Toe Hulle gekom het – Hannu Lahti

Afrifiksie wil sy dank en waardering uitspreek teenoor mnr. Lahti, wat ‘n burger is van Finland, en homself Afrikaans geleer het, en sy eerste Afrikaanse WF verhaal met ons deel. Mag sy liefde vir die Afrikaanse wetenskapfiksie genre in die toekoms groei, sodat ons meer van hom hier op Afrifiksie kan lees. Mag sy voorbeeld ander persone uit Europa, wat net so lief is vir die Afrikaanse taal soos ons hulle wetenskapfiksie of fantasie verhale met ons kom deel.

Die Staatspolisie se annale in die jaar 2166: Die Groot Wanorde
Geskryf deur luitenant Johannes Mäkimaa

16-04-2169

Die begin van Die Groot Wanorde is nog steeds meer en deels onbekend. Ons het net oorblyfsels van dokumente wat bewys dat dit net enkele persone was wie se aksies die hele wanorde veroorsaak het. Een van die belangrikste dokumente is ‘n dagboek waarvan die skrywer onbekend gebly het. Die feit dat die skrywer ‘n tradisionele ou-styl e-boek, wat die data in die masjien bewaar het, gebruik het, het die bewaring van dié dokument moontlik gemaak. Die dagboek gee die gevoelens deeglik weer wat sommige mense toe ervaar het. Die dagboek is hier onder neergeskryf soos dit aangetref is:

26 April 2157

Liewe dagboekie, ek weet dis ’n bietjie eienaardig dat ’n dertienjarige seuntjie soos ek ’n dagboek deur ‘n e-boek begin skryf. Ek kan nie help om te dink dat die wêreld tog eienaardiger is as dit wat ek hier sal skryf nie. Mense sê dat ek ‘n bietjie vreemd is, dalk een of ander siekte het. Hulle sê ek ly aan Asperger sindroom wat net soos outisme is, maar net nie so erg nie. Ek stem nie saam met hulle nie, want ek voel heeltemal gesond. Dat ek sommige van die offisiële waardes teenstaan, kan tog nie beteken dat ek siek is nie.

10 Mei 2157

My onderwyseres het my weer gekasty. Gedurende ‘n les het ons oor die Interplanetêre beskawing gesels en ek het gesê dat die tyd voor die ruimtewesens se aankoms ook sy voordele gehad het. Die onderwyseres het skielik baie kwaad geword en sy het gesê ek het kriminele gedagtes. Sy sê dat as ek nie my mening (opinie) verander nie, ek ‘n donker toekoms tegemoetgaan. Ek het haar gevra hoe gedagtes krimineel kan wees, maar sy wou nie verder met my praat nie. Sy het my na die skoolhoof se kantoor gestuur en ek het my straf ontvang. My foto hang nou teen die skool se muur met onderskrifte wat ander leerlinge waarsku dat ek kriminele neigings toon. Ek is nie seker of ek my daaroor moet bekommer nie.

12 Mei 2157

Ek het vandag ‘n lang gesprek met my pa gehad. Eerstens het hy my aangeraai tot stilte. Hy sê dat dit nie die moeite werd is om met die skool se onderwysers te baklei nie. Hulle het hul pligte wat hulle bind en dus kan hulle nie anders as om die wette en reëls na te volg nie. Gelukkig stem hy saam met my dat die huidige situasie slegter as voorheen is.
Tweedens het hy die werklike situasie op die aarde en die gebeure wat tot hierdie situasie gelei het aan my verduidelik . Ek het natuurlik nie alles verstaan nie, maar nou weet ek dat ons eie land nie werklik oor selfbeskikking beskik nie. Ons is net ‘n klein deelstaat onder die Wêreldregering. Eintlik weet niemand waar die mag werklik lê nie. Daar is net baie verskillende gerugte.

