T!NAX’U – Gerrit van Dijk

T!Nax’u

2012 © Gerrit van Dijk

Thompson Boekdrukkery

UITTREKSEL (Onbekend)

Been kraak met ‘n vlak splinterslag eenkant in die grot, waar lig van ‘n bleekgeel vuur iewers ‘n krom skadu teen die rotsmuur kaats.

Vuil kleierige vingers hark die eenvoudige stuk klipgereedskap op, waarop die ander hand met gehawende naels tussen die vars beensplinters insteek.  Gehurk, met byna sy hele lyf tussen sy knieë, bring die seningrige figuur een van die driehoekige splinte voor sy oë-

Grysgroen oë.

Buiten vir die diervel oor sy skouers, bedek net ‘n kru gebreide leervel sy middellyf, met dun riemrepe oor sy heupe wat die voor- en agterpante met mekaar verbind. Van onder sy knieë  strek leer lapwerk aaneen om sy bene en voete. Die groot diervel oor sy rug, word gebreek deur sy lang donker hare wat met vetterige rieme saamgebind is in ‘n enkele stomp stert wat die bo-helfte van sy ruggraat bedek. Nóg rieme, donker gevoer van diervet, spiraal om sy polse, waarmee ‘n eenvoudige lawaglas mes aan sy linker voorarm klou.

Die beensplint rol behendig tussen sy vingers, voordat hy omkyk en sy fokus van die splint af verskuif na die vuur voor die rotswand in die agtergrond.  Dan staan hy met ‘n draai op, en tree in sy skraps leermondering na die ander figure by die vuur-

Boesmans, elkeen bedek met ‘n velkaros soos hy. Drie tengerige halfnaak mensies, skrander, seningrig en bruin, hurk opgehoop by die vuur, waar een van ‘n paar klipspringers wat hulle vroeër platgetrek het, in die goue gloed van die vuur verwerk word. Die reuk van bosbrand sit saam met hulle, van die kromgedraaide takkies in die vlamme.

“Probeer dié een. Hy’t mooi gebreek,” laat weet Hanixab in sy Khoi-San dialek wat fluks klap, en gaan sit by hulle langs die vuur,

“Anders sit jy nog hier en kerwe tot dagbreek toe!” beduie hy vol primitiewe entoesiasme. X!am kyk vinnig strak na hom, en neem die beensplint. Hanixab beoordeel weer die happerige breuk saam met X!am oor sy skouer-

“Sien? -Loop platter vorentoe…”

X!am se vingers is taai van die bloed van die afgelope gewoel met die klipskerf. Deur die beenfragment, sien Hanixab die been se filamentige struktuur teen die smeulende vuur, waar Kabé en Horeb ook sit en vleis bewerk.

Hanixab vind hul reuk aangenaam, die reuk van die nabyheid van ander-

Houtrook, stroois. Stowwerig, soos die reuk van die son op nat biesiegras, die son wat die hele jaar al in hul donker velle intrek en vrystel as dit nat word.

X!am kry die bok se vel tussen sy voorvingers beet, en trek die happerige beensplint oor die dun vlies wat die vel en die rooi vleis van mekaar skei. X!am lyk verras, en kyk beïndruk na Hanixab. Sy grysgroen oë ontmoet met X!am se vlootblou irisse.

“Jy het ‘n manier van been laat breek wat die kant happerig laat, met die buitenste laag wat dun en ver en skerp op sy eie aangaan.” Hy glimlag beïndruk,

“Nie sleg nie… Jy moet my leer.”

Horeb glimlag van oorkant die vuur vir hom. Met Hanixab se slag op die jagveld destyds, het hy gou hul respek verdien, en moes hy versigtig wees om nie te veel uit te blink en as ‘n bedreiging beskou te word nie. Sy gevorderde, geheime kennis van verskeie materiale het hom uit die staanspoor in ‘n ander klas geplaas. Sou hulle hom uit die stam verban, was dit klaarpraat, en sou hy op sy eie moes regkom totdat hy terug kon keer na sy punt van oorsprong. -Al troon hy meer as ‘n kop bo elkeen van hulle uit. Want hy weet- So passief en vredeliewend as wat hulle is, so gehard is hulle wette, en sal hulle selfs bloedfamilie wreed straf, sou hy jag waar hy nie mag nie.

Hy, wat hulle Hanixab gedoop het, is nie een van hulle nie. Hy lyk anders as hulle, en ís baie anders as hulle. Báie anders.

Voor sy aankoms het hulle nog nooit ‘n wese soos hy aanskou nie, met hare soos die stert van ‘n wildebees, sy vel lig soos die rug van ‘n steenbok as dit met die stowwerige sononder wei. Sy neus vir hulle, herinner aan bek van ‘n fisant, oë gekleur deur die bosse in die veld, en ‘n hele kop langer as hulle.

‘Man wat geval het uit die Lug’, of-  ‘Kind van die Son’.

Hanixab knak sy een knie onder hom in om te lê, en maak homself gemaklik op die rotsvloer, sy kop deur sy elmboog gestut. Trots op sy werk, verlustig Hanixab hom in X!am se bewondering vir sy jagtersinsig.

Toe hulle hom vier jaar gelede opgespoor het op die vol rivieroewer, was daar nie ‘n spoor van hoe hy daar gekom het, te vind nie.

Dit was net na die somervloede, en die riviersand van die oewer was op plekke byna ‘n honderd treë wyd. Tog het hy daar gelê asof hy versigtig met ‘n tou van die hemel af neergedaal het, en gaan lê het. Nie eens om sy voete was daar ‘n dieper indruk in die sand om te bewys dat hy eers gestaan het, en toe gaan lê het nie.

Én hy was droog. Geen sand was op sy vel om aan te dui hy het daarheen gespoel nie. Die leer aan sy persoon het ook geen sand, of selfs takkies, of dryfhout van die vloed bevat nie. Hy was net daar.

In die agtergrond, oor die flikkering van die beskeie vuur, dwarrel sneeuvlokkies buite voor die plat skewe bek van die grot neer.

Met vingers taai van die bloed, gaan X!am doodluiters voort om die bok se vel versigtig los te keep van die vleis. Die vuurtjie is skraps, want die aand is vroeg en die streng afgemeette warmte word gerantsoeneer deur die hout wat hulle in die sneeu tussen die rotse kon kry, tot wanneer hulle volgende oggend weer in die pad val na die res van die stam.

Dan hoor hulle ‘n stemme, en beweging by die grot se bek, waarin twee skadu’s in, gebuk orent kom. Dis Uso en Tama, en hulle het nóg hout by hulle! Dít sal die nag ‘n bietjie makliker maak.

Kabé lê sy klipskerf klipmes eers tussen die klipspringer se vel en vleis neer waar hy besig is. Die bok is al koud, en geen stoom trek meer uit die vleis uit op nie.

Net voor die sneeu begin uitsak het, kon X!am ‘n skoot inkry op die klipspringer! Nie sleg nie, want dit kos lank stilsit tussen die kranse sonder om werklik wind-op te wees.

“Ons moes ver soek vir dié hout,” wasem Uso terwyl hy op sy knieë by die vuur neersak, en die bondel hout van sy elmboog oor sy skouer los. Die hout is droog, en vleg kronkelend soos wingerdstompies. Clanwilliam-seder.

Oor Tama se skouer hang ‘n leersak van die volledig-omgekeerde vel van ‘n steenbok. Alles wat hulle nodig kan kry vir die jag, en noodsaaklike herstelwerk, is daarin.

Uit die vuur kom ‘n klap.

Die leersak word van sy skouer afgetel en neergesit. Saam is almal van hulle nou ses, en die twee bykomelinge gaan sit haastig om warm te word. Die knak van die knieë, en die insak van die heupe tussen die knieë, is een beweging asof elkeen se agterent die klip kan tref.

Uso hurk gretig by die vuur, en steek sy growwe hande byna ín die vlamme. Enkele mieliebaardjies rank in los oneweredige klossies uit die spits van Tama se ken. Die parmantige korrel-oë glim hard en byna meganies in die vlamme se gloed, bo die hoë weglê wangbene soos die heupe van ‘n maer bees. Toe sy hande begin wollerig voel, trek Uso sy opgaarsak van hom af, draai sywaarts op sy boude, en trek sy leersloop van agter hom nader.

“Julle kon veldkos ook kry!” glimlag Horeb,

“Wat die veld vir ons weggesteek het van die winter!” Tama skuif die sak van hom af weg vir die ander om ook van te kry, en sê sonder veel inleiding-

“Daar is donder agter die berge.”

Hanixab steek vas terwyl hy sy hand uit die sloop uittrek, gevul met glasige rooi- en teekleurige bessies. Dis nie net verrassing wat hy probeer wegsteek nie, maar iets soos skrik. Ambisie-

Meteens vul elektroniese byskrifte in wiskundige hiërogliewe, Hanixab se aansig op die binnekant van die grot.

Nou is elke lid van sy jagspan bedek met ‘n amberkleurige waas waarvan die fyn elektroniese weeftekstuur in wisselende tempo’s oor hulle rondkruip. Haarfyn digitale kontoertjies bedek uitgesoekte items in die omtrek.

Maar sy fokus swenk na buite, waar sneeuvlokkies yl deur hulle vuur gekleur word-

Die negatiewe spasie in die bek van die grot self, flits beurtelings met verskeie kleure en teksture aan hom, in sy ontleding van die ruimtestruktuur buite. Vir sy makkers lyk dit net of hy met heimwee buitentoe kyk. Dalk is dit vir die breek van die dag…

 “Donder?” frons Horeb. Daar is geen reuk in die lug nie, nog minder druk die lug. Daar is hoegenaamd geen tasbare teken van broeiende onweer nie. Maar vir Hanixab beteken net een ding- Hoop! Hoop om huis toe te kan gaan.

“Ons het dit gehoor netnou. Julle het nie?” vra Uso, sy stem met die kenmerkende heserigheid.

“Nee,” steek X!am verbaas vas terwyl hy eers dink, en ‘n handvol bessies agteroor in sy mond laat instort. Laat-oes bessies.

Hanixab probeer dink, maar die wilde soet kruiesmaak van die bessies bring hom skoon van stryk. Sy behoefte word vervul, en vir ‘n paar tellings oortref dit sy sintuie, waarin al sy ander instinkte rondtas vir gevaar of weersomstandighede.

“Vreemd… Nee, ek het nie,” frons hy by homself terwyl hy ingedagte weer sy hand in die sloop steek,

“Donderweer?”

In ‘n rukkie se stilte, stoot die vuur se sagte dreuning voor die wind buite die grotbek, na vore. Uso se oë tas rond soos hy eers dink,

“Dit was baie naby, asof net agter K!hamuxab, die Eland se skof-”

“-Julle was só vêr?” val hy Kabé in die rede, maar hamer dadelik weer op die onmoontlike-

“Maar kan dit wees? -As dit sneeu?”

