Wat is wetenskapfiksie?

Wetenskapfiksie of WF is ‘n wye genre van fiksie wat dikwels op huidige of toekomstige wetenskaplike, mediese en tegnologiese spekulasies gebaseer is.
Dit maak ook gebruik van kreatiewe en verbeeldingryke elemente wat nie gevind kan word in eietydse realiteit nie, maar wat binne die konteks van die storie elemente bevat wat haalbaar kan wees binne die raamwerk van wetenskaplike prosesse en natuurwette.

Ons gaan na die volgende sub-genres binne die Wetenskapfiksie kyk:

  • Aardse Wetenskapfiksie;
  • Alternatiewe Geskiedenis;
  • Distopiese Wetenskapfiksie;
  • Eerste Kontak;
  • Galaktiese Ryke;
  • Gedagte-oordag;
  • Generasieskip;
  • Glipstroom;
  • Harde Wetenskapfiksie (HWF);
  • Humoristiese Wetenskapfiksie (Satire-WF);
  • Katastrofe;
  • Kolonisasie;
  • Kuberpoen / Kuberpunk;
  • Kunsmatige Intelligensie (K.I.);
  • Menslike Ontwikkeling;
  • Militêre Wetenskapfiksie;
  • Mitiese Wetenskapfiksie;
  • Mutante Wetenskapfiksie;
  • Nabye-toekoms;
  • Nanotegnologie;
  • Ontsterflikheid;
  • Opheffing;
  • Parallelle Heelal / Alternatiewe Werklikheid;
  • Robot en Androïde;
  • Ruimte Sepie;
  • Ruimte Verkenning;
  • Sagte Wetenskapfiksie (SWF);
  • Singulariteit;
  • Skynwerklikheid;
  • Sterwende Aarde;
  • Stoompoen / Stoompunk;
  • Teologiese Wetenskapfiksie;
  • Terravorming;
  • Tydreis;
  • Utopie;
  • Vreemdeling Wetenskapfiksie (Xeno-WF);
  • Wetenskap Fantasie;
  • Wetenskapfiksie vir tieners.

Aardse Wetenskapfiksie:

Die Aardse WF beweging is geïnspireer deur ‘n idee van Julian Todd, en is gestig in 2002 tydens die Clarion werkswinkel wat aangebied was deur onder andere die romanskrywer Geoff Ryman en word ook soms verwys na as Terra Wetenskapfiksie.

Aardse Wetenskapfiksie is dus stories wat afspeel op of naby die Aarde en lei gebrek van die reis tussen die sterre of kontak met vreemdelinge. Dit maak gebruik van oortuigende tegnologiese en wetenskaplike middele, teorieë en voorwerpe soos dit bestaan op die tydvlak (huidiglike kennis) wanneer die storie geskryf is.

Die sentrale idees is:

  • Dat interplanetêre reise, wringaanjaers, wurmkolke en ander vorms van vinniger-as-lig die vervulling van fantasie is eerder as ernstige spekulasie oor ‘n moontlike toekoms;
  • Dat ongegronde spekulasie oor interplanetêre reise kan lei tot ‘n illusie van ‘n heelal met baie bewoonbare planete soos die Aarde wat ook onwaarskynlik is;
  • Dat hierdie droom van oorvloed elders in die sonnestelsel vermorsing hier op Aarde kan aanhits;
  • Dat daar geen bewyse hoegenaamd is van intelligensie elders in die heelal is nie;
  • Dit beteken dat interplanetêre handel (kolonialisme, oorlog, federasies, ens.) dus ook hoogs onwaarskynlik is;
  • Dat kommunikasie met intelligente wesens oor groot afstande baie lank sal neem en dis vir hierdie rede dat dit onaanvaarbaar is;
  • Dat die mees waarskynlikste toekoms een is waarin ons net onsself en hierdie planeet het.

Alternatiewe Geskiedenis:

Alternatiewe geskiedenis is geensins onbekend in die letterkunde nie (waarvan die vroegste voorbeeld hiervan gevind kan word in Boek IX, artikels 17-19, van Titus Livius se Ab Urbe condita, tussen 27 en 25 v.C.) maar het sedert die 1950’s groot aandag begin geniet onder die spekulatiewe wetenskapfiksie. Dit word moontlik gemaak deur tydreise tussen ‘n alternatiewe geskiedenis of die psigiese bewustheid van die bestaan van “ons” heelal met mense van ‘n ander, of ‘n gewone optyd reis (in die verlede) of stilstand (in die toekoms) wat die geskiedenis verdeel in twee of meer tydvlakke.

Tydkruising, tydsplitsing en alternatiewe geskiedenis as afsonderlike temas is nou so verweef dat dit vandag feitlik onmoontlik is om hulle van mekaar te onderskei en te bespreek.

