Skryfkompetisies
2011
Afrifiksie wil graag vir Dr. Charles F. Stofberg (Brug na Eden) en Dr. François P. Verster bedank vir hulle onbaatsigtige beoordeeling van vanjaar se wetenskapfiksie en fantasie kortverhaal-skryfkompetisies, en vir hulle profesionele terugvoering aan elkeen van ons deelnemers.
VRYBURGER deur ©Dr. John C. Strydom
‘n Wetenskapfiksie verhaal vir volwassenes.
Stipu sit nog half oorbluf in die stoel waar hy ‘n paar tydsfere (benaderde waarde van aardse ure) gelede kom rus het. Hy het grootgeword met ‘n redelike mate van akademiese en lewensvryheid, omdat die stelsel van “vrye studie” reeds lankal gegeld het. Hierdie stelsel het voorsiening gemaak dat ‘n sekere gedeelte van opgroeiende jeugdiges ‘n geleentheid gegun is om vrydenkend ‘n tydperk van hulle opvoedingstyd aan enige onderwerp te wy sonder voorskrifte, roetine of voorwaardes.
Wat hom nou meegedeel is, breek egter nuwe sfere oop! Hy wonder hoe wyd hierdie reëling geld, en hoeveel ander burgers hierdie nuus gekry het. Hy het, soos ander burgers, baie min insae in die werking en besluite van die Opperraad. …
ROEHYN EN DIE SIENER deur ©Eben van Renen
‘n Fantasie verhaal vir volwassenes.
Die son bak genadeloos op die viertal neer, waar hulle met twee swaar gelaaide perde deur die ruigtes van die Oewaan-bos trek. Roehyn kyk na die korterige man langs hom, Slyp bewonder met trots die sekel-dolk wat hy sommer-so in die stap blinkgevryf het. Die lig straal van die skerp lem af en verblind Roehyn vir ‘n oomblik. Hy kyk weer weg en por die perde ‘n bietjie aan. Agter hom stap Lo-Amyn só sag dat hy telkens omdraai om te sien of sy nog daar is.
Twee dae se reis buite Ekaradör, het ‘n tiental ork en een sielsteler hulle ingewag. As dit nie was vir Toek-Ar se vinnige reaksies nie, sou Roehyn nie die amulet se krag betyds kon aangewend het nie. …
2010
HADES deur ©Francois de Vos
‘n Wetenskapfiksie verhaal.
Kaptein Chris Lichthelm staar aandagtig na die vlugdata voor hom. Oor presies een aardse uur styg die Orandia van Orania af op op waarskynlik die gevaarlikste tog wat hy ooit aangepak het.
Sag in die agtergrond speel Holst se bekende Jupiter en die Planete. Chris se blik val op sy drie bemanningslede. Die beste wat daar is, dink hy, een vir een met die hand uitgesoek. Hulle moet die beste wees want om Hades sonder handskoene aan te pak, is om moelikheid te soek.
Regs van hom in die stoel van die medevlieënier en tweede in bevel sit luitenant Lizl Becker, ‘n briljante ruimtevaarder. Sy is maar vier en twintig jaar oud maar beskik onder meer oor ‘n doktorsgraad in Argeologie. …
2009
NEWE-EFFEKTE VAN NAVORSING deur ©Dr. John C. Strydom
‘n Wetenskapfiksie verhaal.
Hoogwyse Stipu strek hom lui uit en kyk om hom rond. Die ontmoeting was stimulerend en uitdagend en terug by die onmiddellike omgewing moet hy nou eers weer verslag skryf. Hy vryf oor die seneel (sensoriese paneel) en sy stoel verleng en lig hom byna regop. Wanneer sy voete grond raak, stap hy uit en neem by sy lessenaar plaas. Hy roep die verslag op waaraan hy werk en dikteer verder. Die robotassistent flikker groen om aan te dui dat stemherkenning volledig is en dat elke woord opgeneem en vasgelê word.
Stipu is een van die sterrewyk se kundiges op die gebied van resonansie: ‘n verskynsel wat al eeue lank bekend is, selfs in terme van fisika goed nagevors is, maar nou in ‘n ander verband intensief nagevors word. …
2008
VOLKAAN deur ©Danië Els
‘n Wetenskapfiksie verhaal.
Volkaan sit sy hand teen die vingerafdrukmasjien. Hy is op pad huis toe van die skool af. Twee laserstrale skiet uit en straal sy hand. Hy wag twee sekondes en dan praat ‘n stem: “Toegang aanvaar”. Die deur gaan oop en Volkaan stap binne. ‘n Robot kom na hom toe en groet hom. Hy betree die huis en sy familie groet hom van die ontvangskamer af. Hy gaan sit by hulle en almal gesels land en sand.
Terwyl hulle se gesels, raak die gebou al donkerder. Die kamer raak doodstil. Niemand praat meer nie. Almal se gesigte is verskrik. Vrees oorval hulle.