Dit kannie donderweer gewees het nie, maar altwee van hulle het dit gehoor! dink Hanixab,

Kannie ‘n poets wees nie. Dis nie hoe hulle is nie. Hulle is jagters en oorlewers- Speletjies is vir om die vuur as almal geëet het. As hy alleen was, miskien, maar drie van hulle eie was saam met hom…

“Nie eens ‘n flits nie,” beaam Tama,

“-Net die kláp,” beduie hy dramaties, die taal onbehendig en traag op uitheemse ore,

“En wip soos ‘n klipspringer- Uít teen die klowe… Die klippe bewe, die dassies is weg, die klipspringers ook. Die voëls is stil-”

“-Maar daar is nie ‘n flits nie!” maak Uso klaar, en Kabé se vingers krul weer om die klipmes om weer te begin keep aan die klipspringer.

“Maak solank ‘n stuk los daar. As ons vir jou moet wag, eet ons wanneer die nag afdop,” por Uso aan. Horeb trek sy klipmes om te begin help, en Kabé kerf met nuwe drif oor die bok se blad-

“Nou vat dan hier-” en die mes begin knaag aan die bok se flank.

Ruwe hale trek tussen die ribbes in asof hy merke op ‘n klip probeer maak. Uso reik verby die vuur, sy voorarm nog klam van die sneeuval, en begin trek aan die los punt wat Horeb losgekerf het. Terwyl hy rem, kerf Horeb aan die basis totdat hy agteroorval op sy bas. Die rou vleis slinger soos rou lewer aan die bok se ledemaat, en hy skuif homself reg om te begin braai.

“Jy’s meer agter daai vel aan as die vleis!” skerts X!am terwyl Kabé nog vleis lossny vir sy koue honger makkers-

“Die vel hou langer as die vleis! Annerdag het jy al vergeet van die vleis, dan dra ek nog wortels in die vel! –Én my kinders sal nog die vel gebruik.”

“Jy sal moet leer vergeet van ‘n vrou as die wild so yl is. ‘n Vrou sien net ‘n man met vleis oor sy skouers!”

“Dit sal maar weer dassies moet wees as dit so aangaan!”

“Ons kannie leë hande terugkeer nie.”

“Leë hande! Ons hét darem die twee klipspringers…” en hy drapeer die rou vleis versigtig oor die kaal kole met ‘n sis wat al harder toeneem,

“Ons behoort élkeen iets te dra. Hoe gaan dit lyk as ses van ons terugkeer met net twee bokke?”

“Torro’kgo! Ons moet Torro’kgo probeer.”

“Torro’kgo is die Haillom se gebied. Ons mag nie daar jag nie.”

“Die Haillom is nie daar nie. Hulle trek noord as dit koud word. Elke winter skuil hulle by die D!Xhaiko. Hulle jag vir húlle om daar te mag bly.”

“Steeds. Dit is die wet.” Die aroma van wild op oop vuur begin smeulend tussen hulle manifesteer.

“Die wet is gemaak toe die wild meer was. Die oudstes het nog nooit saam gesit van toe af nie!”

“Watter wet kan ons breek as ons niemand se jag steel nie?” beduie Horeb vurig,

“Die Haillom het al getrek vandat die son laat begin slaap het!” maar X!am waarsku,

“Die Haillom se dokter is kragtig- Sy Arende sien in die dag, en sy Uile in die nag!”

Hanixab loer tussen die redenaars rond, sy ken gestut op sy gevoude arms, oor sy knieë, met onrus van die jagters se donderslag-praatjies as ‘n drukkende nood in sy oë.

“As hulle uitvind, sal onmin wees tussen ons twee stamme. Ons sal nie vir ons vroue mag haal daar nie.”

“Dán kan ons verduidelik. Sekerlik kan hulle ons nie verkwalik as ons in nood is nie.”

“Dis iets wat eerder kan bly. Dit sal net moeilikheid veroorsaak,” help Hanixab skugter volhou, met sy enigste bondgenoot uit die vyf wat beaam-

“Die ding wat jy praat is ‘n kwaai ding… N’Tau slaan met die kwaai truuk!” Hanixab waai voor sy gesig vir ‘n rookwalm en leuen uit die pad daarvan.

“Ons sal as jagters van formaat gereken word as ons gewaagde wild neem. Hulle sal met ander oë na ons kyk, en nie meer as seuns nie. Ons sal kan vroue neem!”

Hanixab word weer gekonfronteer met die wette van oorlewing waarin verloor nie ‘n opsie is nie. Soos die wêreld waarin hulle hier leef, is mislukking gelyk aan die dood. Daar is nie iets soos probeer nie, want probeer kan vir ‘n nederlaag sorg wat jou kan bybly tot in lengte van dae! –En dié wat dit onthou se lewens met weerwraak bedreig.

“Ons moet saamstaan, want dit is al hoe ons staande kan bly. En om suksesvol te wees, moet ons bly by die wette van ons voorvaders.” Die eerste vet van die vleis drup met ‘n ‘tssss’ tussen die kole in.

“Die wette sal nie aan ons eer besorg nie. Dis die uitvoer van die buitengewone wat legendes gaan maak waaroor ons kinders se kinders gaan praat om die vure. Ons gaan moet saamstaan in die jag, nie by die wette nie. Dit is sáám… dat ons Torro’kgo gaan moet deur!”

“Die breek van die wette kan groot straf bring en vernedering. Of jy kan sterf voordat jy kinders kan hê, om van jou te kan vertel na jou dood. Wat gaan eer jou dán bring?”

“Dan moet ons besluit- Wie gaan die wette neergelê deur die oudstes, gehoorsaam, en wie gaan nie,” druk Hanixab versigtig,

“Om die wette te gehoorsaam wat nie eer gaan bring nie, is die oudstes se nederlaag. Nie joune nie!”

“Hier is wat ons maak- Ons gaan eers náby Torro’kgo-”

“-En hoor wat sê die wind! Ek stem!”

“Dalk is dit nie eens nodig om Torro’kgo deur te gaan nie. Dalk kry ons nog vleis vóór Torro’kgo!”

“Die pad is moeilik. As ons Torro’kgo gaan deur, moet ons voor die tyd al so stap!”

“Torro’kgo-deur ís korter. –Veral met twee bokke.”

“Ons wag tot as dit lig word. Dalk sê die grot ons vannag, oor wat om te doen.”

Die volgende oggend, met die eerste sweempie van dagbreek wat die nag oor die horison begin verbleik, open Hanixab se oë, eerste van die ses karoshopies om die byna dooie vuur.

Flikkerend frons sy oë, al wat uitsteek tussen die lappies dassievelle, ‘n frons van koue, snerpende koue. Soos iemand wat homself isoleer teen vlamme in ‘n gebou, kyk hy vlugtig van onder sy karos rond asof die koue kan brand. Hout!

Hy waag dit om sy hitteborrel te breek, en steek vinnig sy arm uit na die gedraaide takke naby. Die takke is vroeër al kortgebreek om maklik kontak te maak met warm as, en hy lê die houtjies vinnig oor mekaar. Daar is genoeg, en hy laai op. Dan blaas hy vinnig ‘n paar keer, voordat hy vinnig weer wegkruip onder sy velle.

Met die minute later, begin vlamme weer lek aan die verdraaide takkies. Die hopies lê stil. Met die lig van die ontluikende dag wat stadig toeneem, blink die afdraande skoon rotsoppervlak van die grotvloer in ‘n yl palet van aardse pienke.

Kort voor lank, afgeëts teen die oggendgrys landskap van sneeu, rots en klip, staan Hanixab se donker silhoeët afgeëts voor die bek van die grot.

Met sy kop skuins, wig hy homself stewig regop teen die oorhang van die grot met sy arm. Die lug is skoon en oop. Bokant die berge se kimlyn, sit een groot ster soos ‘n deeltjie van die son. Nie ‘n wolkie is in sig nie. Dis ‘n goeie teken-

Wild sal nou uitkom, en hooplik kan hy die jagters oortuig om nie Torro’kgo deur te trek nie. Maar is dit nie net uit sy eie selfsug nie? Want tussen die kwartsryke laer klowe, is sy sein moeiliker om op te spoor…

Die koue is fantasties, en ontneem byna alle gevoel van sy blootgestelde bene. Hy kry sy staan sodat hy sy velkaros stewig met beide arms om sy lyf kan styftrek. Die lig is nog te flou, maar die dal onder die kranse is plek-plek wit van die nag se sneeuneerslag.

Agter hom, lê vyf hopies om die vuur plat onder die velkarosse. Dit gaan ‘n pragtige oop dag wees- ‘n Goeie dag vir ‘n tuiskoms, feesvier en eet! Maar watter ‘tuis’?

Later sit die manne al regop terwyl die res van die klipspringer voorberei word, voordat hulle die grot ontruim vir die daglange tog terug na die stam.

Terwyl hulle nog sit en verstand kry agter hom, staan Hanixab weer in die bek van die grot en uitkyk oor die rotsige woestynlandskap soos dit skilderagtig uitsteek deur die ligte sneeubeslag. Sy oë is sonder veel inspanning skrefies getrek, sonder dat dit enige invloed het op die trek van sy  mond. ‘n Ligte bries raas om sy oorskulpe, met enkele voëls wat om hom opklink as die wind heeltemal gaan lê. Die lug is kraakvars-blou, totaal beroof van enige wolke of dynserigheid, ‘n soort maanlandskap waarop geen mensevoet nog ooit getrap het nie. Klippe is donkerbruin van die sneeu se nat waar dit uitsteek uit die roomyslandskap. Die koppe is Karookoppe, plat en kort met breë voete wat meesterlik gefatsoeneer wegsmelt in die plat vlaktes. Die afstande van die koppe is egter verraderlik wat die tekstuur daarvan betref, want die hele landskap is uitgelê met ‘n eindelose tapisserie van diep klowe en  rotsbeeldhouwerke van eeue se wind-erosie.

-Wat beweging uiters moeilik maak, tensy jy die landskap met sy uitgewerkte roetes van minimum hindernisse aandurf.

Hanixab maak ‘n voortreflike prentjie in sy eenvoudige steentydklere, in die bek van die grot, terwyl hy  oor die verlate primitiewe landskap staan en uitkyk. Hy vrees die oomblik, maar hy weet dit kom-

Die lotery.

Gaan hulle deur Torro’kgo terug, of buite-om? Wie gaan stem? Sover, is dit net hy en Uso wat teen die idee gekant is. Gelukkig is Uso ‘n formidabele, gesaghebbende jagter, gerespekteer deur die ander en hul stam- ‘n Reguit Boesman, met ‘n skerp kyk geset in ‘n oop, sagte gesig wat besigheid bedoel. So die twee van hulle maak nie ‘n paar lafaards uit nie. Sý woord tel, en hy kan dalk die ander beïnvloed.

By die vuur sit die manne vir oulaas en knaag aan die bene van die klipspringer, voordat die pad terug na die stam aangepak word. Vet blink aan die gesigte.

