Wille Martin

7 November 1934 – 25 Junie 2016

Daar is regtig min skrywers van Afrikaanse wetenskapfiksie wat so ‘n indrukwekkende bydra gemaak het tot hierdie genre as Wille Martin – om die waarheid te sê, ek sal lank moet dink om  iemand van haar gelyke te vind.  En die rede hiervoor is nie dat daar nié ander skrywers is wat ongelooflike verhale geskep het nie, maar omdat dit so totáál onverwags is om dit van haar af te ontvang.  En, nee – dis nie omdat sy ‘n vrou is nie, maar eerder omdat sy eintlik glad nie in hierdie genre geskryf het nie.

Maar laat ek liewer verduidelik.  Wille was die oudste kind van ‘n ouerpaar wat beide onderwys gegee het (die naam “Wille” was haar ma se nooiensvan).  As kind word sy groot te gedurende die Tweede Wêreldoorlog, en gaan studeer sy uiteindelik aan die universiteit in Bloemfontein waar sy ‘n B.A.-graad ontvang.  Hierdie kwalifikasie gee haar die geleentheid om as joernalis te werk by Die Vaderland en Die Transvaler – twee koerante van haar tyd.

Sy begin vroeg reeds skryf en haar eerste boek verskyn in 1960.  In 1961 skryf sy ‘n relatief onbekende wetenskapfiksieboek, Die Skat van die Groen See, wat handel oor vreemde gedrogte wat in ‘n sekere see aangetref word en van die avonture van die mense wat daarmee te doen kry.

Sy begin al meer boeke skryf, en gou vind sy haar passie – romantiese werke.  Gedurende haar leeftyd skryf sy meer as 200 boeke, en vanaf 1960 tot die jaar 2000 publiseer sy gemiddeld vier boeke per jaar – soms soveel as 10 in ‘n enkele jaar.  Maar die meeste hiervan is romanties, met geskiedkundige romans en kinderstories hier en daar.

Maar in 1981 verskyn Planeet 3, die verhaal van ‘n vurige jong vrouekaptein van die Aarde se slagvleuel – die Walkure.  In 1982 kom die volgende twee, naamlik Atlantis en Narcissus om die reeks van drie te voltooi.  Hierdie drie boeke is eintlik nie drie verhale nie, maar een fantastiese verhaal (en moet liefs in die regte volgorde gelees word).  En hierin lê die ongelooflike.  Wille, ‘n joernalis en taalkundig opgeleide persoon kom uit die bloute en skep een absoluut ongelooflike toekomsverhaal met verstommende elemente van wetenskapfiksie daarin.

En dis nie al nie!  Asof Wille ‘n kristalbal gehad het, vertel sy van die baie sosiale verskynsels wat ons vandag eers sien.  Sy wys op die gevare van totalitêre stelsels wat gedoem is tot hul eie vernietiging.  Sy wys op die dwaasheid van ‘n feministiese denkwyse waarin die rol van die man as sosiale wese nie na waarde geskat word nie (en soms gesien word as die oorsaak van feitlik alles wat fout is in ons wêreld) – en wys meesterlik hoe ‘n balans tussen mans en vroue se belange die enigste werkbare uitweg is – en sy verken die diepe waarheid dat elke utopie eintlik maar ‘n donker distopie is wanneer dit van naby beskou word.

Wille gebruik kunsmatige intelligensie in die verhale, toon op die dilemmas van kloning en genetiese modifikasie, sy eksperimenteer met tydreise en reise deur hoër dimensies, gebruik androïde en robotte – en speel met die idee dat ons in ‘n reuse matriks lewe waarin ons nie regtig ons eie lot kan ontsnap nie.  Die verhaal speel af op bekende en vreemde planete, in die ruimte en onder water.  Ons kry te doen met buiteaardse wesens, maar aan die einde bly die mens steeds die grootste monster en die enkel grootste bedreiging vir sy eie (of haar eie) voortbestaan.

En dan, getrou aan die aard van al Wille se werke, vind dit alles plaas binne die kokon van ‘n romantiese ontdekking en intrige – en is liefde en die behoefte aan iemand om die lewensreis meer mee te maak, die belangrikste en sentraalste element.

Bravo, Wille! Bravo!  Onverbeterlik.

Vir iemand sonder dié tipe opleiding en nie juis haar hoofbelangstelling nie (wetenskapfiksie het minder as 1% van haar werke uitgemaak) is dié storie – hierdie verhaal van Kaptein Kristin, ‘n absolute juweel in die skatkis van Afrikaanse wetenskapfiksie.

In 1985 maak Wille nog een verdere bydra tot die fantastika in Afrikaans, naamlik met haar fantasieverhaal – Die Towerkat.

