Mnr. Gerrit van Dijk – 2014 © Joe Botha

Foto - Gerrit van DijkGerrit van Dijk is op 5 Mei 1969 in George gebore. Hy en sy jonger suster word groot op die boomryke natuurreservaat Bergplaas, noord van Wildernis en was tot sy 11de jaar ’n leerder aan die Laerskool Bergplaas. In 1981 ruk sy pa se verplasing na die boomlose Swartland hom uit sy vreedsame woudbestaan en tot 1984 leer hy aan die Middelbare Skool Darling, waarna hy sy hoërskoolloopbaan in 1987 aan die Hoërskool Jan van Riebeeck voltooi.

Hy doen sy diensplig oor die volgende twee jaar by die Verdedigingshoofkwartier in Pretoria. Aan die einde van 1989 bekeer hy hom, iets wat die aanslag op sy eerste wetenskapfiksieroman, Ondulan, grootliks verander het. In 1990 skryf hy hom in by die Pretoria Technikon om sy droom na te jaag – om ’n film te maak uit die idees wat hy al sedert sy tienerjare ronddra, en wat uiteindelik Ondulan sou word. Hy skop egter ná ses maande op. Intussen doen hy deeltyds beligtingswerk by die Staatsteater en verwerf in 1994 ’n Nasionale Diploma in Beeldende Kuns met Skilderkuns as hoofvak. In dié tyd woon hy in die Jeugsentrum naby Kerkplein en staan onder sy vriende bekend as “Space”.

Nadat Van Dijk afgestudeer het, kry hy werk in ’n skulpwinkel in Gordonsbaai, en daarna by Federated Timbers, waar sy bosboukennis nuttig te pad gekom het. Hy ontmoet sy vrou, Marita Henning, in 1997, kort nadat hy van Gordonsbaai na die Strand verhuis het. Hulle verklaar hulself in 2001 getroud, maar besluit in 2008 op ’n informele trouseremonie. Die twee het geen kinders saam nie, as gevolg van gewetensbesware aan sy kant. Oor of hy kinders het, het hy die opmerkings gemaak: “Om gebore te word is die ergste ding wat met ’n mens kan gebeur.” En vroeër: “Ek is nie so wreed nie.” Marita het wel twee kinders uit vorige huwelike.

Van die laat 1990’s tot 2010 woon hy in die Helderberg-kom, maar verhuis in Oktober 2010 uiteindelik terug na die stilte en afsondering van Bergplaas, waar hy grootgeword het.

2011 - Ondulan - Gerrit van DijkVan Dijk is bekend vir sy twee wetenskapfiksieromans, Ondulan (CD-verwerking, e-boek via Xlibris-uitgewers en uiteindelik Thompson Boekdrukkery, 2011) en T!nax’u (Thompson Boekdrukkery, 2012), waarin hy Christelike hoëkonsep-wetenskapfiksie met bekende historiese milieus verweef.

In Ondulan, waaraan Van Dijk meer as 23 gewerk het, ontmoet ons die ruimteverkenner Taéll Adanaii Shanidar, wat van ’n missie terug Aarde toe geroep word nadat sy ma en broer in ’n ernstige ongeluk betrokke is. Die gegewens van die ongeluk word egter streng geheim gehou en die enigste een met antwoorde is die An-Jori van die Shanidar-familie, Aregan Shanidar, wat navorsing doen oor die herstel van verlore spesies vir die planetêre ruimteverkenningsliggaam ASTRA.

Die navorsing behels die herwinning van uitgestorwe spesies se DNS deur middel van reise na die verlede, voordat die spesies in die Derde Wêreldoorlog, oftewel die Slag van Armageddon, verlore gegaan het. Daar is egter ernstige gevare hieraan verbonde, omdat die DNS net beskikbaar is in die tyd voor die Slag, toe Lucifer nog nie gebonde was nie.

Die omslag, deur Van Dijk self, is gedoen in die styl van ’n filmplakkaat, soos wat Van Dijk Ondulan nog altyd gesien het.

2012 - T!Nax'u - Gerrit van DijkVan Dijk se tweede roman, T!Nax’u, het agt jaar geneem om te voltooi. Die gebeure in T!Nax’u (’n opgemaakte Khoi-San-woord wat dui op ’n onbekende, maar dreigende onheil) speel hulle af in 2186, veertien jaar ná dié in Ondulan.

Adanaii Shanidar is bevorder tot kaptein van ASTRA se Eksodimensionele Verkenners. Wanneer ’n verkenner ’n skeur in ruimte-tyd ontdek wat lei na ’n parallelle wêreld wat lyk soos die Karoo, word dit duidelik dat ASTRA moet ingryp om die wurmkolk te sluit, omdat demone die skeur teoreties kan gebruik om ASTRA se hede binne te dring. In die Suid-Afrikaanse hede duik vreemde vondse uit verskillende historiese tydperke in die Karoo op, en ’n span van drie wetenskaplikes wat die verskynsel ondersoek, bevind hulle skielik in ’n wêreld waar ’n groep afstammelinge van die Boere-rebelle, bekend as die Wit Jagters, steeds wag op die profetiese terugkoms van hul aartvyand – die Britse koloniale magte. Shanidar se opdrag om die skeur te sluit, die terugkeer van die Britte te keer en te verhinder dat die bose demone vergestalting kry, word amper gepootjie deur ’n gravitasiekolk wat die verkenners se uitweg huis toe afsny.

Die konsep vir T!Nax’u se voorblad beeld die Karoolandskap as ’n gekraakte spieëlbeeld uit wat die onderskeie dimensies voorstel. Die onveranderlike landskap lyk dieselfde of dit nou 1886 of 2186 is, wat die vervloeiing van ruimte en tyd uitbeeld. Volgens Van Dijk was hy nie tevrede met die uitbeelding daarvan in sy skilderkuns nie. Dít, sowel as finansiële oorwegings, het hom genoop om ’n ander aanslag te neem.

Van Dijk is tans besig met ’n derde boek in die reeks, en was ten tyde van hierdie skrywe omtrent halfpad daarmee. Die werkende titel van die derder boek is Dwaalster, en hy beoog ’n omslag soortgelyk aan dié van T!Nax’u om aan te dui dié twee pas by mekaar.

Oor sy invloed op die Afrikaanse wetenskapfiksie is Van Dijk self beskeie en sê daar is nie juis ’n invloed om van te praat nie. Objektief gesproke het hy egter ’n wesentlike eerste tree gegee om die subgenre van Christen-wetenskapfiksie in Afrikaans te vestig, en wel in twee leesbare, dog hoëkonsep-wetenskapfiksieromans wat in gees en vlees Christelik van aard is, waar dit in minder bekwame – en tydsame! – hande alte maklik in godslaster sou kon verval het.

Bronne:

  • Onderhoud gevoer met Van Dijk, 30 Oktober 2014, via vonkpos.
  • http://afrifiksie.com/n-onderhoud-gevoer-met-gerrit-van-dijk/
  • http://af.wikipedia.org/wiki/Gerrit_van_Dijk
  • http://af.wikipedia.org/wiki/T!Nax’u
  • http://www.georgeherald.com/news.aspx?id=58529&h=Van-hardeware-tot-skryf-en-skilder
  • https://www.youtube.com/watch?v=LUEdJUlUTPg