X!am kraak ‘n femur tik-tik en versigtig, sodat hy dit kan oopbreek om die kosbare murg met ‘n splint uit te krap, sonder om sy tong te sny. ‘n Goeie deel van die klipspringer is oor, en dit gaan saam. Goed, dis twee en ‘n halwe klipspringer! Dit behoort genoeg te wees, maar Hanixab het ‘n gevoel dat Torro’kgo nie maklik vermy gaan word nie. Die ander ding is- Met ‘n halwe klipspringer, al is dit in ‘n opgaarsak, is roofdiere ‘n ander bykomstigheid wat hulle nie kan bekostig nie. Hulle gaan dalk moet betaal vir deurgang, íéwers. So die halwe karkas sal hulle dalk moet afskud as tolgeld, sou hulle vasgekeer word deur ‘n paar luiperds. Daarom word die idee seker oopgehou om nog vleis te buit, nader aan die stamgrot.

Teen die tyd dat hulle oppak, het niemand nog iets gerep van die roete nie. Hanixab loer die manne uit. Met die bymekaarmaak van die karosse en gereedskap, ontmoet sy en Uso se oë mekaar. Uso staar net met sy oop gesig na hom, vir omtrent drie sekondes, voordat hy voortgaan om sy velsak en pylkoker bymekaar te maak.

So, óf niemand sê iets omdat hulle werklik wil kyk wat gebeur op die pad, óf hulle swyg doelbewus net om die roete deur Torro’kgo as ‘n verassing op hom en Uso af te dwing. Maar hoe ook al, gaan hulle seker eers moet reis tot op ‘n punt, waar hulle ‘n besluit gaan moet maak. Daardie vurk gaan die swaartepunt wees wat letterlik en figuurlik impak op hulle as ‘n stam gaan hê-

Is die roete deur Torro’kgo suksesvol vir die jag, kan ‘n tweespalt in hul geledere volg. Is dit nie, kan hulle dalk nooit weer hul stam sien nie. Hanixab kan net hoop die halwe klipspringer hoef nie tolgeld te word nie. Of die twee bokke wat hulle vroeër gebuit het, word so swaar dat hulle nie veel motivering oor het vir meer nie.

Dis toe ook wat gebeur. Toe hulle die grot verlaat, is skoon bene al wat oor is om te getuig van hulle nag daar.

Maar dis ‘n gereelde oornagpunt. Hulle het al vele nagte daar spandeer voordat Hanixab deel van hulle stam geword het. Die vuur is net so gelos om onbruikbare afval te verteer. Daar was waaragtig nog hout oor ook. Maar dit kan oorstaan vir die volgende siel om rus vir die nag te vind.

Die paadjie af na die voet van die krans is styl, maar nie te ver nie, en ná dertig meter se hop-klim en skuur-gly, is hulle waar ‘n mens weer regop kan loop. Met die sneeu in die laagliggende dele sowat twintig sentimeter diep, én in die skadu van die steeds lae son, word die bestaande roete vinnig aangepas na waar meer oop rotse is.

Nie een van hulle voel meer hulle voete nie. Van die knieë af ondertoe, is dit soos krukke. As jy iets breek of sny onder jou knie, sal jy dit eers later weet.

Ook nie lank nie, of die eerste stel bokspoortjies kruis hulle roete, wat alles omvêr gooi. Hanixab is tweede van agter, gevolg deur Uso.

Wasem wapper voor elke gesig waar die treintjie van ses manne opeenhoop, en op ‘n oop klipplaat laer vorm. Die karosse sorg vir ‘n goeie opbou van bolyf-hitte, wat die koue van die sneeu en die ysige rotsoppervlaktes redelik goed uitballanseer. Tama is eerste-

“Kyk, afgesien van die vleis wat ons buitgemaak het, dink ek ons mik vir Torro’kgo.”

“Hier kom dit,” mor Hanixab aan Uso, waarop Tama effens bitsig reageer-

“Dalk is dit jou beurt om weer ‘n slag met die bok af te los…”

“Nou gee!” Ter wille van vrede, is dit Uso wat teenstellend vir Hanixab se verwagting, ten midde tree,

“Die sneeu gaan vlakker wees daar.”

“Of selfs glad nie. Want die sneeu maak dit gewoonlik nie tot onder in die kloof nie, oor dit gewoonlik  warmer in die kloof is.”

Net toe Hanixab voel hy is die remskoen aan die vyfde wiel, kantel Horeb weer die skaal effens-

“Goed en wel, maar hoe weet hulle waar ons die klipspringers platgetrek het?” Maar selfs X!am het sy bedenkinge-

“As hulle oortuig is ons het hulle wild gebuit, is ons vasgekeer aan beide kante, met nêrens heen om te gaan nie!”

Hanixab weet dat regdeur die geskiedenis, is oorgee nie net oorgee nie. Jy word eers goed verniel voordat jy kan gaan, en Tama woel homself weer uit-

“Enige man wat sy vleis werd is, moet kan voel die vleis is koud. As hulle dan slaags met ons wil raak, is dit oordat hulle wíl. So as hulle oorlog wil hê, behoort dit nie ‘n probleem te wees nie!”

“Reg. Selfs húlle sal die pad met minder bulte en sneeu wil stap!”

“Ek weet van ‘n lysie bolangs,” laat val Kabé beslissend,

“Die Haillom praat nie sommer daaroor nie, maar dit loop hoog bo die kloof deur, ál onder die rand van die krans deur. Dis net hier en daar baie gevaarlik smal. Dit behoort ook sonder sneeu te wees.”

“Ja, as hulle dan van ons uitvind, kan hulle weet dis nie hulle wild nie.”

“Ons drá klipspringers,” voeg Uso by,

“Dit bewys nie veel in daardie opsig nie! Nou gaan ons deur, of wat gaan ons maak? Besluit net -Want ek wil beweging begin kry!”

Teen die tyd dat die son hulle in hulle kloofroete begin raak, bereik hulle die eerste reliëfversinking van Torro’kgo. Hanixab kaats sy blik teen die kranse op vanwaar die kruin van die son hom skerp in die oë klits. Kabé is aan die voortou om die begin van die lysie te soek waarvan sy pa hom nog vertel het.

Torro’kgo is ‘n yslike keep in die hoërliggende plato, soos ‘n bylwond in die rand van ‘n kapblok. Van die plato af bo, kronkel die bodem daarvan in ‘n egalige dertig grade-helling afwaarts, tot waar dit byna twee kilometer later, onder verbysterend-hoë kranse uitmond in die vlakte onder.

Hanixab steun onder die klipspringer wat hy by Tama aangevat het. Met ‘n poot in elke hand en die pens op sy skof, let hy op die bot, verslae gesiggie van die klipspringer onder sy elmboog af. Dis nie sy eerste bok van ‘n jag wat hy dra nie, maar elke keer tref dit hom opnuut hoeveel vleis so ‘n parmantige klein skepseltjie bevat. p

Vorentoe is dit X!am, net agter Kabé met die ander ongeslagte bok. Spiere span oor die bobene van tone wat na elke oop klip, déúr stewelsole moet vasvat, om nie te gly nie. Met almal se asems en voetslae wa voor en agter hom ritsel, wonder Hanixab al oor die aangee van die bok. Vra wil hy nie, maar sal hy kan wag tot iemand aanbied? Want die bok word swaar, en met die aanvang van ‘n nóg gevaarliker roete, begin sy moed al flikker soos ‘n  vlam aan ‘n droë pit. Hierdie mense het ‘n ander dryfveer- ‘n Motivering van eer en aansien en respek. -Om meer goed te kan doen as die een langs hom. Anders as om die ewebeeld van God te wees in nederigheid, beskeidenheid en sagmoedigheid soos waar hy vandaan kom.

Oor die skouers van die vier voor hom, sien hy hoe hulle roete daal na ‘n gapende kloof voor, tussen groot swambespikkelde rotse wat as sittende renosters vorentoe waghou.

Dan gly die skerp sny van die oggendson van hulle af, toe ‘n krans in hulle afklim, voor dit inbeweeg. Kabé se oë flits wakker rond vir enige teken van lewe, hetsy die Haillom, of ‘n roofdier.

“Ek dink dit moet net hier af te wees, net oor die randjie,” wasem Kabé.

Hanixab skep moed, want hulle sal eers moet rus, veral waar die pad nie seker is nie. Hoe ook al, sal hy ‘n manier vind om die karkas ten minste net vir ‘n rukkie, van sy skouers af te kan kry.

Die ses klim met die golwing in die kort heuwel af, tussen fynbos wat pokkerig in die sneeu uitsteek, tot waar die rooibruin kwarts-sandsteen begin wegraak voor die toenemende afdraande.

Dan word die helling té erg vir net klim, en moet hulle eers afsaal om te besin oor hulle klimplan. Die jagters staan verdwerg by mekaar.

Na regs, spleet die Aarde oop in ‘n ontsagwekkende kloof waarin die laagliggende dal dynserig wit uitstrek. Hanixab is eerste om af te sak, en lê sy vrag neer op die mosbevlekte klip. Een na die ander, sak die manne neer, en pyle en boë begin te klingel van die neersit op die rots. Vooroor gebuk oor die afgrond, tuur Kabé deur die kloof. Vlak voor hulle is maklike afklimplek, maar hy kyk vir die lysie wat volgens oorlewering ‘n ‘byna té goed om waar te wees’- sypaadjie maak, wat al met die skeur langs strek. Vlak waar die skeur begin, lê rotse groot en rond, voordat die helling verraderlik in happe begin sak, ál dieper en verder na regs waar die dal doer tussen die kranse uitsteek.

Daar ís minder sneeu- Byna geen.

Onder hulle wieg menshoogte fynbos en Karooplante in die wind, wat van die dal benede af, opstoot.

Die lys is toe eers verder aan gevind, verder aan ondertoe in die skeur, by wat lyk soos ‘n ou rotsstorting. Met die eerste twee manne af ondertoe, word die vleisbagasie aangegee, gevolg deur die wapens. Die bokke is geruil, en twee ander vat oor by Hanixab en X!am.

Die afskop op die geheime roete is eers verstrooid, met ‘n groot gesukkel oor knewels van rotse waarby hulle beide óm en oor moet klouter. Namate hulle verder teen die skuinste langs stap, begin die roete struktuur kry, en kort voor lank, maak die legende van die lysie sin.

Die sneeu wat dit gehaal het, is so min, dat die klip net nat is. Nat én glad. Die lys steek ‘n goeie meter-en-‘n-half van die krans af uit, wat die roete byna te goed maak om waar te wees, omdat dit vir die eerste omtrent honderd meter byna glad nie nouer word nie.

Met hul pyle en boë skuins oor die kop en skouers, vorder die ses velbedekte jagters ál met die breë rotslys langs.

Rou-leer geskoeide voete skuifel gevaarlik naby die afgrond langs, wat loodreg afval na waar fynbos klossies uitsteek tussen wit spoelklippe, in ‘n breë kronkelstrook- Verdíépings ver na onder!

