Me. Louise Viljoen – 2015 © Afrifiksie

Louise Viljoen - SkrywersprofielLouise Viljoen is haar naam te danke aan die dorpie Louis Trichardt waar sy gebore is. Haar ouers moes in die ry oppad hospitaal toe op ʼn naam vir haar besluit. Met dié flits die dorp se naam op ʼn padbordjie verby…

Louise kon lees lank voor sy skool toe gegaan het. Haar neus was gedurig in boeke en dit was nie lank nie, toe byt die skryfgogga haar. Sy was skaars agt jaar oud toe wen sy haar eerste prys, ʼn duur Parker-pen, vir ʼn storietjie wat sy oor ʼn kaggelvuur geskryf het.

Op 14 het sy haar heel eerste wetenskapfiksie-verhaal, Vir jou, Cunda, met die hand geskryf – twee dik Croxley boeke vol heerlike avontuur in die ruimte. Haar gunstelingskrywer op daardie stadium was Leon Rousseau. Louise het sy Fritz Deelman-reeks verslind. Fritz Deelman en die skepe van Mars was haar gunstelingboek gevolg deur Fritz Deelman en die Groen Dood. Dit inspireer haar om ook ʼn roman wat in die Amasone afspeel, op 15-jarige ouderdom te skryf. Sy het nogsteeds die handgeskrewe manuskripte.

Lux.Verbi.BM publiseer later jare Louise se geestelike roman Vergifnis. Dié verhaal handel oor ʼn swaardvegter wat in die Colosseum ʼn eed sweer om die moorde op sy mense te wreek, maar dan vind hy hom onverwags op ʼn lewensreis wat hom leer om sy vyande te vergewe.

Louise is vandag ʼn gevestigde skrywer met verskeie skryfsuksesse agter haar naam. Sy wen in 2004 die ope afdeling van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se kortverhaalwedstryd. Sy dig, blog, skryf kortverhale, artikels en lirieke. Sy het al aan die 300 artikels vir verskeie webtuistes geskryf. Sy word ook aangewys as Media24 se 2014 wenner vir vryskut burgerjoernalistiek. Sy werk tans as vryskutskrywer, proefleser, redigeerder en vertaler. Sy doen ook soms spookskryfwerk en help skrywers om hulle manuskripte te ontwikkel.

Thompson Boekdrukkery gee in 2015 Die Roofdier uit. Dis wetenskapfiksie met ʼn sterk menslike element. Louise slaag daarin om wetenskapfiksie só oortuigend oor te dra, dat dit normaal en alledaags voorkom. Afrifiksie hoop om nog baie meer wetenskapfiksie en fantasieverhale deur Louise Viljoen te lees.

WOES webtuiste banierWoes hou Louise Viljoen met trots voor aan die Woes-gemeenskap. 2015 se Woes-Skryf-Woes projek, was Louise se breinkind. Verskeie Woes-skrywers het ywerig aan die uitdaging deelgeneem om ‘n manuskrip te voltooi én in boekvorm te publiseer.

Louise het ook aan die projek deelgeneem en haar manuskrip, Die Roofdier, is deur die uitgewers, Thompson Boekdrukkery, raakgesien. Hulle het onderneem om haar manuskrip in boekvorm en as Eboek uit te gee, en het haar ‘n kontrak aangebied.

Hierdie is voorwaar groot nuus en dien as inspirasie vir ons Woes-lede om die vingers oor die sleutelborde te laat vlieg – mens weet nooit wanneer ‘n uitgewer van formaat besluit om in jou skryfpoging te belê nie!

Woes wens Louise baie geluk met haar prestasie. Ons moedig ook ons Woes-gemeenskap aan om Louise gerus te ondersteun en Die Roofdier hier aan te skaf. Dis ‘n pragverhaal en verdien ‘n ereplek op enige boekwurm se boekrak.

Louise sê sy is baie dankbaar vir elke Woes-lid wat die tyd geneem het om saam te lees aan haar manuskrip-in-wording, en konstruktiewe kommentaar gelaat het wat sy kon toepas. Sy glo sy het haar sukses aan elkeen wat haar aangemoedig het om die verhaal te voltooi, te danke. Sy erken prontuit dat haar boek nie die lig sou gesien het, indien dit nie vir die WSW-2015 projek was nie.

