n hond agter sy bos uit gesels!

AF: Wie het die meeste impak op jou skryfwerk gehad?
P: Daar is nie ’n spesifieke persoon wat ’n impak op my skryfwerk gehad het nie, maar as ek ’n persoonlikheid moet kies wat ’n impak op my lewensuitkyk gehad het, sal ek moet sê dat dit Shaleen Surtie Richards is. Sy hét die persoonlikheid wat ek graag wíl hê.

AF: Hoe hanteer jy kritiek op jou skryfwerk?
P: Kritiek is nodig, want hoe anders gaan ons weet waar ons fouteer. Maar ek wens ek kan sê dat ek dit goed hanteer. Dit bly maar seermaak as iemand jou werk onnodig afkraak.