“Versigtig nou! Dit raak laer vorentoe,” steun Kabé met die krans wat begin oorhel, en hulle dwing om te begin buk.

“Hoe weet jy hoe dit vorentoe lyk?”

“Nie ‘n idee nie.”

“Weet jy hoe ons weer afklim vorentoe?”

“Nie ‘n idee nie.”

“Dan is dit mos onsinnig, man!”

“Ek sien al hoe ons al die pad terugkeer!”

“Kyk, dan smyt ek dié bokke, af en julle loop haal dit doer onder!”

Asof die laer loopspasie nie genoeg is nie, vernou die lysie ook. En met die afstand gevorder, is dit ook omtrent al ‘n verdieping laer ondertoe.

“Dié pad is nie vir manne met ‘n vrag vleis nie! Het hulle jou dít ooit gesê?!”

“Niks is my ooit gesê nie!” steun Kabé, en steek vas. Sy moed wou hom net begewe, toe hy om die hoek sien hoe dinge weer beter raak. Wat nog meer is, is die krans só vol uitsteeksels en vlakke verder, dat hulle af kan klim en met die breë stormwaterloop in die bodem van die skeur verder beweeg. –Afgesien van die gesukkel oor die spoelklippe!

“Oppas vir dié smal stukkie,” waarsku Kabé. Elke spier is oorgehaal in hulle lywe, tot die uiterste toe gespan. Een fout, en dis klaarpraat.

X!am loer met ‘n bewende asem oor die afgrond, onder sy vrag vleis gebuk. Wind woer sag om hulle ore. Hanixab let op na die teenoorgestelde kranse, hoe dieselfde struktuur daar ook herhaal soos aan hulle kant, opmekaar gestapel in lae, waarvan sommige verder uitsteek as die ander om dieselfde loopgangetjies te maak.

“Moet ek aanvat?” vra Kabé waar hy oor die gevaarlike vernouing gaan hurk, en omdraai.

“Beter so,” steun Uso volgende in die lyn, en keer die dooie klipspringer weg van die afgrond, van sy skof af. Kabé het die voorpote, en saam gee hulle met ‘n gesteun van hoë konsentrasie, die bok oor die gaping in die lys aan.

Wasem wolk voor die prominente monde met die yl kringbaardjies. Met die eerste van die buit veilig oor, korrel Uso vir Kabé skielik stip uit-

“Moenie beweeg nie.”

“Wát?”

“Moenie omdraai nie. Ons word dopgehou-”

“Wat-?”

“-Móénie omdraai nie!” sis Uso net voordat Kabé se instink kon oorvat. Agter Uso, sit die res van hul geselskap opeengehurk teen die kranswand.

“Die Haillom?” frons Kabé oor die afgrond aan Uso, sy bloed koud deur sy knieё.

“Ek dink nie so nie…” knor Hanixab.

“Hoekom sê jy so?”

“Manne ons word dopgehou…” hoor Uso en Kabé verder terug. Kabé sien oor Uso se skouer hoe ‘n figuur op die teenoorgestelde krans hulle staande met ‘n stok, aankyk. Versigtig loer die ses na mekaar.

“Dit lyk of hulle ons wil sien-”

“Húlle?”

“Ek blameer hulle nie,” mor Uso soos hy nou ‘n derde figuur hoër op, op die plato sien staan en kyk na hulle,

“-Ons lyk bra skelm, so aan die kruip-kruip!”

“Ek dink ook nie hulle is Haillom nie,” korrel Hanixab oor X!am se skouers deur. Sy blik bly stip op die figuur ver aan die oorkant, agter wie hy nóg twee sien staan.

“Hier is niemand anders as ons in die onmiddellike omgewing nie. Die !’Aes is drie dagreise van hier af.”

“Dis indringers…”

Hanixab weet dis nie net ‘n ontmoeting soos met Stanley en Livingstone in die middel van nêrens nie. Hierdie is geskiedkundig.

“Indringers van waar? Hanixab?” wend Horeb hom tot die nuweling, in die hoop dat hy iets kan onthou uit sy lewe voordat hulle hom ontdek het- Dat dit dalk sy mense kan wees wat hom kom soek. Maar hulle lyk selfs minder na Boesmans-

Langer, en baie donker.

Hanixab antwoord nie, maar sy dooie kyk sê alles- Want, soos aangeteken, aanskou hy eerstehands die geskiedkundige instroming van swart stamme uit die noorde. Tama smaal egter-

“Wel hier is die goeie nuus- Ons mag dalk net ‘n bok minder hê om huis toe te dra, op die ou-einde.”

“So- Dis nie ons gebied nie, en dis nie hulle s’n nie!” gryns Kabé veglustig,

“Óns het meer aanspraak hier!”

“Manne, maak reg vir oorlog-”

“Wat?”

“Ek ken hierdie mense,” grom Hanixab sag,

“Daar is baie van hulle, en hulle kom uit die noorde.”

“Hoe weet jy?”

“Vat net my woord- Moet niks doen nie, maar sodra jy die geringste aggressie teëkom, vermorsel jy hulle soos vlieë!” Net ‘n rukkie se stilte volg waarin die voorstes besluit neem. Dan-

“Ons gaan aan op ons pad asof ons niks gesien het nie- Hulle konfronteer nie, tensy hulle ‘n trop is.”

“Ek dink ons klouter af hier voor-”

“Ons sou in elkgeval- Ons moet húlle konfronteer!”

“Nie met net die ses van ons nie. Ons vind uit wat ons kan in die verbyloop, en kom terug met versterkings!”

“As Hanixab reg is, moet ons hierdies doodmaak en sommer nóg gaan soek!” sis Horeb,

“Wie is hulle, Hanixab?”

Die man met die vaalgroen oë voel waterig van die besef dat hy iets aanskou wat geskiedenisrekords byna as net ‘n teorie beskryf. Wasem bol voor sy mond soos hy sug-

“Hulle is vlugtelinge, voor ander stamme. Kannibale. Hulle vermeerder soos vlooie. Dus is daar nooit kos om hulle nie. Hulle spaar niks en niemand nie. Hulle vat en gee niks. Hulle is soos sprinkane. As hulle nie vasgevat word nie, verdryf hulle óns! Geen wonder die Arabiere het hulle later ook verdryf nie…”

“Die wie?” Maar Tama snou dringend-

“Horeb draai om. Ons gaan terug- Gaan nie kanse vat met dié spul nie!”

“Kabé… Hulle wag klaar vir ons daar- Terug soos ons gekom het…!” antwoord Horeb,

“Ons is… omsingel.” ‘n Siniese soort wrang glimlag span oor Kábe se skerp wangbene,

“Nou gee aan die ánder vleis! Laat ons gaan kennismaak… -Hoor wat hulle maak op ons grond.”

Verby die hap in die lys, is die pad weer ‘n volmaakte kanaal van natuurlike rotsformering. ‘n Laag wat nog nie uitgekalwe het nie, sorg vir ‘n trap van verhoging in die loopvlak wat met ‘n effens helling afdaal. Vorentoe, moes destyds die een of ander gesteentebotsing van tektoniese plate plaasgevind het, want die hele plaatstruktuur verander by een vertikale strook. Dis daar waar hulle kan áf, ondertoe.

“Hoekom gaan ons nie aan nie? Ek sal nou dat een stuk oorgroot meerkat in my pad staan!” maak Uso kapsie,

“Springbokke word afgekeer soos ‘n rivier, nie óns nie!”

Maar Kabé dink nog- Sak hulle af, is hulle vas, en hy wil hoekal nie die idee gee hulle buig die knie deur in te gee aan die indringers se suggestiewe afdreiging nie.

Bo, kan hulle ook vasgekeer word in kranse wat hulle nie ken nie. Daar kan dié mense hulle vir dae vaskeer totdat hulle óf oorgee of hulleself oor die kranse afgooi. Maar dis húlle gebied, eerder as dié van die geheimsinnige nuwelinge!

Afgesien van die verhoging in die lys se loopvlak, is die oorhang strook rots meer as ‘n meter van hulle koppe af.

Bok oor die skouer, korrel Tama die een enkele figuur voor bo-op die krans uit-

“A! Hulle kry versterkings! Kyk…” By die een figuur bo, voor hulle, sluit nog twee van weerskante aan.

“Manne, vandag, as die pyle begin fluit, laat elkeen tel vir twee!”

“Hulle het nie pyl en boog nie. Net… lang assegaaie!”

“Die voordeel behoort dus aan ons.”

Terwyl hulle die afklimplek in die einde van die rots se laagkoekpatrone nader, merk hulle dat die indringers onrustig begin raak. –Want hulleself wonder wat hulle gaan doen om die Boesmans te laat afklim, sou hulle onverstoord aangaan op die verlenging van die lys.

Gebuk onder sy klipspringer, gluur Tama die skraal swart figure uit, bo. Dan hoor hulle stemme- Hulle beraadslaag ondermekaar.

“Kan jy hoor wat hulle sê?”

“Nee.”

“Manne wees gereed om te los wat julle het,” korrel Uso na die naaste koker pyle aan hom,

“-Laat julle trek en los een beweging wees!”

“Stadig nou…”

“Ek dink ek kan…”

“Jy kan wat?” vra Horeb aan Hanixab.

“Hulle wonder of dit net ons is.”

“Jy verstaan hulle?”

“Ek herken sekere stamwoorde. Ja… Dis Swahile! ‘n Soort vêrlangse dialek van…”

“Swa-wat?”

“Immm. Hulle’s definitief uit die noorde.” Uso hyg vinnig-

“Hanixab, kom jy vorentoe!”

By die kruising, laai hulle hul bokke haastig af. Bokant hulle, toring drie van die swartes oor hulle uit. Die middelste een sê iets, maar Hanixab kom vorentoe en neem langs Kabé stelling in-

“Wie is julle en wat wil julle hê?”

Die swarte praat. Vreemde woorde. Sy stem vreemd bas en dieper as hulle s’n.

“Wat sê hy?”

“Hy wil een van ons bokke hê, en wil weet wat ons in ruil wil hê daarvoor.”

“Wat? Hoeveel is hulle? En wie is hulle?” Hanixab vertaal, en die antwoord kom terug. Maar nie voordat hulle eers onder mekaar praat nie-

“Hulle’s die Najedi, en hulle is vlugtelinge- Omtrent vyf keer soveel soos ons!”

“Hulle gaan ál ons vleis wil hê!”

“Vir wat trek hulle in die wínter?”

Hanixab vra self verder. Die Noord-Afrikaan vertel en beduie met groot gebare, voordat Hanixab weer vertaal-

“Hulle stam is aangeval deur ‘n ander stam, die Kaisobo, wat baie van die noordelike gebiede besit. Hulle het in klein groepies gevlug sodat van hulle kan oorleef. Hulle weet nie waar die ander is nie. Dit was baie volmane gelede, voor die laaste winter. Hulle het vroue en kinders ook,” en Hanixab las agterna aan-

“Hulle soek kos. Hulle eet wat hulle kan kry- Van karkasse tot insekte, blare… Selfs hul eie dooies wat in die swerftog omgekom het.” Kabé byt sy lippe vas en skud sy kop,

“As hulle niks gekry het nie, beteken dit hier is niks vorentoe nie.”