Pa vertel ook van die nuwe waarde wat ons nou verplig word om aan te hang. Die nuwe Interplanetêre metode vereis nie alleen respek vir die ruimtewesens wat nou tussen ons lewe nie, maar ook dat ons moet aanpas in ‘n nuwe soort lewe. Ons leiers sê dat alle lewe in die heelal absoluut gelyk is en daarom moet ons byvoorbeeld aanpas by intelligente wesens wat in waterpype bly en menslike uitwerpsels wil eet. En by lewelose lewe, sê hulle. Ek kon ‘n grootskaalse teenstrydigheid tussen hierdie gedagtes merk, maar ek voel nou dat ek nie meer my eie gedagtes durf uitspreek nie. En al is dit reeds uiters kranksinnig is hulle beslis nie die ergste nie. Minister ietsofanders het ook aangekondig dat ons eie aardse lewe geen werklike lewe was nie en dus moes ons baie nuwe lewende invloede gekry het. Ons aardse lewe was ‘n.

Pa voeg by dat die pad tot ons huidige situasie al dertig jaar voortduur. Eerstens het ons die eerste kontak met vreemde intelligente wesens deur radio-astronomiese stelsels gemaak. Die mensdom was baie bly dat hulle nie meer alleen in die heelal was nie. Daar was ander wesens ook in die heelal. Sommige van die wesens het gou gevra of hulle na die aarde mag verhuis. Daar was niemand wat die gawe ruimtewesens se versoek wou teenstaan nie.
Later het die mensdom besef dat daar ook baie ander intelligente lewensvorme is, dalk te veel.

Gou het die aarde se mense besef dat hulle baie soorte intelligente wesens, wat na hulle planeet wil verskuif, sal moet ontvang. Toe begin ons leiers aankondig dat ons op pad na ‘n Interplanetêre beskawing is wat almal se lewens sal verbeter. ‘n Beskawing wat ryk is aan intelligente lewensvorme en hulle eie maniere, is die enigste beskawing wat in die toekoms sal kan oorleef, het hulle ons onderwys. Dus moet ons begin om ons eie wette en die ruimtewesens se gewoontes saam te smelt. Al die ruimtewens se gebruike moet ‘n plek hê op die aarde. Dat dit ook baie duur geword het vir die belastingbetalers maak nie saak nie. Ook dat ons storthokkies en kleihuisies baie onveilig geword het. En dat die lewe self onvoorspelbaar geword het. Die leiers sê dat ons ons skuld moet betaal deur die Intelligente lewensvorme uit die heelal op ons planeet te vestig, maar niemand van hulle kan ons vertel wat die skuld is en hoekom die skuld betaal word met ‘n inteplanetêre beskawing en wanneer die skuld uiteindelik betaal is nie.

Daar was mense wat hierdie veranderde idees wou teenstaan. Hulle het ook politieke mag gekry, maar toe begin die Wêreldregering sy teenaanval. In al die lande van die wêreld het die wette verander en gedraai in ‘n koers wat die kritisering van die Interplanetarisasie onwettig gemaak het. Die kritiseerders word genoem “die mense wat die lewe haat”. Baie mense wat byvoorbeeld op die Internet in hul Blogs geskryf het, is gestraf en in tronke gesit.

15 November 2158

Ek voel nou beter. Ek het medisyne gekry wat my gees kalmeer. Ek was ook in ‘n hospitaal waar ek die beste versorging ontvang het en ek kon my mening verander. Nou stel ek nie meer belang in die vrae oor ons samelewing se probleme nie. Ek dink ek kan nou goed aanpas in ons ongelooflike Interplanetêre sisteem. Ek het nie meer hierdie dagboek nodig nie.