Sy het net lof vir Thompson Boekdrukkery en Afrifiksie wat hulle veral daarvoor beywer om Afrikaanse wetenskapfiksie en fantasie te bevorder. Woes-lede kan hulle gerus vergewis van die baanbrekerswerk wat Thompson Boekdrukkery en Afrifiksie doen. Afrifiksie loods jaarliks ‘n kortverhaalwedstryd spesifiek vir Arikaanse wetenskapfiksie en fantasie skrywers.

Meer oor DIE ROOFDIER

Die Roofdier is Afrikaanse wetenskapfiksie met ’n sterk menslike element.

Die skrywer slaag meesterlik daarin om wetenskapfiksie so oortuigend oor te dra dat dit doodnormaal en alledaags voorkom.

Die skatryk Hector Krige en sy trawante teister vir Bekka Malan, ‘n groenteboer. Hector soek haar plaas en sal enigiets doen om dit in die hande te kry. Daar word op haar geskiet en haar verpakkingstoor brand af. 

Nicholai Craigg daag uit die niet uit op en laat Bekka goed verstaan hy is daar om haar op te pas. Nicholai gee vir Bekka ’n onikssteen wat ‘n hologram-boodskap van haar ontslape ouers bevat. Hulle waarsku haar teen die Roofdier wat op haar spoor is en haar bloed soek.

Watter geheime skuil daar in die berg op Bekka se grond? Hoekom soek Krige haar plaas? Wie en wat is hierdie Roofdier en hoekom wil hy Bekka om die lewe bring? En Nicholai Craigg? Dié aantreklike vreemdeling se oëkleur wissel van die rykste skakering van karamel na gepoetse okerbruin en goud. Die kleure vloei luiweg soos ʼn spiraal inmekaar en dreig om Bekka in te suig. Is hý dalk die Roofdier?

Hierdie spanningsvolle verhaal bevat meer as een kinkel in die kabel. Dis ’n móét lees vir enigiemand wat hou van stories wat anders is as die gewone.

Uittreksel uit DIE ROOFDIER

Haar asem stol in haar keel. Nicholai hang in die lug. Doer bo. Moeiteloos. Gewigloos. Asof dit die natuurlikste ding op aarde is om te doen. Hy word omring deur ʼn halfdosyn van die eteriese wesens. Hulle lang hare en die pante van hul klere waai grasieus rond en vorm ʼn raam om hulle. Die wesens hou hande vas en vorm ʼn kring om Nicholai. Hulle beweeg stadig in die rondte. Singend.

Suiwer, meesleurende klanke wat in toonhoogte wissel, vul die enorme grot. Eers saggies, rustig en nie-polsend. Dan swel die volume van hul stemme en die tempo tel op. Bekka het ʼn groot waardering vir klassieke koormusiek en luister graag na opnames van veral seunskore wat in die wêreld se grootste en bekendste sale en katedrale optree. Die klanke wat sy egter nou hoor, het geen gelyke op die Aarde nie.

Hoendervleis slaan op haar uit. Dis asof die frekwensies op ʼn diep, emosionele vlak met haar kommunikeer. Sy kan nie enige woorde of herkenbare taal uitmaak nie, onderskei net die klanke. Helder, soet en absoluut bo-aards in skoonheid.

Die Bewakers beweeg al vinniger om Nicholai soos wat die volume van hul stemme na ʼn crescendo groei. Hulle buitelyne vervaag en hulle word ʼn spinnende bal. Bekka knip haar oë. Nicholai hang steeds doodstil te midde van dit alles. Selfs op hierdie afstand kan sy sien hoe weerlig in sy oë blits. Hy hou meteens sy hand op. Alle beweging en klank staak onmiddellik. Die Bewakers hang nou doodstil om hom. Mens kan ʼn speld hoor val.

Dan, asof hy ʼn bevel gegee het, reik hulle na hul swaarde en trek dit uit hul skedes. Hulle hou die vlymskerp wapens voor hul uit. Die punte raak bo Nicholai se kop in ʼn saluut. Hy maak ʼn klein beweging met sy hand en die wesens reageer blitssnel. Toe Bekka weer kyk, hang hulle op verskillende plekke in die enorme grot. Dis duidelik dat Nicholai hulle op ʼn gereedheidsgrondslag geplaas het. Hulle groot, donker oë beweeg soekend rond en bespied elke skadukol vir ʼn moontlike bedreiging wat daar mag skuil.