“Natuurlik nie!” gryns Horeb sarkasties,

“Wie kan nou jaggsonder boog en pyl? Die arme drommels het net assegaaie! Wat verwag hulle?! Ons kannie húlle voer, as ons éie mense op ons wag nie. Ons stam is soveel soos hulle. As die ander jagters goed gevaar het, miskien…”

“Hulle mag nie uitvind waar ons tuiste is nie! Hulle sal ons vroue en kinders vermoor!” druk Horeb tussenbeide.

“Kabé, ons sal maar vir hulle van ons vleis móét gee,” stel Hanixab voor, toe ‘n assegaaipunt skielik wynrooi, sonder waarskuwing onder Kábe se linkerbors uitspring.

‘n Stem gaan uit bo die kranse. Kabé se gesig vetrek van pyn met die allervreeslikste gryns, en oë wat stokstyf die lug in staar. Bloed tap op die kliplys terwyl sy makkers hom verbaas aan die arms gryp, en bo hulle kyk.

Teen die tyd dat hulle gedagtes vat kan kry aan die oomblik, trek Horeb volgende skuins tussen hulle uit. ‘n Hees gil trek, soos hy in ‘n stadige tuimel na benede stort, met ‘n assegaai deur sy nek.

Wreed verras deur die Najedi se behendigheid met die assegaai, sak die oorblywende vier dadelik plat. Assegaaie van verskeie plekke oorkant die skeur, klink met die spat van krummels sandsteen om hulle vas-

“Deel op! Deel op!” snou X!am.

Op die krans bo hulle, vou die swartes se spreker eerste dubbel van ‘n Boesmanpyl. Nog een agter hom gryp na sy nek, en stort in sy spore van ‘n tweede pyl ineen. Die spreker val met ‘n dowwe kraak op sy gesig op die lysie onder, en stort gly-gly oor die afgrond.

Oorkant die skeur, wemel dit van stuk of nege skraal Najedi’s. Die laaste vier van hulle sit uitgesprei en skuil, elkeen meters van mekaar-

“Spaar julle pyle! Moenie skiet voor jy nie ‘n oop skoot het nie!”

‘n Assegaai tref net langs Hanixab, en spat sandsteen oor sy gesig met die trefslag. Oorlogskrete eggo koggelend in die kloof om hul teenstanders te ontsenu. Gelukkig is Kabé se pylkoker nog op die lys. Sy boog is egter saam met hom ondertoe. Horeb is met alles aan sy persoon oor die afgrond.

Een stel wapens is dus in die hande van die vyand. Dis ook net waar Tama die kans waarneem, en ‘n swarte onderin die kloof neervel, ágter die nek-

Net waar hy staan, vou hy oor Horeb onder, se stukkende lyk neer. Assegaaie vreet klein happies uit die lys se plat loopvlak soos Najedi op die krans bo, hulle probeer tref. Die Boesmans weet egter dit sal net pyle-mors wees om te probeer om iets bo raak te skiet, feitlik teen die son.

“Maak seker hulle sien julle nie van bo af nie!”

Uso los sy boogsnaar. Oorkant die skeur, struikel ‘n Najedi van sy pyl wat hom in die bobeen van sy voete af slinger. Amper mis, maar van die papiegif wat laas aan die pyl was, behoort dit nie te lank te neem voordat hulle nog een minder is nie.

Donker, in die afwesigheid van direkte sonlig, ruil pyle en assegaaie tussen die twee teenoorgestelde kranse as tandestokkies uit, teen die oggend.

In die bodem van die kloof onder, knak nóg ‘n Najedi agteroor van ‘n pyl, diékeer  van Uso, in nóg ‘n poging om Horeb se wapens te bekom.

‘n Hoes-tjank in hulle geledere laat al die oorblywende Boesmans skielik verys- Dwars op die lysie, half orent teen die kransmuur, lê Tama met ‘n spies wat skuins die lug in uit sy bors uitsteek. Rukbeweging prik deur sy lyf. Dan lê hy stil. Met net die helfte van hulle oor, neem X!am die voortou-

Te hel met die bokke! Laat hulle dit vat en gaan sopkook daarvan! Nou moet hulle ‘n roete oopsien, en uitkom-

“Hanixab! Hoeveel pyle het jy?!”

“So… Vyftien!”

“Uso?!”

“Twaalf!”

Nóg ‘n assegaai klink langs Hanixab teen die rots, en spring met ‘n sing terug. Metaalpunte. Dus het die Najedi kontak gehad, -of húlle invloede ten minste, met ander, meer gevorderde volke.

“Ek het nege!” stoot X!am dit uit. Hy trek terug, en los sy boogsnaar. Onder knak nog ‘n figuur by die laatste assegaai wat van die lys af teruggespring het.

“Já! Vrék, adder!”

“Enige idee hoeveel is op die kranse?!”

“Dink jy wat ek dink?!” snou Uso en X!am oor en weer-

“As ons die son wil sien sak, moet ons hier af!”

“Hanixab!”

“Ek kom!” Hulle brand om te skiet, maar die pyle moet eers wag- Die indringers moet eers nader!

Hanixab kyk vlugtig rond wie op hom mik, en rol op sy voete, waarop hy laaggebuk verby die ander twee skuifel. Die roete af ondertoe lyk na die enigste oplossing. In ‘n sywaartse flitskyk, sien hy hoe ‘n assegaai vir hom gelanseer word.

Uso se boogsnaar ‘táng’ uit sy voorvingers uit. Met waansinnige oë, dra hy behoorlik die pyl in vlug, totdat dit binne-in ‘n kryger se gesig plant, tussen die oog en wangbeen.

Hanixab volg ‘n assegaai deur die lug. Gelukkig waag hy dit om sy kykveld te verbreed, en sien hoe ‘n ander assegaai direk op hom afstuur. Hy spring net betyds uit die pad, en skuur op die sy van sy linkerbeen oor die gladde klip te lande, bý die merkpunt waar hulle kan af, ondertoe. Dadelik, terwyl hy so sit, is die volgende pyl in sy boog, en hou hy dit skietgereed gekruis oor die boog met sy linkerhand-

“Kom!”

Assegaaie seil deur die lug. Twee, een, vier. Waar kry hulle alles?! Klip spat soos die primitiewe projektiele hulle mis teen die kranse. Laaggebuk, haas Uso en X!am hulle tot by Hanixab en rol neer. Hanixab span sy boog sodat ‘n fyn ‘k-k-k-k’ uit die lenige hout knars, voordat hy los. Aan die anderkant, slaan ‘n Najedi neer asof sy voete onder hom uitgeruk word- Pyl deur die nek.

Woedend laai hy ‘n volgende pyl, met wit neerslag in sy mondhoeke-

“Klím X!am! Uso- Gee hom dekking!” En X!am is daar af asof ‘n rotsstorting van bo af oppad is. Twee assegaaie reën van bo, teen die kranse af. Hy val byna vry vir die eerste twee meter, voordat hy met vingers úít soos roofkloue, gly-gly, afskuur.

‘n Assegaai ‘ping’ onder hom vas teen die krans. Met die eerste vastrapplek wat X!am kan kry, anker hy homself, en dop hy sy boog van sy skouers af-

“Komaan!” gil hy hees-rou, en Uso slaan Hanixab agter die rug-

“Gáán! Góú!” maar die grys-oog snou terug-

“Ek is laaste! Laat wáái!”

X!am los sy boogsnaar. Oorkant, vou ‘n kryger vooroor terwyl hy die agterent van ‘n pyl in sy maag vashou. Boog oor die skouers, hark Uso met spiere soos toue oor sy arms en bene gevleg, ondertoe. Hanixab koes vir ‘n assegaai, en los sy boogsnaar. Maar dis mis, en sy pyl fladder as ‘n vuurhoutjie teen die kranse af.

Al is hulle warm geveg, brand die koue steeds waar hulle skraap of stamp. ‘n Pyl van X!am plant in ‘n kryger se arm. Wasem trek agter hulle gesigte aan-

“Hulle gooi assegaaie aan vir die ander, oorkant, van hier bo af!”

Skielik trek ‘n liggaam loodreg ondertoe voor X!am en Uso verby- Hanixab!

Hy het waaragtig een bo hulle geklits!

Bo, sien hulle hoe van die Najedi afklim, en die vleis wat hulle agtergelos het, buitmaak.  Die drie krygers by ‘n klipspringer, begin dadelik om gulsig die bok stukkend te steek. Soos roofdiere, grawe hulle waansinnig deur die stukkende vel agter die rou vleis aan.

Maar hulle alles-oortreffende honger laat hulle verdedigingsinstinkte in die steek, en Hanixab los sy boogsnaar. Op die rotslys dring sy pyl een se kakebeen van onder af binne. Met die beenpunt wat as ‘n antenne, bo agter sy kop uitsteek, val die Najedi met glasige oë om.

Oppad ondertoe word hy deur een van sy eie stamassegaaie deurboor voordat hy met ‘n klap-kraak, soos dié van droë vulpleister, die klippe tref. Met die bloed van die rou vleis wat al hulle sintuie skaak, laat vaar al die boonste Najedi-krygers die vlugtende Boesmans, en sak die handvol van hulle as miere op die vleis toe.

Hanixab neem sy kans waar, en stort agter X!am en Uso aan wat alreeds weer die stortroete na onder hervat het. Assegaaie reën steeds, en Hanixab besef dat hulle sélf nou op die spyskaart is. Krete van die Najedi prik ononderbroke vanuit byna alle rigtings.

Terwyl die ander reeds die twee klipspringers verskeur, besef dié aan die anderkant dat hulle uitverloor. En die aanval vertraag.

Die laaste drie Boesmans verneem van die oog van die storm, en neem die kans waar om veld te wen. Bloed en skraapmerke blink aan al drie van die verwoede jaagtog na veiligheid. X!am, wat heel onder is, lees die ontsnaproete terwyl hy val-val die pas aangee. Uso volg haastig.

Hanixab sal graag dekking wil verleen- Om net te kan hurk, en die naaste twee of drie te kan wond, maar die yster is rooi en hulle moet slaan.

“Ons is amper onder!” hyg X!am.

Hande is rou, en skraapmerke streep oral oor hulle. Harte hamer teen die ribbes soos diere wat wil uit.

X!am besluit dis genoeg, en spring. Hy val net oor die twee meter, en tref die klippe met ‘n kort kreungil wat uit sy keel ontsnap-

“My been!”

Een assegaai klief verby hom, en Uso land wydsbeen agter hom op die groot ronde klippe. Maar die Najedi se woede teenoor hul eie makkers wat hulle verlustig in die bokvleis, kry die oorhand, en die assegaaie begin weer reën.