Alternatiewe wetenskapfiksie maak gebruik van werklike geskiedkundige gebeurtenisse in ons eie tyd en stel ‘n wêreld voor wat die vraag vra, “wat as die geskiedenis anders ontwikkel het?

Die meeste werke in hierdie subgenre is opgeneem in die werklike historiese konteks, met die verskil daarin dat sosiale, politieke of industriële omstandighede verskillend ontwikkel het of teen ‘n aangepaste tempo plaasgevind het.

Distopiese Wetenskapfiksie:

Distopiese Wetenskapfiksie is die teenoorgestelde van Utopiese Wetenskapfiksie en is fiktiewe stories wat ʼn samelewing uitbeeld met uiters haglike omstandighede en negatiewe eienskappe waarin die mense onderdruk en beheer word deur totalitêre owerhede.
Distopiese Wetenskapfiksie probeer dus die mens waarsku teen die moontlike gevolge van sekere optredes en denkrigtings.

Die sentrale idees is:

  • ʼn samelewing waarin geen vryheid meer bestaan nie en wat bestuur word deur ʼn totalitêre regering;
  • ʼn samelewing wat gekontroleer word deur robotte of rekenaars;
  • totale oorheersing en skending van die persoonlike privaatheid deur owerhede en instellings;
  • ʼn samelewing waarin alles en elkeen dieselfde is en waar uitinge van kultuur en emosies streng verbode is;
  • ʼn samelewing waar mense slegs dien as voedsel of as orgaanskenkers; en
  • ʼn wêreld waar die mensdom feitelik uitgesterf het na ʼn kernoorlog, siekte of enige ander ramp.

Romans in die Distopiese Wetenskapfiksie:

  1. ENGEL VAN DIE NAG – Eben van Renen (Thompson Boekdrukkery, 2015)

Eerste Kontak:

Eerste Kontak in die wetenskapfiksie handel oor die eerste ontmoeting of bewuswording van ander wesens in ons heelal. Dit kan wees dat hierdie ruimtewesens aarde toe kom, of die mensdom wesens elders in die ruimte ontdek.

Die sentrale idees is:

  • dat die mensdom sukkel om te glo dat ons die enigste wesens is in die heelal, en vir hierdie rede ondersoek Eerste Kontak die implikasies wat dit sal inhou sou wesens vanuit die buitenste ruimte op ons stoep kom land;
  • dat vreemde wesens ons besoek uit kommer oor die mensdom se negatiewe invloed op die natuur en teenoor mekaar, maar meer omdat die mensdom na die sterre mik, wat vreedsame wesens bekommerd maak;
  • dat daar wesens is wat ons besoek vir hulle eie donker agenda, om die planeet vir hulle self toe te eien, die mensdom as slawe te gebruik, of al ons hulpbronne vir hulle eie gewin op te eis;
  • dat hier na die mensdom se gedrag gekyk word as goed of sleg teenoor meer beskaafde, intelligente wesens, of, wesens se gedrag en optrede teenoor die mensdom;
  • die ondersoek na van wat ons as intelligente wesens beskou teenoor wat “hulle” as intelligente wesens beskou;
  • soos die Eerste Kontak as sub-genre ontwikkel het so het dit ook maklik geword om ruimtewesens te erken, wat net bietjie meer as ʼn eenvoudige kombinasies van diere en soms plante is – met ʼn bykomende vaardigheid soos telepatie. Sommige verhale het ook intelligente wesens verken op grond vaste stowwe, gasse of energie velde.

Romans in die Eerste Kontak:

  1. LOELOERAAI – C.J. Langenhoven (Thompson Boekdrukkery, 2012)
  2. Winter van die NOVA – Pets Marais (Retief Uitgewers, 1984)

Galaktiese Ryke:

Galaktiese Ryke maak gebruik van ʼn enkele of verskillende ryke in een of meer sterrestelsels – afhangende van die bestaande tegnologie tot die karakters se beskikking.

Die sentrale idees is:

  • dat daar gekyk word na die ontstaan, groei of agteruitgang van sodanige ryk of ryke. Dit is gewoonlik gebaseer op die Romeinse Ryk, of ʼn ander bestaande ryk in die mens se geskiedenis;
  • dat die hoofstad van ʼn galaktiese ryk dikwels die kern is van die verhaal;
  • dat sodanige ryk of ryke gedurig in konflik is met mekaar ten opsigte van hulpbronne, of politiese beheer. Elemente van politiese- en militêre wetenskapfiksie sal noodgedwonge sterk na vore kom in galaktiese ryke;

Romans in die Gelaktiese Ryke:

  1. DJK: SKEMER OORLOG (Boek III) – Nico Smit (Thompson Boekdrukkery, 2015)
  2. DJK: KOUE VUUR (Boek II) – Nico Smit (Thompson Boekdrukkery, 2014)
  3. DJK: DIE HALFBLOED (Boek I) – Nico Smit (Thompson Boekdrukkery, 2014)

Gedagte-oordrag:

In transhumanisme en die wetenskapfiksie is gedagte-oordrag (ook verwys na as gedagte oplaai of aflaai van gedagte, afhangende van ‘n mens se verwysingsraamwerk), totale liggaam nydigheid, of elektroniese transendensie verwys na die hipotetiese oordrag van ‘n mens se verstand na ‘n kunsmatige toestel of voorwerp.

