Wat is wetenskapfiksie (WF)?

Wetenskapfiksie of WF is ‘n wye genre van fiksie wat dikwels op huidige of toekomstige wetenskaplike, mediese en tegnologiese spekulasies gebaseer is.

Dit maak ook gebruik van kreatiewe en verbeeldingryke elemente wat nie gevind kan word in eietydse realiteit nie, maar wat binne die konteks van die storie elemente bevat wat haalbaar kan wees binne die raamwerk van wetenskaplike prosesse en natuurwette.

Sub-genres van wetenskapfiksie:
Alternatiewe geskiedenis

Altenatiewe geskiedenis verhale, as sub-genre van die wtenskapfiksie, is gebaseer op die beginsel dat historiese gebeurtenisse heel moontlik anders verloop het. Hierdie stories kan gebruik maak van tydreise om die verlede te verander, of speel bloot net af in ‘n ander heelal of tydvlak met ‘n ander geskiedenis as wat aan ons bekend is.

Parallelle wêrelde of sterrestelsels is dikwels ook deel van hierdie sub-genre waar daar gekyk word na ‘n karakter(s) in ons wêreld en sy of haar dubbelganger in ‘n parallele dimensie of alternatiewe wêreld, en hoe dinge anders sou verloop het vir die karakter(s) sou hy of sy ander keuses gemaak het.

Ander wêrelde

Ander wêrelde as sub-genre van die WF is die skep van ‘n heeltemal fiktiewe wêreld of heelal, waarvan die geografiese, chemiese, sosiale strukture, ens. totaal en al van ons eie verskil. Ander wêrelde stories word gewoonlik gekenmerk deurdat dit geen mense bevat nie maar hoofsaaklik bestaan uit karakters van ‘n ander spesie.

Eindtyd

Eindtyd, as sub-genre van wetenskapfiksie, handel oor die einde van ‘n beskawing of die mensdom self deur oorlog, siekte, astronomiese impak, ekologiese ramp, of deur die mens se eie toedoen, of enige ander onvoorsiende oorsaak wat vernietiging of totale uitwissing teweeg kan bring. Eindtyd WF is meer besorg oor die ramp self en die gevolge daarvan, waar ‘n post-eindtyd storie gewoonlik handel oor die lewe van die karakter(s) na die ramp en hulle oorlewingstryd om weer ‘n beskawing op te bou.

Ekstra-sensoriese persepsie

Ekstra-sensoriese persepsie, as sub-genre handel gewoonlik oor karakters of vreemde wesens met ‘n natuurlike vermoë wat telepatie, psigokinese, teleportasie, levitasie, dwang, prekognisie, helderseindheid, ens. insluit, en hoe hulle hierdie vermoëns gebruik om goed te doen of hulle stryd tot aanvaarding te soek in ‘n samelewing wat hulle as fratse sien. Hierdie sub-genre moet nie verwar word met supermens-wetenskapfiksie nie.

Godsdienstige

Godsdienstige wetenskapfiksie is gewoonlike ‘n toekomsverhaal met ‘n openlike godsdienstige ondertoon, waarvan die hoofkarakter(s) in hierdie spesifieke sub-genre se aksies en besluite beheer word deur hulle godsdienstige oortuigings en word ook terselfdertyd berispe deur die einste geloof. Ondulan (2011) deur Gerrit van Dijk is ‘n meesterwerk in hierdie sub-katagorie.

Habitat

Habitat stories handel oor mense wat leef in koepels, generasieskepe, asteroïdes, ruimtestasies ens. om hulle te beskerm teen vyandige spesies of om hulle teen gevaarlike omstandighede, hetsy dit atmoferies, water of natuur rampe, is. Wotan SQ7 deur Pieter Steen (1989) neem ons na so ‘n wêreld.