30 April 2165

Ek moet uiteindelik erken dat ek verkeerd was. Die erkenningsproses het lank voortgegaan en ek moes dit hard probeer teenstaan, maar nou is ek seker dat ek nog steeds hierdie dagboekie benodig. Die nuwe proses het in my kop begin toe Hulle gekom het. Hulle was wesens wat hulle eie planeet vir een of ander rede moes verlaat. Ek was een van die eerstes wat Hulle hier met ‘n breë glimlag en ope arms verwelkom het. Ek het gereken dat Hulle teenwoordigheid nog een ding meer is wat ons eie lewe ryker sal maak. Ek was baie bly dat Hulle hier gesit was deur die Wêreldregering se magtige bevele. Om die waarheid te sê was ek bietjie verbaas dat die ander lande in die wêreld Hulle nie wou ontvang nie. Ons eie plaaslike leiers was ook verbasend teësinnig om Hulle hier te hê.

Nou voel ek skaam nadat ek dit nie duidelik kon sien nie. Ek is nie meer ‘n kind nie en ek moes dit besef het. Ek studeer nou by die Universiteit en behoort aan die “Intelligensia”. Die Wêreldregering het Hulle in ons land gesit net omdat ons ‘n klein land is en nie sy bevele kon teenstaan nie. Die Regering het Hulle in ons midde gegooi en gesê dat ons nou die probleem self moet oplos.

6 Mei 2165

Dat een soort wese in ons mooi Interplanetêre aarde ‘n probleem sou wees, was ‘n gedagte wat nie maklik verklaar kon word nie. Ek was tot nou toe nog nie in staat om dit te doen nie. Daar is nou ‘n blywende verleentheid wat my sal irriteer. Wat moet ek nou doen?

27 Mei 2165

Die wyses waarop ons plaaslike regering die probleme nou probeer oplos, is verwarrend. Daar is geen sprake van die bewaring van Hulle lewensstyl nie. Die Minister van binnelandse sake sê die staat se geld is onvoldoende om in Hulle behoeftes te voorsien. Almal weet dis ‘n leuen. Daar is nog steeds geld vir die opleiding van mense tot Interplanetêre maniere en aanpassing tot lewe by wesens wat byvoorbeeld mense se lyke wil eet. Maar hoekom nie Hulle lewenswyse nie?

‘n Ander minister wat nie so slim is nie, het vanoggend oor die nuuskanaal aangekondig dat Hulle gewoontes en kultuur net soos ons s’n is. Hy het gesê dis geen werklike lewe nie en dit is nie moeite werd om te bewaar nie. Daarom moet dit ook in die Interplanetêre lewensstyl saamgesmelt word.

Nou weet ek dat ek met Hulle moet probeer vriende maak. Ek moet weet hoekom is Hulle soveel anders as al die ander ruimtewesens wat hul deesdae op ons ou aarde vestig.

16 Julie 2165

Dit was beslis nie ‘n maklike taak om met Hulle vriende te maak nie. Hulle is baie bitter en agterdogtig teenoor die mense en veral teenoor die wat Hulle as amptelike verteenwoordigers beskou. Hulle noem die verteenwoordigers van die staat die Onderdrukkers. Hulle sê hulle was onderdruk deur die ander intelligente ruimtewesens van Hulle planeet en dus moes Hulle daarvandaan vlug. Die Onderdrukkers was wesens wat Hulle beskuldig dat Hulle die natuur self onderdruk het. Die meeste van Hulle het tot nou toe hulle planeet verlaat, maar Hulle sê ook dat daar nog steeds ‘n klein gebied op hul planeet is waar Hulle eie lewensmaniere bewaar word.

Vandag het ek aan ‘n verhaal dink wat my pa jare gelede vertel het. Hy het vertel hoe hy ongeveer 35 jaar gelede met een van sy vriende by ‘n kroeg op barstoele gesit het en oor die verrassende nuus oor die kontak met vreemde intelligensie gesels het. My pa het gereken dat daar gou volk vanaf Hulle planeet die aarde sou binnestroom. Die vriend het gesê dat dit ‘n lagwekkende toneel sou wees om hierdie volk in die ruimtestasie se voorportaal te sien. My pa het hom vererg vir sy vriend en vir hom gesê dat dit nooit lagwekkend kan wees as iemand sy planeet moet verlaat nie. Hierdie keer moet ek met my pa saamstem. Vir een of ander rede was my pa altyd geïnteresseerd in Hulle en hy was bekommerd oor Hulle toekoms. Ek self is nie so geïnteresserd in spesifieke ruimtewesens nie, maar die aanhoudende situasie irriteer my in so ‘n mate dat dit my studie en my hele bestaan affekteer.