Generasieskip:

‘n Generasieskip is ‘n hipotetiese tipe ruimteskip wat veel stadiger as die spoed van lig reis oor groot afstande tussen die sterre. Aangesien so ‘n skip duisende of tien duisende jare sal neem om selfs ‘n nabygeleë sterrestelsel te bereik, sal die oorspronklike reisigers al lankal gesterf het voordat hulle die eindbestemming bereik het, maar dié se nasate sal dan sodanige reis voort sit.

Daar word geskat dat, ten einde genetiese diversiteit te verseker tydens ‘n eeue-lange reis, enige Generasieskip ten minste 500 bemanningslede moet hê. Dit kan alhoewel ook gedoen word met ‘n veel kleiner bemanning deur gebruik te maak van saad- en eierbanke vir die lang reis. Daarbenewens, moet die Generasieskip ook byna heeltemal selfonderhoudend wees wat betref voedsel, lug en water vir almal aan boord. Dit moet ook ‘n buitengewoon betroubare stelsels hê wat nie onklaar sal raak oor lang periodes van tyd nie, of alternatiewelik moet dit herstel kan word deur die skip se bemanning.

Glipstroom:

Glipstroom handel meer en deels oor “hoofstroom” temas, maar bevat somtyds ook ʼn aantal spekulatiewe elemente.

Die sentrale idees is:

  • dat daar gekyk word na huidige politieke en sosio probleme rakende die gebruik en beheer van tegnologiese ontwikkeling;
  • dat wêreldmoonthede teen mekaar baklei met gevorderde tegnologie (of spekulatiewe tegnologie) wat tans in daardie spesifieke tydvlak bestaan wanneer die verhaal geskryf is.

Romans in die Glipstroom:

  1. WAGTER IN DIE RUIMTE – A. Marais (Thompson Boekdrukkery, 2013)
  2. MARSNIK III – Marinus Keet (Thompson Boekdrukkery, 2013)

Harde Wetenskapfiksie (HWF):

Harde Wetenskapfiksie (HWF) word gekenmerk deur die gebruik van werklike kennis van die wetenskap en die akkuraatheid daarvan en is die teenoorgestelde van Sagte Wetenskapfiksie (SWF).

Die sentrale idees is:

  • dat die ontwikkeling en gebruik van tegnologie in die voorgrond van die storie is, as te ware die hoofkarakter van die verhaal;
  • dat skrywers soms tegnonolgie uitgebeeld as die rede waarom karakters in ʼn utopie leef en ander weer die verslawing en negatiewe invloed wat tegnologie op die mens uitoefen;
  • dat die gebruik van wetenskaplike, sterrekundige, mediese en tegnologiese terme en teorieë akkuraat in die storie weergegee word;
  • dat met eietydse kennis rakende die wetenskap en tegnologie gespekuleer word wat die invloed daarvan op die mens in die toekoms sal hê – hierdie storie word altyd veel jare gebruik om te bepaal hoe reg of verkeerd die skrywer se voorspellings was.

Romans in die Harde Wetenskapfiksie (HWF):

  1. AXION – Mike Leach (Thompson Boekdrukkery, 2016)

Humoristiese Wetenskapfiksie (Satire-WF):

Ligte of Humoristiese Wetenskapfiksie kan binne enige van die ander subgenres gevind word (met skerp aanmerkings of met ‘n hoofkarakter wat as ‘n grapmaker uitgebeeld word) en word ook soms gekenmerk om die spot te dryf met die wetenskap, politiek of sosiale kommentaar van die dag.

Katastrofe:

Katasrofe is ʼn sub-genre van die wetenskapfiksie wat handel oor gedeeltelike tot algehele uitwissing van ʼn beskawing deur middel van byvoorbeeld, kernoorlog, siekte, natuurramp, ens..
Post-katastrofe handel weer op sy beurt weer oor ʼn wêreld of samelewing na só ʼn ramp.
Daar is ʼn moeilike skeidingslyn tussen katastrofe en dié van ʼn valse utopiese of distopiese samelewings.