X!am val neer, terwyl Uso korrel vat. Volgende maak Hanixab dit ook tot onder. Die Najedi se oorlogsgejou het die gewenste uitwerking, en die Boesmans mik verbouereerd rond vir wie om volgende te laat les-opsê. Neer op die rotse, neem X!am korrel-

“Gáán! Ek sal hulle afhou!”

Hy los sy snaar, en ‘n liggaam kom met ‘n gil teen die kranse af.

Weer kreun hulle boë agteroor. Uso en Hanixab laat los gelyk, maar van die twee pyle, haal net die een sy teiken, en  Hanixab snou na X!am-

“Wat van jou?!”

“Ons pyle raak min! Vergeet van my!”

“Horeb se pylkoker! Ek kan dit kry!” En ‘n assegaai kletter tussen die klippe neer, net agter Hanixab verby soos hy terug óp, in die skeur in wegspring.

“Vergeet dit!” skree X!am, en trek nog ‘n skoot af.

Hanixab wikkel met flink voetwerk, opdraend, oor die boggels van die klippe. Hy hop oor twee swart lyke, voordat hy by Horeb se lyk uitkom.

Hy steek vir ‘n sekonde van skok vas voor sy eens dapper makker se lyk, gebroke oor die spoelklippe, voordat ‘n assegaai met ‘n ‘wrrrr’, sentimeters van sy rouleer-stewel af tussen drie klippe vaspen. Hy ruik eintlik die vuurklip toe hy die koker vol pyle opraap, en weer omvlieg.

Maar afgryse ril deur hom toe hy X!am bereik-

Agter hom, lê Uso en ruk oor die klippe met ‘n assegaai, sy na sy, deur sy ribbekas. Bloed vlek die koue rots donker rooi- Byna bruin.

X!am laat los sy boogsnaar, en ‘n Najedi knak agteroor van ‘n pyl in sy skouer, teen die stormloop op. Hanixab is dadelik daar- Hy buk met sy boog horisontaal oor X!am neer, en fel die gewonde met ‘n direkte skoot plat.

Hy wil X!am opraap, maar te veel krygers is nog aktief op die krans.

Hulle besef iets gelykertyd- Met die krygers op die krans bo hulle besig om die vleis te verorber, is dié op die teenoorgestelde kant se fut feitlik uit. En basies wapenloos, begin hulle ook om in die bo-loop, die kranse af te sukkel agter hulle reeds gestrooide assegaaie aan-

“Ons gaan ons kanse moet vat, X!am!” hyg Hanixab, en krul sy arm onder dié van X!am in om hom met mening orent te ruk. Maar X!am sien nie kans om Hanixab te vertraag nie-

“Los my hier!”

“Hulle is klaar! Hulle’t gekry wat hulle wil hê!” skree hy teen sy medewete dat die krygers hulle steeds agterna sal sit, hetsy vir wraak, of vleis. Maar X!am hou vol-

“Laat jy wegkom! Die pad is oop, uit ondertoe! Die oudstes  moet weet wat gebeur het! As hulle nie weet wat van ons geword het nie, is ons mense in gevaar! Al ons stamme moet saam optrek teen hierdie  slange!”

“Maar-”

“Gáán Hanixab! Voor jy my volgende pyl in jou *** kry!”

Beweging trek Hanixab se aandag verder óp, en albei sien hoe eerste Najedi, hoër op, dit lewendig tot onder in die storm-afloop gemaak het.

Nog voordat hy ‘n assegaai kan optel, los beide die Boesmans hul boogsnare. ‘n Breuksekonde uit mekaar het, pen albei pyle ‘tsit-tsit’ in die kryger se bolyf weg. Hanixab trek ‘n lyn ter afsluiting, voor sy sleutelbene verby, as ‘n soort toeroep, en belediging.

Dan wend hy hom vinnig tot die paar oorblywende kokers pyle.

“Neem jy die leegste koker vir jou pad huis toe! Los die res vir my, sodat julle werk minder kan wees as julle terugkom, en my bene onder die aasvoëls uithaal!”

“Ek sal jou nie vergeet nie X!am!” hyg Hanixab, en trek ‘n ekstra boog van een van sy gevalle makkers, oor sy skouers, gevolg deur sy koker. ‘n Assegaai klingel oor die rotse verby hulle heen.

“Die kinders sal van jou vertel saans om die vure, X!am!” hyg Hanixab voort, soos hy sy boog vat met twee ekstra pyle oor die boog se handvat gekruis,

“Die grotmure sal jou lof besing!”

Sy instink bly om te staan by X!am, en te skiet totdat hulle die indringers met hul eie assegaaie begin verjaag.

“Jy is ‘n goeie jagter, Hanixab van die wolke,” antwoord X!am, en snou-

“Nou gáán!”

Hanixab spring weg, en sit af vir die vlakte, wat in die verte tussen die toringhoë kranse se uitmond lê. Met kort skuifeltreë en lang spronge, haas Hanixab hom oor die klippe, tussen die grotes deur, en oor die kleineres.

Op ‘n groot lae rots, werp hy ‘n vinnige skietblik oor sy skouer, en sien hoe X!am steeds regop sit en korrel op vier figure oppad ondertoe na hom, deur die storm-afloop. Alles in hom wil omdraai en X!am te hulp snel, maar dis sy makker se bevel om hom te haas na die stamgrot, en al die ander groepe in die area te verwittig van die indringers. En hy weet, hierdie handvol indringers uit die noorde is net die rafel aan die soom van ‘n verswelgende gordyn wat oor die land gaan neersak!

Terwyl sy oë saam met sy voete oor die klippe spring, al met die breë basis van die skeur af, woer iets skielik verby sy kop. Hanixab steek vas-

Dit was ‘n assegaai! Van vóór af in die skeur!

Skuins agter hom, sien hy hoe die steel wieg waar dit tussen die klippe uitsteek.

Stadig draai hy om, om voor hom te kyk. Sy bors deins onder sy asem. Hy staan krom en wydsbeen op die rots, sy knieë gebuig om enige oomblik, watter rigting ookal, in te slaan. Onder sy voorkop, gluur sy oë op sewe skraal figure wat uit die onderkant van die skeur na hom aankom-

Hoe de hel…?

Sy ontsnaproete is afgesny!

“O nee julle gaan nie!” grom hy, asof hy elkeen met sy oë alleen kan fyndruk.

Hy sien hoe een van hulle oorhaal soos ‘n Olimpiese spiesgooier. En terwyl hy ‘n pyl se mik laat vasbyt aan sy boogsnaar, sis hy-

“Álmal gaan weet van julle!” Sy oog vang die inkomende assegaai, maar dis mis.

In sy sig, wys fyn neonlyne in op sy teiken in sy belyning van die pyl. Sy teiken gloei digitaal, reg om te pluk soos ‘n ryp vrug, en hy laat los sy snaar-

Tot op die sentimeter, tril die pyl in die middel van die kryger se bors!

Wéér laai hy, dieselfde tyd dat nóg ‘n assegaai na hom gelanseer word. Sy nano-elektroniese visiere byt aan die kryger vas, en die pyl dop die agressor tussen die oë agteroor.

“As ons ‘n lang geskiedenis saam gaan hê, laat ek dit sommer vir julle afskop!”

Hy deins nie terug nie, maar val ‘n paar treë vorentoe, en los weer sy snaar. Die pyl klief egter skadeloos tussen die aankomende krygers deur, maar agter hulle spiraal nóg een inmekaar!

Maar hy stres- Sy pyle is besig om vinnig minder te word, en hy swaai weer om. X!am leef nog, en op die kranse bo, sien hy steeds die krygers beweeg.

Hy is vas! Met ratse kyke wat hy om hom rondgooi vir uitkoms, fluister hy,

“God, dis hier waar Jy inkom- Jy sal my nie sesduisend jaar ver voer, net om te kom sterf aan die hande van voorvaderaanbidders nie!”

Hoe langer X!am oorleef, hoe harder wil hy omdraai en hom gaan help. Maar met ‘n vinnige eksentrieke handgebaar, vra hy God vir ‘n engel vir X!am, asof hy hom self daar plaas.

“God! Ek verwag die vólheid van Jou Glorie vandag!”

Hanixab reik oor sy skouer, en trek nóg ‘n pyl uit sy koker. Noudat hulle naderkom, moet hy vinniger te werk gaan. Die druk van die naderende krygers begin al swaarder lê-

Hy beweeg weer vorentoe, sy boog gespan. Flink voetwerk dra hom oor die klippe, dan links dan regs, sonder dat hy afkyk.

Die krygers is nou net ‘n handvol meter van hom af, die haat en jagtershonger waansinnig in hul oë. Maar hy weet hy sal net aan hulle hande omkom as God dit wil.

Hanixab koes rond terwyl ‘n assegaai na hom gemik word. Maar dis ‘n bluf, en die wapen verlaat eers die kryger se hand met die volgende gooi. Hanixab krul sy rug met ‘n vraagtekenknak oor die assegaai, en dit skadeloos onder, langs hom verbytrek. In dieselfde telling, rig hy, en los sy snaar.

‘n Kryger val op sy een knie neer, die pyl in sy slagaar in.

Dan, teen alle verwagting in, swenk Hanixab skielik links, en hardloop reguit vir die kransmure.

‘n Assegaailem steek los agter oor sy rug verby. Die tref van die rotsmuur klink soos dié van ‘n koevoet. Hanixab sny in op die kransmuur, deur die stof van die assegaai.

Die krygers is dadelik agter hom aan.

Sy momentum laat hom toe om een of tweekeer teen die kransmuur te trap, voordat hy weer die klippe van die bodem van die skeurvallei nodig het.

Hy het nét grond gevat, toe ‘n lys in die kranswand hom toelaat om daarteen op te spring. Die lys is breed, en tot sy verbasing is dit die aanvang van ‘n soortgelyke looplaan soos wat hulle eers aan die ander kant op was.

Hy hoor die krygers agter hom, woedend, as rasende hiënas. ‘n Assegaai klief regs verby hom. Dis ook in sy regskyk dat hy sien hoe van die krygers, onder, oor die spoelklippe haas om hom voor, af te sny.

Meteens maak die rotslys ‘n skerp knak na links, en Hanixab vind homself in die voorportaal van ‘n enorme grot. Maar hy bly hardloop, oor uitgebrande vure, takkies en mishopies.

Skielik verlig alles kunsmatig tot hom, en sien hy perfek asof lig vanuit die rotswande self gloei. Fyn vloeiende gaasteksture kruip oor alles in die grot van sy kunsmatig-verhoogte visie. Die grot se binnekante is nou selfs duideliker as die buitewêreld, en met die skerp oggendkontraste daar buite, voel hy hier in die donker soos ‘n krokodil in diep, modderwater-

Al wat nou volg, is stil lê, en wag.

Hy kaats ‘n skietblik oor sy skouer, en sien die krygersilhoeëtte  huiwerend afgeëts in die bek van die grot. Sy asem jaag, en sy hart hamer in sy keel.