27 September 2165

Noudat ek vriende gemaak het met sommige van Hulle weet ek Hulle is ‘n doodgewone volk. Daar is geen rede vir die onderdrukking nie. Ek besef nou ook dat baie dinge in ons samelewing verkeerd loop en Hulle is net plaasvervangers vir ons eie skuldgevoelens. En die skuldgevoelens self is die onderdrukker wat ons gedurigdeur laat skuldig voel en daardeur word ons maklik beheer deur die huidige Wêreldregering . Ek weet nou ook wat my eie lot sal wees. Ek en sommige van my vriende het saam met sommige van Hulle mense ‘n teenvoeter-groep gestig. Ons is dus gereed om die huidige sisteem teen te staan wat ons beskou as onderdrukkend van aard. Ons weet nog nie watter metode ons sal gebruik nie, maar party van ons is selfs gereed vir geweld. Ek self wil nie hê dat ons teenstand van geweld gebruik maak nie, maar dat dit meer soos propaganda-oorlog sal wees teen die wat ons as die onderdrukkers beskou.

6 Desember 2165

Vandag is dit die 247ste Onafhanklikheidsdag van ons ou land. Of dit was voorheen die Onafhanklikheidsdag, maar deesdae word dit die Interplanetêre-dag genoem. Maar dis nie meer belangrik nie, want ons word nou deur die polisie se veiligheidsbeamptes gesoek. Ons groep het besluit dat ons nie geweld sal gebruik nie, maar daar was geen kans om die sisteem op vreedsame wyses teen te staan nie. Ons het byvoorbeeld toneelstukke waarin ons die staat se situasie kritiseer, by die Universiteit se kampus aangebied. Volgens die veiligheidsbeamptes is die kritisering van die huidige samelewing met al die vorderinge ‘n misdaad. Dis skrikwekkend om te sien dat die polisie ons almal reeds ken alhoewel ons probeer het om onbekend te bly. Ek dink ons het geen ander keuse meer nie as om as ‘n ondergrondse beweging voort te gaan. Ons is almal redelik ontmoedig omdat ons besef dat die regering se mag baie sterker is as wat ons gedink het. Al die nuusskerms aan die geboue se mure het oor die hele vasteland van laat oggend af aangekondig dat die volgende sewe persone, waarvan drie aarde se stadbewoners en vier sonder burgerskap is, gesoek word deur polisie omdat hulle gevaarlike misdadigers is: Mikko Laaksonen, Mohammed Zidan, Jaana Lahtinen, Zhao Yi Nong, Vladimir Stepanov, Lucinda Pienaar en ek.”

Die dagboek het hier bo uitgeloop. Dit word beskou dat dapper mense, waarvan ook díe dagboek se skrywer, die sleutelpersone was wat die mensdom wakker gemaak het. Dit blyk ook dat toe die mense uit die Mars kolonie teruggekom het, het die voormalige Wêreldregering sy ware kleure gewys. Die rebelbeweging het gedurende die jaar 2166 uitgebrei tot die omwenteling wat die vryheid van die voormalige onderdrukkende sisteem aan die mensdom gegee het en miskien die hele mensdom gered het van die ruimtewesens se verowering. Die Onbekende Dagboekieskrywer Se Dag wat elke 25 April in al die skole gevier word word gevier ter ere van hierdie dagboek se skrywer. Die ondersoeke met die Groot Wanorde saak gaan voort.

©Hannu Lahti