Die sentrale idees is:

  • dat daar gekyk word na die leiding of sielkundige impak wat sodanige katastrofe op die mensdom sal hê, wat gewoonlik as waarskuwing dien;
  • om te spekuleer oor die mensdom se vermoë, of gebrek daaraan, om weer van voor af te begin;
  • die herondekking van pre-katastrofe kennis, tegnologie of die gebruik daarvan (of verbetering daarop) en die uitdagings wat daarmee saam gaan, bv. aanvaarding, verwerping, vervolging, ens.;
  • dat dit die meeste van die tyd afspeel in ʼn landlike, nie-tegnologiese wêreld waar slegs verspreide elemente van tegnologie of kennis nog oorgebly het.

Romans in die Skynwerklikheid:

  1. EEN BILJOEN JAAR N.C. – Charles F. Stofberg (Thompson Boekdrukkery, 2012)

Kolonisasie:

Kolonisasie is die doelbewuste aksie waar lewensvorms verskuif na ‘n gebied waar hul soort yl bevolk of nog nie verteenwoordig word nie om sodoende ‘n nuwe of die uitbreiding van ‘n nedersetting te bewerkstellig.

Kolonisasie is van toepassing op alle vorms van lewe en in die meeste gevalle verwys dit na insekte, waar kolonisasie verskil van spesie tot spesie en geskied gewoonlik wanneer ‘n nuwe koningin die ou kolonie verlaat of uitgesit word om met haar eie te begin, en die mens.

Menslike kolonisasie moet nie verwar word met kolonialisme of imperialisme nie, omrede kolonisasie ‘n breë kategorie is, wat alle grootskaalse immigrasie van ‘n gevestigde bevolking na ‘n ‘nuwe’ plek en die uitbreiding van hul beskawing in hierdie gebied insluit. Hierdie proses mag of mag nie ‘n inheemse bevolking viktimiseer of onderdruk (afhangende of daar enige inheemse bevolking in die eerste plek is om te benadeel).

Kuberpoen / Kuberpunk:

Kuberpoen of te wel kuberpunk word geken as ‘n tegnologiese gevorderde wêreld met ‘n lae lewensstandaard (wat vry is van ‘n kapitalistiese gedrewe lewe) en verkry sy naam deur die kombinasie van Kubernetika en poena.

Dit bevat ‘n gevorderde tegnologie soos rekenaars of inligting tegnologie tesame met ‘n mate van verval in die sosiale orde. Klassieke kuberpoen/kuberpunk karakters word gewoonlik uitgebeeld as verworpe en vervreemde alleenlopers wat op die rand, van aanvaarding deur die samelewing, lewe in distopiese omstandighede waar die daaglikse lewe beïnvloed word deur die versnelling van tegnologiese vordering in ‘n alomteenwoordige sfeer van gerekenariseerde inligting, en die ingrypende meganiese en elektroniese byvoegings en verandering van die menslike liggaam.

Kunsmatige Intelligensie (K.I.):

Kunsmatige Intelligensie (K.I.) is ‘n tak van die rekenaarwetenskap wat handel oor intelligente gedrag, leer en aanpassing in masjiene. Navorsing in K.I. is gemoeid met die vervaardiging van masjiene wat take kan verrig wat ‘n mate van intelligensie vereis. K.I. stelsels is nou al in gebruik in die ekonomie, medisyne, ingenieurswese en die weermag.

Menslike Ontwikkeling:

Menslike Ontwikkeling binne die wetenskapfiksie voorspel die ontwikkeling en toekomstige veranderings van die mensdom se vermoëns, soos verbeterde verstandelike of fisiese vermoëns.

Militêre Wetenskapfiksie:

Militêre Wetenskapfiksie is ‘n subgenre van die wetenskapfiksie waar interstellêre of interplanetêre konflik aan die orde van die dag is. Sy gewapende oplossing (oorlog) is die hoof – of ‘n gedeeltelike tema van die storie. Sulke oorloë word gewoonlik gesien of vertel uit die oogpunt van ‘n soldaat of ‘n offisier.

In die algemeen, ‘n gedetailleerde uitbeelding van konflik vorm die basis van die meeste werke in die subgenre van Militêre Wetenskapfiksie en die hoofkarakters is dikwels gesaghebbende bevelvoerders of offisiere wat deel is van die militêre elite.

Mitiese Wetenskapfiksie:

Mitiese Wetenskapfiksie as subgenre verwys na verhale wat gewortel is in fabels of die mitologie. Die werke word geïnspireer deur een of ander tema en simboliek van die mite, volksverhale en sprokies.

Dit kan wees dat hierdie verhale gebaseer is op die karakterisering van gode of vertellings van bekende mitologiese verhale in die fantasie.

Mutante Wetenskapfiksie:

Die idee van ‘n mutant (of gemuteerde mens) is ‘n algemene tema in strokiesboeke en die wetenskapfiksie. Die nuwe fenotipes (feno- wat “skynbaar” beteken) wat voorkom in fiktiewe mutasies gaan gewoonlik te ver as wat algemeen gesien kan word in biologiese mutasies, en so word mutante in die wetenskapfiksie dikwels uitgebeeld as ‘n gemuteerde vorm van lewe met bomenslike vermoëns.