Ek kyk na die foto van Wille bo-aan die bladsy, en voel hartseer dat die tyd ook vir haar moes aanstap.  In my verbeelding bly sy altyd die jong vurige en passievolle vrou op hierdie prentjie van haar boek Sprinkaanvrou.  Dít is Wille Martin – die Kaptein Kristin van die Walkure…

 Uittreksels uit die Kaptein Kristin-reeks van haar boeke volg:

PLANEET 3 (Klub Saffier Uitgewers, 1981)

1981 - Planeet 3 - Wille MartinKaptein Staal, luitenant Kosmo, Alex Brutus en die rekenaar Narcissus se ruimtetuig spring uit sy hiperdimensie en hulle word gedwing om op die derde planeet van ’n vreemde sonnestelsel te land. ’n Planeet wat omtrent net uit water bestaan met lewende wesens! Die Aarde. Kaptein Kristin van die Walkure kry opdrag om na die noorde te gaan om ’n opstand onder die mans, wat in kampe gehou word, te gaan onderdruk. Vandat die vroue, baie eeue gelede, die aarde aangeneem het, word mans nie toegelaat om te regeer nie. Hulle word net vir teeldoeleindes gebruik en die gedugte leer wat die Aarde moet beskerm teen aanslae uit die ruimte, bestaan uit vroue. Amesone-tipe-vroue, wat mans as baie lae wesens beskou. Toe die vroue-soldate in die Noorde kom, vind hulle tot verbasing dat die mans aangevoer word deur vreemde mans van ’n ander planeet. Die vreemdelinge word oorrompel deur die Walkure en gevange geneem. Gou besef Kaptein Kristin en haar medesoldate dat hierdie mans nie soos hulle mans is nie. Hulle is groot en sterk en gewoond daaraan dat vroue hulle onderdanig is. Kaptein Staal en sy manne besef dat hulle in die vroue van die Aarde se mag is. Hoe gaan hulle ooit van die planeet wegkom? Maar dan vind hulle ’n uitweg. Waarom nie hierdie vrouens gebruik nie? Waarom nie hulle gevorderde tegnieke gebruik om hulle skip te herstel nie? ’n Vrou bly maar ’n vrou, al is sy ook ’n Amesone… hulle raak net so maklik verlief soos ’n gewone vrou. Maar waarmee hulle nie rekening gehou het nie, is dat hierdie vroue self besluit het om die manne van Atlantis hier te hou vir hulle eie doeleindes.

ATLANTIS (Klub Saffier Uitgewers, 1982)

Die manne van Atlantis, Kaptein Staal, Alex Brutus, Kosmo en Flynn, is in ’n penarie. Hulle het van die aarde af ontsnap, en ’n viertal van die beeldskone Aardse vlieëniervroue met hulle saamgeneem. Te laat moes hulle uitvind dat daar ’n komplot teen hulle was, maar intussen het hulle Atlantis, die manne se tuisplaneet, in sig gekry toe die ding begin skeefloop. Om ’n reis van soveel ligjare te kan aflê, moes die ruimteskip, Narcissus, in ’n ander dimensie spring. Dit beteken dat hulle, weens ’n fout in die meganisme van hiperdimensie, nie alleen in die ruimte gereis het nie… maar ook in tyd! Die Atlantis waar hulle wil land, lyk nie soos die een wat Staal-hulle verlaat het nie – dit blyk dat hulle moontlik miljoene jare terug in tyd beweeg het. Terwyl hulle op die planeet vertoef, word Kristin deur vreemde mans, met die gelaatstrekke van katte, waarin Alex Brutus tot die besef kom van hoe sy liefde vir hierdie beeldskone, jong meisie is. Die vraag is net: Gaan hy ooit betyds wees om sy liefde aan haar te verklaar? Gaan hy haar ooit opspoor in die doolhowe van tyd en ruimte – en hoeveel daarvan is fisiese ruimte, of bestaan dit alleen maar in die verbeelding?

NARCISSUS (Klub Saffier Uitgewers, 1982)

1982 - Narcissus - Wille MartinKaptein Kristin is in die knyp en die slag besluit Alex Brutus en die ander manne van die rekenaarskip, Narcissus, om die strydbyl te begrawe en haar te red, waar sy ook al mag wees. Om te wete te kom waar sy haar bevind, is moeiliker as wat hulle kan raai want sy het in die hande van die gewetenlose Natan geval, ’n sinistere wese wat skynbaar alles weet wat in die heelal aangaan.  In hul pogings om Kristin te vind, beleef Staal, Kosmo, Flynn en Alex, sowel as die kryger-vroue van die Aarde, allerhande opwindende, fanatiese avonture. In die plek van Kristin, is die androïed, Andri, Kristin se dubbelganger, ’n toevoeging tot hul geledere.  Hulle beweeg in die ruimte sowel as tyd en bevind hulle in een stadium terug op hul eie planeet, in hul eie tyd, waar hulle tot hul skok ontdek dat daar net een lot op arme Narcissus wag – en dit is die skrootwerf!  Hulle moet weer eens vlug… en Kristin?  Ondergaan sy ondraaglike foltering, soos Alex-hulle vermoed?  Inteendeel. Natan, aantreklik, wêreldwys en magtig, is vasberade om haar met elke slinkse set waaroor hy beskik, sy eie te maak, en soms lyk dit asof Kristin van Alex wil-wil vergeet en aan Natan toegee…