Waarom is ons?

Dis die groot vraag. Wat is die doel? Waarom? Vir wat? Hoekom? Is daar ‘n rede?

Ja, sonder ‘n rede is dit natuurlik ‘n sinnelose oefening om voort te ploeter.

Om te spekuleer oor dinge is ‘n diepgesetelde eienskap van die mensdom. Tewens, verbeelding self is ‘n onderliggende funksie wat skyn eie aan die mens te wees. En hierdie eienskap kan slegs gedeel word met ander indien dit uitgedruk kan word op die een of ander manier, en dit kan bloot oorleef indien dit op die een of ander manier op ‘n blywende medium vasgevang kan word wat nie bloot van die geheue van mense afhanklik is nie.

Die skeppinge van die verbeelding is ‘n nis wat groot populariteit geniet op die internasionale verhoog, maar dit vind nie ‘n dienooreenkomstige mate van aanhang in Afrikaans nie – ten spyte van die feit dat die taal maar half ‘n direkte voortvloeisel is uit die lande en tale wat wel ‘n sterk teenwoordigheid het in die verskeie fasette van hierdie verbeeldingsvlugte. Hierdie verskynsel is nogal raaiselagtig en daar kan verskeie teorieë opgedis word om dit te probeer verklaar – maar hierdie is nie die plek daarvoor nie.

Die feit is egter dat Afrikaans wel gebloei het tydens die tegnologiese ontploffings van die twintigste eeu, en daarom ook aan die spekulasie wat dit vergesel het. En as ‘n ontwikkelde taal wat grootliks uit Europese tale ontstaan het, het dit die nodige wydte en diepte om die mees wonderbaarlike konsepte uit te druk en in die verbeelding van ander te laat vorm aanneem.

Wat ons weet, is dít:  dat Afrikaans wel ‘n erfenis in WF+F besit, dat daar steeds ‘n klein dog aktiewe huidige belangstelling bestaan  – en dat die versameling van skeppings steeds uitbrei deur aktiewe deelname. Om dus vir hierdie mikrokosmos ‘n platform te gee, al is dit dalk ook die enigste rede, glo ons in die noodsaaklikheid vir die bestaan van Afrifiksie as ‘n baken vir hierdie saak.

Afrifiksie gebruik die volgende raamwerk (wat van tyd tot tyd hersien word) as ‘n afbakening om gefokus te bly.

  1. Om Afrikaans te bevorder en uit te brei in ‘n spesifiek afgebakende veld van spekulatiewe fiksie.
  2. Om, sover dit prakties is, tot die fantastika beperk te bly en nie na ander genres oor te spoel nie, met spesifieke klem op die wetenskapfiksie en fantasie as vernaamste vertakkings.
  3. Om ‘n inligtingsplatform in stand te hou wat diegene wat ‘n belangstelling op hierdie gebied het, te bedien.
  4. Om ander inligting, wat verband hou met WF+F, toe te lig.
  5. Om tred te hou met verwikkelinge in hierdie veld uit die res van die wêreld, en inligting daaroor te deel.
  6. Om Afrikaanse deelname in dié veld aan te moedig en dít wat reeds bestaan, sover prakties, te vermeld.

Dis onwaarskynlik dat Afrikaans sal doodloop, maar sal dit sy skoene kan bly volstaan tussen ander tale as ‘n taal wat toegerus is vir hoër orde funksies? Sal dit ‘n relevante taal kan bly waarin enige persoon wat dit só verkies, ‘n boek oor ‘n relatief ingewikkelde onderwerp daarin kan skryf sonder om woorde uit ander tale te gebruik of om ‘n doktorsgraadverhandeling in ‘n wetenskaplike veld daarin te kan voltooi? As volwasse en volwaardige taal was dít presies die plek wat Afrikaans beklee het.

Vir Afrikaans om sy hoë vlug te behou saam met ander tale wat op akademiese vlak aangewend kan word, en nie te degenereer tot bloot ‘n lekker taal vir straat- en huisgebruik, die sing van lekker liedjies en vir die bywoning van sportbyeenkomste en feeste nie, sal dit sy vakteenwoordigheid in al die diverse fasette van menslike onderneming in stand moet hou. En vir ons is die fantastika een van daardie fasette – altemit een van die meer vrugbares wat chronies nuwe terme voortbring om hierdie opwindende wêreld van drome te kan beskryf – en Afrifiksie is deel van daardie toekoms.

Viva Afrikaans!!  Viva!