Nabye-toekoms:

Nabye-toekoms wetenskapfiksie speel af in die hedendaagse tyd of ‘n paar dekades van nou af. Elemente van die omgewing moet bekend wees aan die leser en die tegnologie is gebasseer op wat huidiglik in ontwikkeling is, ondersoek word of geëksperimenteer word. Stories oor nanotegnologie of genetika soos die van Greg Bear se Blood Music val onder hierdie kategorie.

Nanotegnologie:

Nanotegnologie is die ontwerp, karakterisering, produksie en toepassing van strukture, instrumente en stelsels deur die beheer van vorm en grootte op die nanoskaal. Agt tot tien atome is gelyk aan een nanometer (nm). ‘n Menslike haar is ongeveer 70 000 tot 80 000 nm dik.

Nanotegnologie word ook praktiese toegepas vir ‘n wye verskeidenheid van produkte, insluitende, vlek bestande broeke, verbeterde bandversterkings en verbeterde sonbrandolie.

Onsterflikheid:

Onsterflikheid (of die ewige lewe) is ‘n konsep so oud soos die mens self. Die soeke na tegnologie, middele of ‘n soort plant wat een se lewe kan verleng is al deur menigte skrywers ondersoek.

Die ondersoek na wat die mensdom of ‘n individu sal betaal of sal doen om ontsterflikheid te kry, sou dit moontlik wees, is die onderwerp van baie spekulasie en debatte in die wetenskapfiksie.

Opheffing:

In die wetenskapfiksie is biologiese opheffing ‘n algemene tema maar geensins ‘n universele term vir die daad van ‘n gevorderde beskawing wat ‘n ander onder ontwikkelde spesie help deur van ‘n nie-intelligente spesie ‘n intelligente spesie te maak, of deur ‘n intelligente spesie of ras te voorsien van tegnologie of kennis om ruimtereise moontlik te maak nie.

Opheffing verwys ook na die teoretiese moontlikheid om nie-menslike diere met ‘n groter kapasiteit toe te rus met intelligensie. Dit is hoogs waarskynlik dat biologiese opheffing bereik sal word deur die toepassing van genetiese en transgenetiese tegnologie en die moontlikheid van kunsmatige intelligensie, maar is beslis goeie temas vir die wetenskapfiksie.

Parallelle Heelal / Alternatiewe Werklikheid:

Parallelle Heelal of Alternatiewe Werklikheid in wetenskapfiksie is ‘n self-onderhoudende en aparte werklikheid wat parallel loop aan ons eie wêreld of heelal waar geskiedkundige, politiese en/of die menslike ontwikkeling anders is as wat aan ons bekend is. Die alternatiewe werklikheid kan wissel in grootte van ‘n klein geografiese gebied tot en met ‘n hele nuwe heelal, of ‘n paar sterrestelsels.

Terwyl die terme “parallelle heelal” en “alternatiewe werklikheid” oor die algemeen sinoniem is kan dit ook afsonderlik gebruik word omrede daar met die term “alternatiewe werklikheid” bykomende konnotasie is wat impliseer dat die werklikheid net ‘n veranderde een is van ons eie en die term “parallelle heelal” meer oor die algemeen impliseer dat daar ‘n verhouding of die gebrek daaraan met ons eie heelal is.

Robot en Androïde:

Robot:‘n Meganiese toestel wat soms die voorkoms van ‘n mens naboots en in staat is om ‘n verskeidenheid van komplekse menslike take op bevel of deur programmering te verrig.

Androïde: ‘n Outomaat wat geskep is uit biologiese en meganiese materiaal wat soos ‘n mens lyk.

Biorobotika is ‘n term wat losweg gebruik word in die velde van kubernetika, bionika en selfs genetiese ingenieurswese as ‘n gesamentlike studierigting. Biorobotika word dikwels gebruik om te verwys na ‘n werklike sub-kategorie in robotika: die studie hoe om robotte te vervaardig wat lewende biologiese organismes meganies of selfs chemies na te boots of om selfs onafhanklik as ‘n nuwe organisme te funksioneer. Die term word ook gebruik in ‘n omgekeerde definisie wat lui: die maak van biologiese organismes wat as manipuleerbare en funksionele robotte gebruik kan word.

In die laaste voorbeeld hierbo word daar na Biorobotika verwys as ‘n teoretiese dissipline van omvattende genetiese ingenieurswese waarvolgens organismes geskep en ontwerp word deur kunsmatige middele, wat beteken dat daar gepoog word om lewe te skep uit nie-lewende materie. As gevolg van Biorobotika se teoretiese status word dit tans beperk tot die wetenskapfiksie en in realiteit is biorobotika nog in sy babaskoene en staan bekend as sintetiese biologie en Bio-nanotegnologie.

