Me. Anna van der Walt – 2016 © Afrifiksie

2016 - Foto - SkrywersprofielAnna van der Walt is gebore op 17 Mei 1944 in Magaliesburg, Suid-Afrika, as Anna Kock, dogter van ’n NG-predikant, Pieter de Bruyn Kock, wat later akademie toe is en in die tuig gesterf het as hoof van die Departement Wysbegeerte aan die UOVS. Haar ma het al drie haar dogters vroeg leer lees en skryf. Sy is skool toe op die ouderdom van vyf en het haar skoolloopbaan in std 1 (nou graad 3) begin. Sy matrikuleer in 1959 aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein en verwerf haar honneursgraad in Engels in 1963 en haar UOD in 1964 aan die UOVS. Sy begin in 1965 werk as Engels-onderwyseres aan die Afrikaans Hoërskool in Kroonstad, maar keer dan in 1966 terug na Bloemfontein en werk vir nog vier jaar as onderwyseres aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein waar sy gematrikuleer het. Sy skryf ook in vir deeltydse studie aan die UOVS en verwerf ’n honneursgraad in Wysbegeerte in 1966. Sy tree in 1968 in die huwelik met Hugo van der Walt, ’n NG-predikant. Haar dogter se kommentaar is dat daar geen salf te smeer is aan ’n vrou wat in ’n pastorie grootgeword het en dan onnosel genoeg is om weer met ’n predikant te trou nie. Vanaf 1970 tot 1978 is sy slegs predikantsvrou (Douglas, Vanderbijlpark en Bloemfontein) en ma vir haar twee kinders, Tina en Landró. Na Hugo ’n beroep na Monument, ’n brandarm gemeente in Bloemfontein, aanvaar het, word sy in 1978 aangestel as ’n taalpraktisyn aan die Universiteit van die Vrystaat waar sy die volgende 35 jaar werk (ook vier jaar na amptelike aftrede op die ouderdom van 65). Hugo sterf in 2012 na ’n bitter lyding as gevolg van Parkinsons Plus.

Anna is tans afgetree en het nog ’n bietjie vryskutvertaalwerk gedoen, maar toe geswig voor haar lewenslange begeerte om te skryf.

Anna het in die tagtigs verskeie boeke geskryf, maar nie mooi geweet na wie om die manuskripte te stuur nie en dit het nie geslaag nie. Die eerste verhaal wat sy geskryf het, was Skemerpad na die dagbreek, die verhaal van ’n seun met besondere skildertalent wat erg mishandel is deur sy pa wat nie ’n klein fyn seuntjie met ’n kunstenaarstemperament kon aanvaar nie en deur mishandeling ’n “man” van hom probeer maak het. Hy is uiteindelik onder die vlerk geneem van sy suster se man, wat ’n groot rol in sy lewe gespeel het. Sy het hierna ’n opvolgverhaal geskryf onder die titel Kleinbegin, wat afspeel op ’n sendingstasie waarheen die hoofkarakter gevlug het nadat hy getraumatiseerd teruggekeer het van die grensoorlog.  Hierdie verhale is nie aanvaar nie. Kommentaar was, onder andere, dat hoewel die gevolge van kindermishandeling goed dwarsdeur die twee verhale deurgetrek is, dit net nie moontlik is dat een karakter eers te doen sal kry met ’n sadistiese pa in die eerste verhaal en dan met ’n psigopaat wat sy meisie vervolg in die tweede verhaal nie.

Sy het ’n eerste weergawe van die huidige verhaal geskryf onder die titel Vreemdeling. Dit is ook nie gepubliseer nie en die kritiek was veral dat die vroulike hoofkarakter te sterk is en die buiteaardse wese te maklik huil (die tyd van macho mans wat nooit huil nie en vrouekarakters wat hulpeloos opkyk na die sterk mans). Sy het daarna moed opgegee en haar maar aan haar werk by die Universiteit, haar man, haar kinders en die gemeente gewy.

Na haar aftrede en die dood van haar eggenoot, het die begeerte om te skryf weer opgevlam. Die manuskrip van Vreemdeling is uit die kas gehaal en heeltemal omgewerk na die verhaal Leo, aangesien die wêreld sedert die tagtigs radikaal verander het. Sy het nie veel hoop gehad dat iemand in die manuskrip sou belangstel nie, aangesien dit wetenskapsfiksie is met ’n sterk godsdienstige inslag, maar is deur haar kleinseun, Jaco, wat op 15 self begin skryf, omgepraat om die manuskrip aan Thompson Boekdrukkery te stuur. Sy is baie dankbaar teenoor Thompson Boekdrukkery wat haar manuskrip aanvaar het en bereid is om haar ’n kans te bied.  ’n Derde verhaal broei reeds in haar kop.

Publikasies:

  1. LEO (Thompson Boekdrukkery, 2016)
  2. STELLAMARIE (Groep 7, 2016)