Terwyl hy homself agter ‘n paar groot rotse ingewoel kry, sien hy hoe die krygers met wilde gebare onder mekaar beraadslaag.

Hanixab trek homself in die donker aan ‘n rots eenkant toe, sy oë stip op die krygers buite. Hy voel aan sy persoon-

Sy vel is koud. Buiten vir die boog in sy hand, het hy nog die een oor sy skouer. Albei se snare is heel. In sy koker is egter net vier pyle oor! Hy kan hulle uithaal met die klipmes aan sy gewrig, maar twyfel of hulle so dom sal wees om net aan te stap, die donker in. Selfs ‘n stam wat teël soos luise en hulleself uiteindelik daardeur benadeel, weet dit sal nie wys wees nie. Hulle sal met brandende stompe moet inkom, en selfs dán is hulle soos insekte in sy hande. Net hy sal kan sien hoe om te beweeg in die grot. En waar hy kan wegkruip, of hulle selfs voorlê.

Die Najedi is uiteindelik weg. Natuurlik, is dit wat hulle wil hê hy moet dink, om hom te laat uitkom. Geen kans dat hulle hom net só sal los nie!

Koud, moeg, alleen en bang, hou hy sy posisie in die donker grot. Hy sal moet wag tot dit donker buite is. En dan weer- Sal hy wag tot vroeg-oggend? Hy sal moet slaap intussen, maar hoe slaap jy as jy vrek van die koue? Sy velkleed is by verre nie genoeg nie, en hy gaan moet eet.

Hy besef hy is in die somertuiste van die Haillom. So dit ís ‘n tuiste, en as hy gaan begin soek, gaan hy op huishoudelike gebruiksartikels en vuurmaakgoed begin afkom. Spaar hout. Dalk gedroogde vleis…

Hy dank God weereens vir sy tegnologiese inplantings. Dit alleen sorg vir ‘n ontsettende swaar voordeel. Daarsonder sou hy moes kan eet wat hy in die donker raakvat en voel beweeg. Maar sal hy iets rou en lewendig kan eet as hy nie weet wat dit is nie?

Hy was nog nooit so honger nie. Wie weet watse instinkte skop in as jou voedingsgestel in lewensgevaar is. Is dit waar die Najedi hulleself nou bevind nie? Hulle is op dus ‘Outomaties’! –Lánkal al, so hulle is glad nie meer verantwoordelik vir wat hulle doen nie. Alles is rou instink.

Steeds in skok van die pas-afgelope skermutseling, staan Hanixab bewerig op, en beweeg hy dieper die grot in, terwyl hy alles om hom met die grootste aandag betrag.

Die singende stilte druk net ‘n paar sekondes teen sy oordromme, toe sy mond in ‘n bot hipnose oopval vir wat sy oë sien-

Honderde tekeninge pryk teen die mure. Jagtonele. Die lánk reeds-vergange kultuurskat wat hom oorkoepel, laat hom stom. God, in Sy wysheid, moes dit só gereël het dat hy dit kon aanskou, voordat hy weer terug na sy eie wêreld. Noudat hy dit sien, is dit digitaal verewig.

Sy oë tas net hier en daar voor sy voete, voordat hy sy blik weer sprei teen die golwende oorhangende rotsplafon.

Met die Najedi het hy nou vrede. Hier in die donker sal hulle hom nooit op hulle eie kan kry nie. Totdat hulle vuur het, het hy ál die tyd om te verwyl in hierdie pryslose galery! En hy het die eer hiervan, voordat dit vir ewig gaan wegsink in die newels van tyd!

Daar is min uitbeeldings van mense self. Die panele is grotendeels ‘n muurpapier van troppe en troppe wild. En nie sommer súlke uitbeeldings nie. Hierdie siel, wie hy ookal was, wanneer, was ‘n skilder! Byna lewensgetrou, foeter troppe en troppe eland, springbokke, duikers, -jy noem dit op-, almal van regs na links. Almal na waar die son opkom.

‘n Eland bo ‘n ander, dui op oorname, intimidasie- Dat hier meer as een stam al gewoon het. Dus was hier vantevore ‘n wisseling van eienaarskap, wat nie sonder bloedvergieting sou geskied het nie.

Wie weet watter verhale in hierdie rotswande opgeneem is, wat verby die vervaltyd is vir hom om te kan aftas!

Terwyl tegniese gegewens in ‘n vreemde alfabet op verskeie punte van sy sig aanwys, vee sy wilde oë teen die oorhoofse rotsmassa langs.

Donker kolle van vlermuiskolonies sit oral waar die skilder nie kon bykom nie. Asof hulle sy werk heilig, respekteer. Maar dis bloot waar die kunstenaar, of kunstenaars, nie kon bykom nie. Maar hulle het nie stellasie gebou om te kon bykom nie. Dus was die grotvloer hoër destyds.

Maar hoe? Hier is net rots, en geen grond wat kon wegspoel nie.

Sy onstuimige hart herinner hom skielik weer aan die Najedi, en sy oë penetreer die dieptes van die grot verder. Haastiger.

Droë stof, vol spore, lê in poele op die vloer. Tegniese gegewens flikker vinnig oor sy blik daarvan, om alle moontlike data met een kragtige sensorveeg daaruit onttrek vir die rekords.

Dan, asof ‘n soort eienaarsreg-grenslyn oorgesteek word, begin hy gebruiksartikels opmerk. Velkarosse lê opgerol saam met stokke in holtes in die rotswande. Maalklippe. By hom, sluit sy hand om die steel van ‘n ‘grawestok’, ‘n ronde klip met ‘n gat in waardeur ‘n stok gesteek, vassit naby die skerp punt daarvan. Daarmee alleen sal hy ‘n skedel kan verbrysel met een ordentlike swaai!

Sy vingers streel dit deernisvol, voordat hy sy sensors verder deur die rotskamers laat boor. Onlangse gesprekke, vasgevang in die mure, laai deur sy oë af vir later se kosbare ontleding en berging. ‘n Soort primitiewe ketel van klei, trek sy aandag. Klipgereedskap staan gerangskik in ‘n netjiese bundel op ‘n soort verwerkingsklip in die middel van die grotkamer, alles reg vir die terugkeer in die lente.

Dan vlam hoop opgewonde in hom op- Sening. Hier is seningdraad!

Die vlermuisies kyk gelate, al woelende van bo af, hoe sy hande deur die items in die rotsholte pluis. Seningdraad behoort  die inleiding te wees vir ander verbandhoudende voorwerpe, soos pyle! Dalk is hier ‘n roete uit, agter iewers! Sy makkers het nooit veel uitgebrei oor die Haillom se woonplek nie. Hy het nooit gedink hy sal nodig hê om te weet nie. Te veel vrae sou net agterdog wek. Hy gaan dus moet kyk. Die vuurmaakgoed is verlore, en nou in die hande van die Najedi.

Koud en honger, wonder hy oor X!am. As dit so stil is buite, moet hy seker al dood wees. Hy kan net hoop hulle maak hom gou van kant, en nie stadig nie. Kommer wel skielik in hom op- Wat as dit wel so is? Wat as hulle hom stadig dood martel om hulleself besig te hou, of om die een of ander dors na lydensaanskouing te bevredig? -Die een wat moet boet vir almal. Soos die Seun van God, wat sy enigste manier lewendig hier uit is.

Sekerlik sou die Najedi wou hê hy moet weet sy makker word verniel, sodat hy kan uitkom. Of het hulle skielik nie meer ‘n saak met hom nie omdat hulle wel een van die ses gekry het om al hulle vernederingsfrustrasie op uit te haal?

“Mag julle vrék van daai vleis, ***!”

Skielik prik iets van agter aan sy sensors, en die effense skokgolfies van beweging, kring as snydende sirkels oor die rotskontoere, op hom in.

Hanixab koes dadelik met sy rug plat teenaan die rotspilaar, wat direk uitkyk op die bek van die grot, en sien hoe figure met fakkels agter die vloer van die grotingang begin opkom.

Hulle’s terug! Én hulle is meer!

Dis nie net die paar wat hy laas mee slaags was nie, maar twaalf, vyftien van hulle, elk met ‘n assegaai. Hy vloek-

Fakkels wat hulle waar kry? -dink hy.

En twee van hulle dra skielik pyl en boog. Sy eie makkers se wapens! Hanixab tas sy oë vinnig om hom heen vir ander opslagwapens wat hy dalk gemis het. Ten minste het hy die voordeel van ultrasig. Maar die gloed van geleentheid vervaag vinnig in die lig van die fakkels. Opgewonde flits sy sintuie om hom rond-

God, dit is hy dié- Hier is die oomblik waarin Jy my plek moet vat, én my gedagtes…

Soos die Najedi begin sien wat om hulle aangaan, begin sprei hulle van mekaar af. Een bly agter in die bek van die grot as ‘n laaste struikelblok, sou hy skielik storm.

Versigtig trek Hanixab ‘n pyl oor sy skouer uit sy koker, en laai. Hulle weet nie hoeveel pyle hy het nie. Dus, met die laaste pyl, en die vierde man dood, kan hulle moed hulle dalk begewe. Met sy teiken uitgekies, besluit Hanixab op die ingewing van die oomblik egter om te kommunikeer-

“Julle het nou ons kos! Wat wil julle nog hê?”

Die akoestiek van die grot verdoesel sy posisie, genoeg om die Najedi te laat raai oor waar presies hy is. Toe geen antwoord kom nie, los hy die snaar.

Verste van hom af, sak ‘n figuur met ‘n ‘tjaaa!’ inmekaar. Die Najedi kyk net om, en sluip versigtig voort, kil, hulle sintuie opnuut gespits, vasbeslote dat almal van hulle, tot die laaste een, die moeite werd is, om hom te kan kry. Gelukkig, met die lae lig, tesame met hoe die kryger omgeswaai het met die trefslag, weet hulle glad nie waarvandaan die skoot presies gekom het nie. Wat meer is, dink hulle die pyl kom van na-aan die slagoffer, en die Najedi beantwoord die skoot, lukraak die donker in. Die pyl klingel skadeloos teen die rots, diep agter in die grot.

Hanixab se sensors merk die posisie waar die klank vandaan kom. Uitstekend!

Hy skuifel versigtig agteruit, agter ‘n ander ondersteunende rotsstruktuur in. Die Najedi sluip versigtig voort, oorgehaal soos slagysters.

Hanixab trek nog ‘n pyl. Sonder veel seremonie, los hy die skoot op van die figure naaste aan hom. Die kryger hik van die pyl wat hy in sy bors vashou, terwyl hy stadig afsak grond toe.

Emosieloos soos moordvisse, skil die ander steeds ongeraak die donker laag vir laag af op soek na die skutter.

Hoe nader, hoe beter! smaal Hanixab.