Ruimte Sepie:

‘n Ruimte Sepie speel gewoonlik af in die buitenste ruimte, of op ‘n vêraf geleë planeet. In die meeste gevalle, om die tempo van die verhaal te behou, kan ‘n ruimteskip byna onbeperkte afstande aflê in ‘n kort tydjie en kan om ‘n tiekie draai, sonder die vervelige noodsaaklikheid van remming.

Die planete het gewoonlik ‘n aard-tipe atmosfeer (met die Aarde se maan as ‘n uitsondering) en eksotiese vorms van lewe. Vreemdelinge kan gewoonlik Afrikaans praat en sommige van die vreemde wesens praat dit met ‘n aksent. Die masjinerie in die Ruimte Sepie sluit dikwels (bykomend tot ruimtetuie) straalgewere, robotte, en swewende motors in.

Ruimte Sepie se agtergronde kan aansienlik wissel in wetenskaplike geloofwaardigheid. Die meeste ruimte sepies vir gerieflikheids onthalwe verontagsaam die wette van fisika deur gebruik te maak vinniger-as-lig ruimtetuie en ander gaan nóg ‘n stappie verder deur gebruik te maak van bonatuurlike magte en/of groot magte wat in staat is om hele planete, sterre en/of sterrestelsels te vernietig.

Ruimte Verkenning:

Ruimte Verkenning is die fisiese ondersoek, verkenning en eksplorasie van die buitenste ruimte. Die politiek, wetenskap, en ingenieurswese agter die realisasie van ruimtereise val almal onder die vaandel van die subgenre Ruimte Verkenning.

Daar is baie redes vir die verkenning van die ruimte en van die mees algemeenste is dié wat fokus op wetenskaplike navorsing of die toekomstige oorlewing van die mensdom. Hierdie poging was tot ‘n mate ‘n droom en doel van die mensdom vir die afgelope paar eeue al, maar dit was nie tot en met die ontwikkeling van groot vloeistof-aangedrewe vuurpylenjins gedurende die vroeë 20ste eeu dat dit na ‘n werklikheid begin lyk het om Ruimte Verkenning ernstig te oorweeg nie.

Sagte Wetenskapfiksie (SWF):

Sagte Wetenskapfiksie (SWF) in teenstelling met Harde Wetenskapfiksie (HWF) handel meer in deels oor die minder eksakte wetenskappe en lê meer klem, maar nie altyd nie, op sosiologie, sielkunde, antropologie of enige tussenwerking van tegnologie, veranderde regeringsstyle en politiese ontwikkeling op die breër bevolking.

Die senrale idees is:

  • dat dit meer fokus op die mens se ervaring(s) en gevoelen(s) rakende die onbekende;
  • dat die menslike element deurlopend deur die verloop van die verhaal beklemtoon word;
  • ʼn enkele tegnologiese, sosiologiese, antropologiese en sielkundeige wetenskap bespreek;
  • ʼn verhaal waar die karakters se interaksie met mekaar ondersoek word en die wetenskap, tegnologie of mag ʼn geringe invloed het ten opsigte van die plot van die verhaal.

Romans in die Sagte Wetenskapfiksie (SWF):

  1. DIE ROOFDIER – Louise Viljoen (Thompson Boekdrukkery, 2015)

Singulariteit:

In toekomsstudies is ‘n tegnologiese singulariteit (dikwels net genoem die Singulariteit) ‘n voorspelling wat gemaak kan word van ‘n toekomstige gebeurtenis wat voorafgegaan is met geweldige tegnologiese vooruitgang in ‘n bitterlike kort tyd. Toekomstiges gee verskillende voorspellings oor die omvang van hierdie vooruitgang, die spoed waarteen dit plaasvind en die presiese oorsaak en aard van die gebeurtenis self.

Skynwerklikheid:

Skynwerklikheid (ook Hologram) is ʼn tegnologie wat ʼn gebruiker in staat stel om met ʼn rekenaar-gesimuleerde omgewing om te gaan of interaksie met die program te hê. Die meeste omgewings wat deur Skynwerklikheid geskep word is hoofsaaklik visuele ervarings op ʼn rekenaarskerm of deur middel van spesiale stereoskopiese uitstallings, maar addisionele sensoriese inligting, soos klank en tasbare inligting kan geskep word deur luidsprekers en elektriese-terugvoer.

Die sentrale idees is:

  • ʼn wetenskapfiksiewêreld waar die menslike interaksie met onbekende omgewing pebaal word deur gebruik te maak van ʼn Skynwerklikheid, bv. ontspanning, opleiding ens.;
  • die gebruik van hologram-voorstellings van sleutelborde, sigplate, vlugnabootsers, mediesie ontleding ens.;
  • ʼn wêreld wat wetend of onwetend aan karakter(s) voorgelê word vir verskeie redes.