Resensie: Die Roofdier

Louise Viljoen beskik oor die uitsonderlike gawe om die karakters in haar Afrikaanse wetenskapfiksieverhaal, Die Roofdier, te laat leef. Sy beeld die interaksie tussen Bekka, parmantige jong eienares van ‘n plaas met ‘n geheim, en die misterieuse Nicholai uitstekend uit, en verweef gemaklik die alledaagse met die buitengewone.

Viljoen benut die stryd tussen goed en kwaad as sentrale en deurlopende tema. Sy anker die verhaal op ‘n tradisionele plaas en betrek lede van die gemeenskap om verdere geloofwaardigheid aan haar verhaal te verleen. Tannies met koeksisters, melktert en gemmerbier skep ‘n gesellige atmosfeer, vanwaar Viljoen oortuigend beweeg na bonatuurlike gebeure. Sy gebruik Zatopek, Bekka se oom en befaamde wetenskaplike, om hierdie gaping oortuigend en ongedwonge te oorbrug. Die verhaal ontvou gemaklik, sonder om die leser met los drade en onopgeloste kwessies te laat.

Konfliksituasies in die verhaal word oortuigend hanteer en lok die leser voortdurend om verder te wil lees. Daar skort niks met die skrywer se verbeelding nie en sy skets ongewone gebeure, wesens en situasies oortuigend en met gemak.
  
Die Roofdier is ‘n spanningsverhaal met ‘n kinkel en boei die leser van begin tot einde. Viljoen vestig haar beslis in hierdie genre as skrywer om dop te hou. Lesers kan hulself regmaak vir ‘n spanningsvolle en dramatiese leeservaring, met komiese oomblikke en selfs romanse.

Carol Williams
Kreatiewe Bestuurder
Woes.co.za

Lesersopinie: Rachelle du Bois

Die Roofdier deur Louise Viljoen het my laat regop sit van opgewondenheid. Hier is uiteindelik ‘n wetenskapfiksieverhaal in Afrikaans wat daarin slaag om die menslike element so oortuigend oor te dra dat die bo-aardse gebeure as gevolg daarvan doodnatuurlik voorkom.

Dis die opwindende en spannende verhaal van Bekka, ’n groenteboer, wat deur middel van ’n hologram-boodskap gewaarsku word dat die bose Roofdier agter haar bloed aan is. Daar is ook die baie geheimsinnige verskyning van Nicholai, die aantreklike vreemdeling met die vinnige motorfiets, wat hierdie leser se nuuskierigheid behoorlik geprikkel het. Uiters vreemde dinge gebeur in die berg op Bekka se plaas. Dan is die aartskelm, Hector Krige, ook nog agter Bekka se plaas aan, en wil hy dit ten alle koste inpalm vir sy eie gewin.

Dis ‘n boek wat lesers nie maklik sal neersit nie, want dit hou die aandag tot op die einde. Dis kragtig en baie mooi geskryf. Hierdie verhaal het my lank nadat ek dit gelees het, nog bygebly. Ek voorspel groot dinge vir hierdie skrywer vorentoe.

Kontak Louise Viljoen by freelancewriter@truewan.co.za vir hulp met die taalversorging en ontwikkeling van u manuskrip.

WOES SKRYWERSFOKUS: Louise Viljoen

Louise Viljoen, die mens en skrywer

Louise het al nagenoeg 300 insiggewende artikels oor verskeie onderwerpe gepubliseer op webtuistes en in gedrukte media. Sy het ’n onderwys en teologie agtergrond en beskik ondermeer oor ’n diploma in Comprehensive Writing wat sy deur The Writing School te Howick behaal het.

Sy proeflees, redigeer en vertaal manuskripte op ’n vryskutbasis. Sy is ook beskikbaar as vryskutskrywer. Sy skryf ondermeer ook resensies, en omslagaanbevelings vir boeke sowel as materiaal vir webjoernale. Dis haar passie om voornemende skrywers by te staan met manuskripversorging en -ontwikkeling. Kontak dus vir Louise gerus per vonkpos by freelancewriter@truewan.co.za om te verneem hoe sy u behulpsaam kan wees met die taalversorging en ontwikkeling van u manuskrip.  