Harde-wetenskapfiksie

Harde-wetenskapfiksie of “harde WF,” word gekenmerk deur streng aandag te skenk aan die noukeurige en korrekte besonderhede op die gebied van sterrekunde, fisika, astrofisika en chemie, of om wêrelde akkuraat voor te stel wat moontlik sou ontstaan het, sou dit oor beter tegnologie beskik het. Baie akkurate voorspellings van die toekoms kom van harde wetenskapfiksie as sub-genre, maar baie verkeerde voorspellings het ook al voorgekom. Harde WF skrywers onderskei hulle self as werkende wetenskaplikes, in die veld van die wetenskap, wiskunde en ingenieurswese.

Kloon

Kloon stories, as sub-genre van wetenskapfiksie handel meerendeel oor genetiese ingenieurswese of manipulasie, maar, meer nog oor die morele en etiese gevolge wanneer die mense probeer om God te wees. Die populêre denkrigting is dat ‘n gekloonde mens nie ‘n siel het nie omdat hy of sy nie deur God geskep is nie, maar vervaardig is in ‘n mens se laboratorium. En juis is dit vir hierdie rede dat die gekloonde karakter(s) in die stories uitgebeeld word as die slegtes ouens.

Kuberpoen

Die Kuberpoen sub-genre handel gewoonlik oor hoë-tegnologie in die nie-so-verre toekoms en speel gewoonlik in ‘n distopie (wat geken word deur ellende en armoede) samelewing af. Die hoof tema handel oor die vernietiging van die mensdom as gevolg van vooruitgang op die gebiede van inligting tegnologie, die kuberruimte, kunsmatige intelligensie, nanotegnologie, robotte en kunsmatige ledemate in ‘n post-demokratiese samelewing waar groot maatskappye meer beheer het as die regering. Kuberpoen is gewoonlik ‘n waarskuwing, wat moontlik verkeerd kan gaan as tegnologie in die verkeerde hande val.

Militêre

Militêre wetenskapfiksie speel gewoonlik af in ‘n tyd van konflik tussen nasionale, interplanetêre, of interstelsels, waar die hoof karakter(s) gewoonlik soldate is. Verhale sluit die gebruik van tegnologiese wapens, rituele, prosedures en geskiedkundige besonderhede in wat gefokus is op die doen en late van ‘n soldaat se aksies en psigiese stryd in die weermag. Dit kan afspeel parallel aan werklike geskiedkundige oorloë, maar gewoonlik net op ‘n ander plek en tyd, of selfs met ander vreemde spesies, om vryheid, oorlewing of die beskerming van een se natuurlike hulpbronne.

Onsterflikheid

Onsterflikheid, en die soeke daarna is so oud soos die mensdom self, en dit is juis na hierdie soeke waaroor die onsterflikheid WF storie handel. Dit is verhale van mense wat op soek is na hul eie vorm van onsterflikheid, en tot watter uiterstes hul sal gaan, en hoe laag hulle bereid is om te daal, om dit te vind en te bekom. Die onsterflikes van Jeanette Ferreira (1995) kyk na hierdie onderwerp.

Robot

Robot stories is so oud soos die industriële revolusie self. Mense word vervang deur meganiese, stoom en elektriese masjiene. Dus handel meeste van hierdie sub-genre oor die stryd tot oorlewing waar robotte altyd aan die kortste end trek. Met die revolusie in gedagte is die vervaardiging en ontwikkeling van robotte se doel altyd om die mens te dien, maar wat gebeur as die robotte saamstaan teen hulle meesters? Wat gebeur wanneer ‘n mens homself nie meer kan onderskei van robotte nie? Hierdie sub-genre kyk gewoonlik na die liefde vir robotte of die stryd teen hulle.

Ruimtereis

Ruimtereis as sub-genre van wetenskapfiksie handel gewoonlik oor die mensdom se reise deur ons eie sonnestelsel of na ander onbekende sterrestelsels, om watter rede ookal. Reisigers in die Ruim van Arthur E. Bleksley (1961) is juis so ‘n verhaal.