Romans in die Skynwerklikheid:

  1. DEUR NA NEBULA NEGE – François Verster (Thompson Boekdrukkery, 2014)

Sterwende Aarde:

Die Sterwende Aarde as subgenre is ‘n subkategorie van die Wetenskap Fantasie wat afspeel aan die einde van Tyd, wanneer die son stadig besig is om uit te doof en die wette van die heelal self besig is om te faal met die wetenskap ononderskeibaar van magie.

In die algemeen speel die Sterwende Aarde as subgenre van die wetenskapfiksie af in die verre toekoms in ‘n milieu van ekologiese of menslike stagnering of agteruitgang. Temas van ‘n moeë wêreld, onskuld (gewond of andersins), idealisme, entropie en die verwagting van hernuwing is geneig om hierdie verhale te oorheers.

Stoompoen / Stoompunk:

Stoompoen of te wel stoompunk is ‘n subgenre van die wetenskapfiksie wat verwys na werke wat in ‘n era afspeel waar stoomtegnologie ontwikkel het tot ‘n hoofstroom tegnologie en stoom die vernaamste bron van energie. Dit bevat gewoonlik sterk Victoriaanse neigings en spekuleer oor ‘n alternatiewe toekoms wat langs hierdie lyne ontwikkel het.

Stoompoen/stoompunk bevat elemente van ‘n alternatiewe geskiedenis van ‘n tegnologiese verlede soos dié van lugskepe of meganiese rekenaars gekombineer met toekomstige tegnologie soos multi-funksie brille, reuse robotte en straal gewere.  Omdat dit só uiters onwaarskynlik (of selfs onmoontlik) is, word fantasie in hierdie vertakking deel van die WF.

Afrikaans in Stoompunk:

  1. Clint Eastwood van Wyk en die  Moordenaarsklok – Pieter Verwey (Tafelberg, 2015)

Teologiese Wetenskapfiksie:

Teologiese Wetenskapfiksie verteenwoordig dikwels verduidelikings of lewer kommentaar oor godsdiens en godsdienstige idees.
Teologiese Wetenskapfiksie kan gebruik word om beide godsdienstige ideologieë af te kraak of om dit te bevorder en WF skrywers se menings hieroor kan net so uiteenlopend wees soos hulle skryfwerk.

Die sentrale idees is:

  • dat dit wissel van ontkennings van godsdiens of verwys daarna as primitief en/of onwetenskaplik;
  • dat daar kreatiewe verduidelikings is ten opsigte van nuwe insigte tot betrekking één se godsdienstige ervarings en oortuigings, bv. God as ʼn vreemdelinge, profete word gesien as tydreisigers, metafisiese of profetiese visie wat deur middel van tegnologiese middele verkry word, ens.;
  • dat Teologiese Wetenskapfiksie ʼn ondersoekende medium is en skrywers sien selde godsdiens as vanselfsprekend (om dit net eenvoudig te aanvaar of dit vanuit die staanspoor te verwerp) en dit is vir hierdie rede dat skrywers deeglike navorsing doen oor die onderwerp;
  • dat leser uitgedaag word om wyer te dink as die konvensionele denkrigting rakende die onderwerp en om ander moontlikhede te oorweeg;
  • dat Wetenskafiksie uitsluitlik handel oor die mensdom se soeke en begrip van homself in die aangesig van groot tegnologiese en sosiale veranderinge, worstel Teologiese Wetenskafiksie die meeste met vrae van ʼn geestelike of godsdienstige aard.

Romans in die Teologiese Wetenskapfiksie:

  1. T!NAX’U – Gerrit van Dijk (Thompson Boekdrukkery, 2012)

Terravorming:

Terravorming (wat letterlik Aardskepping beteken) is die teoretiese proses waar ‘n planeet, maan of ‘n ander liggaam se atmosfeer, temperatuur en/of ekologie verander of gewysig kan word om dit meer bewoonbaar te kan maak vir plante, diere en mense van die aarde.

Dis ‘n tipe van ingenieurswese wat betrekking het op planete, mane en ander hemelliggaam en die konsepte van terravorming is gewortel in beide van die wetenskapfiksie en werklike wetenskap. Die term, terravorming, is geskep deur Jack Williamson in ‘n wetenskapfiksie storie wat gepubliseer is in 1942 in die wetenskapfiksie tydskrif Astounding Science Fiction, maar die werklike konsep is alreeds jare voor die publikasie van Williamson se verhaal bekend.

Olaf Stapledon se Last and First Men (1930) gee ‘n voorbeeld hiervan in fiksie waarin Venus verander word na ‘n lang en vernietigende oorlog met die oorspronklike inwoners, wat natuurlik teen die veranderings gekant is.