Twee Najedi fluister onder mekaar, voordat nóg ‘n gesteelde pyl in die donker gelos word. Steeds mis, maar nader. Hanixab weet sy posisie gaan enige oomblik nou vasgepen word. Maar hy doen wat hy moet doen, wat enige organisme deur die eeue sal doen om oorlewing, en daarnatoe! Sy tweede-laaste pyl rus in sy boog, en hy haal oor. Hy wil tref om vrees in te boesem- Gesigskote. ‘n Oog! Maar wat hy uitdeel, kan net wees wat hy weer gaan ontvang. Beter om hulle nie idees te gee nie, maar hy dink nie hulle kan iets nuuts wat onmenslikheid betref, leer nie. Lewe vir hulle is nie die kwaliteit daarvan nie, maar bloot die teenoorgestelde van dood.

Langer wag, gaan nie die pyle meer maak nie, en hy los sy snaar. Beter as wat hy verwag het, knak die voorste Najedi met stuiptrekkings grond toe- Die pyl netjies voor sy oor by sy slaap in! Agt Najedi is oor. Sy posisie word duideliker want hulle neig almal links, na hom toe. Laaste pyl, dan moet hy die ander twee wat hulle ingeskiet het, gaan kry.

Hanixab raak sy gespanne lippe aan die beensplint-punt. Die mik byt vas in die snaar, en hy trek, terwyl hy versigtig agtertoe sluip.

Uitsluitlik aan sy persepsie, span dun blougroen sensorlyne, gekruis en onsigbaar oor die bors van die grootste kryger in. Sy knypgreep aan die ent van sy pyl, bewe. Dan, in ‘n skielike wending, gooi een van die Najedi sy fakkel diep agter in die grot in. Hanixab dink vinnig soos hy korrel vir die uitgang-

As die laaste pyl kan seermaak, en die slagoffer skree, kan dit hom genoeg dekking gee om uit te spring en te hardloop vir die uitgang!

Hy los die kryger wat hy uitgekies het om volgende te skiet, en mik op die een verste van hom af. Die blou lyne van sy oogsensors skêr snuffelend oor mekaar op die teiken, en hy los die snaar.

Sy teiken los ‘n blaf van pyn, en krul stadig op sy hurke van ‘n pyl in die bobeen. Teen die tyd dat hy afgesak, omval op die gesonde kant, is Hanixab uit, en nael hy voluit vir die uitgang.

Maar die Najedi gewaar hom onmiddellik.

Met die reaksietyd beskikbaar, kan net nóg ‘n fakkel na hom toe geslinger word- Die vlammende stok woer agter hom verby, maar tref egter nie ‘n rotswand nie-

Net voor Hanixab kon spring vir veiligheid, verskyn nóg ‘n kryger om die hoek voor hom in.  Hanixab skop vas en spring om-

Tromp-op in die aankomende groep wraakhonger Najedi.

Byna kop-eerste in ‘n assegaai in, swenk hy uit die pad na regs waar die fakkel waarmee hy gegooi is, lê en smeul in ‘n aansluitende grotkamer! Hanixab spring oor die fakkel, met die Najedi  op sy hakke, en steek vas. Die Najedi se bykomende fakkels maak dit duidelik dat sy lot nou verseël is-

Dié kamer is byna sferies, waarvan die dak hoog op koepel, byna hoër as die een langsaan.

Hanixab staan vasgekeer. Om hom sprei die Najedi uit, hulle tande geelwit gegryns in hul swart gesigte. Klein ogies hou bot op hom vas- Swart irisse met witte wat moddergeel blink in die fakkellig. Hanixab staan omsingel, sy bene steeds gebuig en wyd uitmekaar-

Gereed om enige sekonde, enige plek heen te kan koes. Die Najedi kwyl behoorlik. Hanixab weet dit gaan net met ‘n wonderwerk wees dat hy hier gaan uitkom.

Agter, om hom, neem een kryger posisie in, net vir ingeval daar ‘n ontsnaptonnel iewers is. Die krygers bly eweredig van mekaar in ‘n sekelmaan voor die uitgang terwyl een, vermoedelik die Alpha-man, Hanixab stadig en konfronterend tegemoet sluip.

Sy dik lippe trek stadig voor sy groot tande weg, en sis met die grootste lus,

“Ek gaan dit geniet… om jou… laag vir laag af te skil… oor ‘n baie lang tyd…!” Hanixab voel sy vastrap op die klipperige vloer, terwyl die leier smalend afsluit,

“Dan ryg ek jou op ‘n stok, en hang jou in die wind op vir jou mense om te sien hoe die aasvoëls, wat oor is van jou, stuk vir stuk afskeur…”

Om hom hoor hy die grimmige asemhaling van die krygers, in afwagting vir sy doodsnik. Maar teen alle verwagting, korrel Hanixab sy vyand tartend in die aangesig van die nederlaag uit-

“Wat dink jy gaan jy aan my doen, indringer?”

Die leier se oë rek, byna meganies primitief, terwyl sugtinge asof van grommende honde, om hom heen fluister. Maar Hanixab is nie klaar nie-

“Voor jy en jou soort hierdie land soos sprinkane gaan verstik, Najedi, gaan jy weet ek het ‘n God wat oor my waghou!”

Sy hart klop in sy keel, sy knieë lam van die uitputting. Die hoofman se vlammende oë bly stip op Hanixab, wetende dat die Gees in Hanixab, een is wat hy nog nooit vantevore ervaar het nie.

Dan begin hy grinnik, neerhalend, satanies, wat uiteindelik ontvlam in ‘n lag. Én hy lag, ‘n harde, gemaakte uitdruk lag, intimiderend, en om te verneder. Te verkleineer-

Die een weerlose lam, omsingel deur wolwe.

Hanixab let op die smal gesig. Perfekte tande glim herbivories uit die effense uitstaanmond, met hol oë, byna dié van ‘n bobbejaan, net  voordat ‘n gaap die slagtande ontbloot-

“Jou wat? Jou god? Watter god? Jy is omsingel! Jou manne is dood, en jy is alleen. Ek kan nie dink enige god sal sy tyd met jou mors nie! –Nie in jou toestand nie!”

En met sy linkerhand, gryp hy Hanixab aan sy gerolde hare, net agter sy regteroor. Hanixab lig nie ‘n vinger nie, maar loer net oor die Najedi-hoofman se arm. Terwyl hy sy assegaai lig om hom soos ‘n insek in te pen, fluister Hanixab-

“Jesus…”

Hy wou hom net verset, toe een van die krygers teen die grotmuur meteens uitroep. Die hoofman steek vas, sy assegaai sentimeters van Hanixab se hart, met al sy haat oorgehaal agter die hef om dit deur hom te begin werk.

“Itiru!”

“Itiru! Sangedi utubai!” Almal kyk op.

Versigtig volg Hanixab die hoofman se oë na bo, waar dosyne vlermuise in die flikkering van die fakkels, teen die dak wemel. Maar ‘n verskynsel enkele meter bo Hanixab en die hoofman, sê gou dat die vertraging van sy marteldood, niks met die gevleuelde diertjies te doen het nie-

Verbaas, Hanixab ingesluit, staar die krygers na ‘n vreemde distorsie in die lug, waaragter alles sigbaar, krom intrek soos met ‘n defek in ruitglas.

Opgewonde murmureer die krygers onder mekaar, terwyl die distorsie stadig afdaal na Hanixab. Dronkgeslaan, met Hanixab steeds aan die hare beet, aanskou die hoofman hoe die verskynsel al stadiger daal, totdat dit die kruin van Hanixab se kop raak…

Fakkels en liggame rol toe ‘n oorverdowende knal met ‘n verblindende flits, almal skielik met min waarskuwing van hulle voete af ruk.

Al die krygers is neer op die grond van die skokgolf wat al die fakkels, behalwe twee, saam uitgeslaan het.

Vir elkeen is die grot nou net helderwit flikkerende sirkels soos uieringe. Niemand hoor iets behalwe ‘n harde suisende gedruis nie. Geskok en gedisoriënteerd,  kruip die  Najedi tastend  rond. Dan gaan een aan die gil toe hy onwetend oor een van die smeulende fakkels op die grotvloer kruip. Sy gegil jaag die ander meer skrik op die lyf, en van hulle hoor hoe klipbrokkies van die grot se dak om hulle neersif tussen spartelende, wollerige hopies wat fyn piepskree klankies afgee.

Angsbevange roep die Najedi na mekaar, tastende oor die grotvloer met die grillerige, aktiewe gespartel om hulle heen.

Dan skraap een van hulle in sy skok die moed bymekaar om een van die wollerige voorwerpe met mening vas te druk, en op te tel. Deur sy vernielde sig, is dit eers net die twee fakkels se ligkolle wat sy korneas flou binnedring. Soos hy die spartelende voorwerp met beide hande druk, voel hy dis ‘n vlermuis.

Dadelik smyt hy die fladderende skepsel eenkant toe, en roep vir die ander om die ander fakkels te soek. Die gebluste fakkels het egter nog genoeg hitte om gou gekry te word, en terwyl hul gehoor en sig herstel, word die verlore fakkels een na die ander weer met ‘n ander van buite aan die brand gekry.

Eerste op sy voete met ‘n fakkel, staan die hoofman in die middel van die grotvloer, steierend en kyk of hy Hanixab tussen die ander kan kry.

Half by hulle positiewe en van balans af, sukkel die krygers om hulleself bymekaar te skraap. Asof hy gewigte aan sy enkels het, trap die hoofman wydsbeen rond en snou aan hulle om hulle reg te ruk. Die krygers dwing hulleself regop soos diere met gebreekte bene. Min van hulle bly egter staande. Ander leun teen die grotwande.

Dan begin die Najedi hermobiliseer. Eerste word die grotwande al steierende en strompelende ondersoek vir ‘n ontsnaptonnel. Dan die vloer. Selfs klippe wat los is, word omgerol. Fakkels word hoër gehou om ‘n moontlike tonnel of gat in die dak te kry, maar niks. Bruusk word die krygers uitgejaag.

In die grot se ewe ruim voorkamer, swenk die krygers met hulle fakkels tussen die pyldeurboorde liggame van hul makkers deur na die agterkamers, vanwaar hulle een vir een neergevel is. Fakkels word woes rondgeswaai, ingeval Hanixab wel op die een of ander manier daar skuil. Met die soektog wat niks oplewer nie, beweeg hulle vinniger en met meer aggressie dieper in, tot waar die grot eindig. Met die hele grot se elke uithoekie deeglik ondersoek, haas die hoofman hom buitentoe.

Onder in die skeur se stormloop, sowat twee meter laer as die grotvloer, staan die kryger wat Hanixab afgekeer het, duiselig van die klippe af op. Bloed vlek die rotse waarvan hy af opstaan, terwyl ander stamlede verbaas naderkom-

“W-wat het gebeur?!” Maar die hoofman gil bloeddorstig-

“Wat makeer julle?! Agter hom aan!” Maar ‘n segsman van die eerste aanvallers vra versigtig-

“Hoofman?”

“Wie? Hier het dan niemand hier uitgekom nie!”

Bestel Gerrit van Dijk se boek T!Nax’u deur Thompson Boekdrukkery te skakel by: seunatw.yahoo.com