Dr. François P. Verster – 2014 © Joe Botha

Foto - François VersterFrançois Verster ontvang in Sept. 2013 met Finuala Dowling by Maskew Miller Longman se Open Book Festival in Kaapstad die toekenning vir Beste Afrikaanse Roman.

François Philippus Verster is op 24 Januarie 1962 in Bellville, net buite Kaapstad, gebore. Hy word in Parow groot. Sy oorlede vader, Frans, was ’n drukker by Naspers en sy moeder ’n haarkapper. Hy het ’n broer, Jacques, wat ’n polisieman is, en ’n suster, Sandra, wat by ’n klerehandelaar werk.

Verster matrikuleer in 1979 aan die Hoërskool President en sit sy studies in 1980 aan die Universiteit van Stellenbosch voort. Tydens sy militêre diensplig in 1986-1987 dien hy as onderwyser vir die KhoiSan in die Caprivi-strook.

Hy sluit hom in 1991 aan by die Kaapstad-argieg, waar hy aan die hoof gestaan het van uitreikprogramme. In 1992 trou hy met Charlene van Zyl van Oshikati, Namibië. Hulle het geen kinders nie, maar wel vier katte.

Hy werk onder meer as onderwyser en verwerf in 2003 sy doktorsgraad in Filosofie in Kultuurgeskiedenis in pikturale humor, veral met verwysing na die werk van T.O. Honiball. In 2006 word hy argivaris van Naspers. In 2010 verwerf hy ’n tweede M.Phil., dié keer in Joernalistiek, aan die Universiteit Stellenbosch. Sy fokus is op justisie in die politieke strokies van Zapiro van 2008 tot 2010.

Een teen Adamastor - Voorblad - François VersterDeur sy loopbaan skryf hy vakkundige artikels (geskiedenis, kultuurgeskiedenis, literatuur, kuns, joernalistiek), resensies, rubrieke en essays in koerante en tydskrifte. Hy het gereelde rubrieke in Bolander en Cape Librarian, asook op Afrifiksie.com, waar hy sy insae met ander wetenskapfiksie- en fantasie-skrywers deel. Hy skryf ook kortverhale, jeugverhale en gedigte vir die jeug. Hy gee drie boeke en twee e-boeke uit. In 2005 sien sy historiese nie-fiksieboek Op die spore van Simon van der Stel, 1685 -1985 die lig. Sy roman Een teen Adamastor wen in 2013 die Afrikaanse afdeling van Maskew Miller Longman-kompetisie).

Vanweë sy lewenslange belangstelling in grafiese kunste het Verster self ’n behendige skilder geword sedert hy in 1992 ’n seldsame vorm van skoliose opgedoen het wat hom van sport weerhou het. Hy lewers soms sketse en illustrasies vir publikasies.

Verster is bekend vir Deur na Nebula Nege, ’n Afrikaanse wetenskapfiksieroman wat in Februarie 2014 deur Thompson Boekdrukkery uitgegee is. Dit is sy tweede roman, ná Een vir Adamastor.

Die inspirasie vir Deur na Nebula Nege was George Orwell se boeke, veral Animal Farm (1945) met invloede van Jan Rabie se Die Groen Planeet (1961). Die roman speel hom in die nabye toekoms af. Die mensdom op die randjie van ineenstorting en ontsnapping na ’n ander dimensie blyk die enigste uitweg te wees. Die verhaal speel hom af op Aarde en die Drie Susters, die planete Terraduo, Genumo en Aerani in die dimansie Nebula Nege.

Deur na Nebula Nege - François VersterProfessor Kitakilus, die grootste wetenskaplike van sy era, ontwerp die Transitor, ’n toestel wat ’n portaal na ’n ander dimensie kan oopmaak en ooltlik die mensdom kan red. Wanneer die professor verdwyn, moet Wilf Beaudin en sy beeldskone kameraad Leia Vestra hom opspoor. Aan die ander kant van die portaal wag daar egter drie wêrelde propvol van hul eie persoonlike en politieke intriges. Die parasitiese Gryliks voer skynbaar die botoon, maar daar is spanning nie tussen hulle en ander rasse nie, maar ook onderling. Intussen blyk dit dat die geheimsinnige entiteit bekend as Komistor eintlik die toutjies trek.

Deur na Nebula Nege word beskryf as “die verhaal van die mensdom, saamgevat in een veelvlakkige vertelling wat afspeel op verskillende planete in ’n verre, verbeelde andersoortige dimensie, dog skrikwekkend bekend “ (Thompson, 2014).

Verster het self die afbeeldings van die Internet afgetrek en sy vriend en mede-wetenskapfiksieskrywer Charles F. Stofberg se dogter Anna-Mieke het die samestelling digitaal gedoen. Die figuur is ’n X-straalfoto van ’n pylstertvis wat die intelligente parasiet Grylik in die roman voorstel.

Verster meen dit is nog te vroeg om die invloed van Deur na Nebula Nege te bepaal. Die doel was volgens hom om ’n ras-egte Afrikaanse wetenskapfiksieboek te skryf met die tema van magsmiskbruik en die verskillende tipes verraad wat daaruit vloei.

Bronne:

  • Onderhoude met François Verster, 30/10/2014 – /11/2014, via vonkpos.
  • http://afrifiksie.com/n-onderhoud-gevoer-met-francois-verster/
  • http://www.litnet.co.za/Author/1046/Francois%20Verster
  • http://www.stellenboschwriters.com/versterf.html
  • http://thompsonboeke.com/index.php?id_product=28&controller=product