Tydreis:

Tydreis is die konsep van die beweging tussen verskillende punte (verlede of die toekoms) in die tyd soortgelyk aan die beweging tussen verskillende punte in die ruimte.

Daarbenewens het sekere interpretasies van die tydreis as subgenre ook die moontlikheid voorgestel om tussen parallelle realiteite of heelalle te reis met die gebruik van die volgende metodes:

Na die verlede:

  • Om vinniger-as-lig te reis;
  • Deur Spesialeruimte-tydgeometrie;
  • Die gebruik van ‘n wurmkolk.

Na die toekoms:

  • Die gebruik van snelheid-gebaseerde tydvertraging onder die teorie van spesiale relatiwiteit;
  • Met behulp van swaartekrag tydvertraging onder die teorie van algemene relatiwiteit.

Utopie:

Utopiese fiksie is die skepping van ‘n ideale wêreld as die agtergrond vir ‘n roman.

Vreemdeling Wetenskapfiksie (Xeno-WF):

Vreemde wesens vanuit die buitenste ruimte of elders op die aarde (bv. Atlantis) skep vrees in die menslike psige dat die vreemdelinge die aarde sal aanval en die mensdom uitroei, gebruik as slawe of nog erger; sal aanwend as ʼn voedselbron. Hierdie scenario is ʼn algemene tema in die wetenskapfiksie. Daarteenoor het ons ook wetenskapfiksieverhale van vreemdelinge wat kom om die mensdom van sy vernietigende natuur te red.

Die sentrale idees is:

  • dat hierdie vreemdelinge vanuit die buitenste ruimte oor meer gevorderde tegnologie beskik as die mensdom en so daarmee ons maklik kan uitwis;
  • dat vreemdelinge die mensdom se potensiaal sien, waardeer of beny en sodoende hulle lewe as vreemdelinge (en gevorderde tegnologie en mediese kennis) sal prysgee om deel te word van die mensdom;
  • dat vreemdelinge dieselfde fout as die mensdom in die verlede begaan het, en die mensdom die lang en pynlike ervaring wil spaar;
  • dat ʼn vreemdelinge onverwags verlief raak op een van die aardbewoners en dan voor ‘n keuse gestel word, om te kies, of dat ʼn verkeerde besluit om die mens te help die vreemdeling in ʼn panarie plaas.

Romans in die Vreemdeling Wetenskapfiksie (Xeno-WF):

  1. LEO – Anna van der Walt (Thompson Boekdrukkery, 2016)

Wetenskaplike Fantasie:

Wetenskaplike Fantasie word gekenmerk deur die samesmelting van die wetenskapfiksie en dié van fantasie. Dit verteenwoordig werke wat gebruik maak van beide die hoof temas van die WF en F wat byvoorbeeld; toekomstige en tegnologiese elemente bevat, bv. tydreis, ruimtetuie, ens. wat verweef is met fantasie, bv. mitologie, trolle, ens.deur die skep van fantastiese sub-knope en karakters.

Die sentrale idees is:

  • ʼn wêreld waar gevorderde tegnologie alledaags is in ʼn miliue van kreature vanuit die fantasie (trolle, feë, elwe, ens.); en
  • dat daar elemente, karakters en gebeure is wat voorkom vanuit die klassieke mitologie en legendes wat afspeel in ʼn wetenskapfiksie-wêreld.

Romans in die Wetenskapfiksie Fantasie:

  1. INVERSIUM – François Verster (Thompson Boekdrukkery, 2015)

Wetenskapfiksie vir tieners:

Wetenskapfiksie vir Tieners word gekenmerk dat dit uitsluitlik konsentreer om tieners op ʼn ongelooflike avontuur te neem.

Die sentrale idees is:

  • om jongelinge se verbeelding aan te gryp deur hulle op wonderlike togte te neem deur die ruimte, ander wêrelde, ens.;
  • dat dit selde enige sterk standpunt inneem of ʼn ernstige tema aanraak, anders as dit wat tieners raak, bv. afknouery, hoe belangrik leer is, ens.
  • dat dit geen voorgeskrewe reëls het nie. Daarom gehoorsaam wetenskapfiksie vir tieners selde of ooit enige van die natuurwette, terwyl dit tog gegrond is in die werklikheid ten opsigte van die karakters en hulle omgewing;
  • dat meeste wetenskapfiksie vir tieners vele wetenskapfiksie sub-genres kombineer om ʼn meer kleurvolle en verbeeldingryke storie oor te dra.

Romans in die Wetenskapfiksie vir Tieners:

  1. RICKY ERASAMUS EN DIE INTER-DIMENSIONELE ROLSTOEL – Johan V. van Wyk (Thompson Boekdrukkery, 2015)