Louise was voorheen as skoolhoof verbonde aan ’n privaatskool. Sy het ook vir hoërskoolleerders klas gegee en het dit veral geniet om opstelle na te sien. Onder haar leiding het die leerders hulle eie skoolkoerant die lig laat sien. Sy het van die skool se beleide opgestel sodat dit aan UMALUSI se akkreditasie vereistes kon voldoen.

Louise tree op as beoordelaar vir kortverhale (2006) en gedigte (2007) tydens die All Africa Student Convention. Een van haar leerders verwerf goud met haar gedig by die International Student Convention wat jaarliks in die VSA aangebied word. Louise tree ook vir twee opeenvolgende jare by ’n skou op as beoordelaar van kortverhale en gedigte.

Louise bring ’n skryfklub en leeskring op die been en bied kreatiewe skryflesse aan vir kinders en volwassenes. Van die lede se werk word gepubliseer. In 2004 wen Louise die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se kortverhaalwedstryd. Een van haar leerders wen later die junior afdeling van die BSV se kortverhaalwedstryd.

In 2005 woon sy ’n liriekskryfwerkswinkel by wat deur Stef Kruger aangebied word. Christa Steyn het Louise se werk ondermeer vergelyk met dié van Koos Doep. In 2006 publiseer Lux Verbi.BM haar geestelike debuutroman, Vergifnis, wat handel oor ’n swaardvegter wat in die Colosseum ’n eed sweer om die moorde op sy mense te wreek, maar dan vind hy hom onverwags op ’n lewensreis wat hom leer om sy vyande te vergewe.

Louise se artikels, kortverhale, gedigte en foto’s is al in verskeie publikasies gepubliseer. Sy het ondermeer al vryskutwerk gedoen vir Eduwrite, Publishing World SA, Kahuna Mobility Solutions, Skeppend Skryf, en verskeie private individue en instansies.

Louise is in 2014 aangewys as die wenner van Media 24 se vryskut burgerjoernalistiek kompetisie. In 2015 publiseer Thompson Boekdrukkery haar wetenskapfiksie verhaal, Die Roofdier.

Uittreksel uit Afrifiksie se onderhoud met Louise

Wat is die grootste les wat jy al geleer het wanneer dit by die skryf van wetenskapfiksie en fantasie kom?
Jou lesers is mense. Jou storie moet ‘n sterk menslike element bevat. Lesers moet iets van hulleself in jou karakters herken – slegs dán kan wetenskapfiksie werklik geslaagd weergegee word. Raak ’n leser se emosies aan en hy sal weer van jou werk wil lees.

Dink jy daar is ‘n toekoms vir wetenskapfiksie en fantasie in Afrikaans?
Ek dink beide genres huiwer op die rand van baie groot dinge. Ek dink enige skrywer wat sy sout werd is, behoort hom te posisioneer om voordeel te trek uit die mark wat, volgens my, net groter gaan word.

Ons kort oorspronklike en vreesloos-verbeeldingryke wetenskapfiksie- en fantasieverhale wat in Afrikaans geskryf word vir die Afrikaanse leser.

Ons kort stories wat die leser moeiteloos buite sy ervaringsveld en buite sy begrip van die vervelige en voorspelbare hier en nou sal neem.

Ons kort stories wat die leser op mallemeule reise kan neem na ander wêrelde en hom kan voorstel aan diegene wat nie soos hy is nie, maar wat tog gekonfronteer word, soos hy, met universele vraagstukke en probleme.

Ons kort stories wat oop-oë droom en ‘sê nou maar’ weer aanvaarbaar sal maak.

Wetenskapfiksie en fantasie laat die skrywer toe om buite die raamwerk van vooropgestelde idees te funksioneer. Dit laat die skrywer toe om te rebelleer teen die enigste en einste realme wat aan hom voorgehou word as die werklike en die aanvaarbare. Dit verskuif grense. Verder moedig dit die skrywer én leser aan om ontdekkers te wees en die woord ‘onmoontlik’ uit hul woordeskat te haal.