Ruimte sepies

Ruimte sepies is avontuur wat afspeel in die ruimte, of op ander planete, waar die klem lê op aksie en liefde eerder as die wetenskap of karakterisering. Die stryd en botsings is gewoonlike heldhaftig en oordrewe. Wetenskap is gewoonlik nie feitlik nie en die karakters is maar dun “ingekleur”. Die ontdekking of kontak maak van vreemde wesens of spesies van ander stelsels en planete, wat kan lei tot konflik, oorloë of ‘n ooreenkoms tussen die vreemdelinge om teen ‘n gesamentlike vyand te baklei of uitruil van tegnologie waar beide voordeel trek val gewoonlik onder hierdie sub-genre van wetenskapfiksie.

Sagte-wetenskapfiksie

Die beskrywing “sagte” wetenskapfiksie sluit gewoonlik werke in wat gebaseer is op die sosiale wetenskappe soos biologie, sielkunde, ekonomie, politieke wetenskap, sosiologie en antropologie. Die term beskryf stories wat hoofsaaklik handel oor ‘n karakter en gevoelens. Verwante spekulerende fiksie van Sagte WF en Sosiale WF sluit die Utopie of ‘n distopie samelewing in.

Supermens

Supermens stories handel oor mense wat oor die vermoë beskik wat ver bo die vuurmaakplek van die gewone mens is. Dit kan spruit uit ‘n natuurlike oorsaak, of die inmengeing en manipulasie van DNS deur sekere organisasies, regerings of as ‘n eksperiment wat skeef geloop het. Hierdie verhale handel gewoonlik oor die vervreemding van hierdie supenmense en die samelewing se reaksie teenoor hulle. Die rol van hierdie sub-genre van wetenskapfiksie handel oor die tema van menslike verbetering en die gevolge daarvan.

Tydreis

Tydreis sub-genre word gekenmerk deur gebruik te maak van ‘n toestel, masjien of uitvindsel om akkurate tydvakke te besoek, hetsy om in die verlede of in die toekoms ‘n beplande en noukeurige taak te verrig, om die geskiedenis te verander of om ‘n gunstige toekoms vir die mensdom te bewerkstellig. In ander gevalle weer, word die tydreis moontlik gemaak deur ‘n frats ongeluk (weerlig, kwantumskeur, ens.) waar ‘n karakter(s) weer hulle pad terug na hulle eie tyd moet soek, en sodoende ons saam neem op ‘n tydreis. Tydreis stories is gewoonlik moeilik as gevolg van logiese probleme, wat bekend staan as die “oupa paradoks”. Swart ster oor die Karoo van Jan Rabie (1957) ondersoek hierdie moonlikheid.

Vreemdeling

Vreemdeling wetenskapfiksie handel oor vreemde wesens vanuit die buitenste ruimte of wat van ‘n ander planeet afkomstig is en die aarde kom besoek of om die aarde te kom aanval. Hierdie sub-genre handel gewoonlik oor die mens se optrede teenoor so ‘n besoek en kyk na die moontlikheid dat die mens dalk heel primitief is in vergelyking met besoekers van ‘n ander sterrestelsel en dat ons verstandelike vermoëns ook heel onderontwikkeld is ten spyte daarvan dat die mens homself voorhou as “slim”. Loeloeraai van C.J. Langenhoven (1923) handel juis oor hierdie onderwerp.

Wetenskapfiksie vir tieners

Wetentskapfiksie vir tieners is avontuur wat enige jongeling se verbeelding aangryp, sonder dat enige sterk tema na vore kom. Dit het geen voorgeskrewe reëls nie en die meeste van die WF vir tieners gehoorsaam selde of ooit die natuurwette, terwyl van die werke tog elemente van die werklikheid bevat. Meeste WF vir tieners kombineer die sub-genres om ‘n meer kleurvolle en verbeeldingryke storie oor te dra.