Fermi-paradoks

Een van die vooraanstaande fisici van ons tyd was ‘n man met die naam Enrico Fermi – ‘n Italianer en gesiene kernfisikus van sy tyd.  In 1950 het hy die volgende vraag gestel:  “Waar is hulle?”

Sy gedagtegang het min of meer as volg gewerk.  Indien die ruimte oneindig is (of ten minste vir alle praktiese doeleindes), en lewe relatief algemeen is, waarom kry ons geen bevestiging van die bestaan van ander beskawings of tekens van intelligente lewe nie?  Glad nie.  Nêrens nie.

Daar is natuurlik bewerings dat ons wel (nogal dikwels) besoek word deur sulke wesens met talle VVV-waarnemings feitlik daagliks, maar daar is nóóit bevestiging van sulke voorvalle nie.  Daar bestaan gewoonlik ook alternatiewe verduidelikings vir die waarneming van sulke verskynsels.

So, waar is hulle dan?

Hierdie vraag het sedert 1950 net al meer relevant begin word nadat SETI (die program vir die Soeke na Ekstra-Terrestriële Intelligensie) nou al dekades lank besig is om te “luister” vir seine vanuit die ruimte om juis so ‘n bevestiging te probeer vind.  Benewens dit het ons eie waarnemingsvermoë van ons Melkwegstelsel met rasse skrede vooruit gegaan en ook dít het niks opgelewer nie.

Weereens, waar is hulle dan?

Die ooglopende en mees voor die hand liggende antwoord is natuurlik dat hulle dalk glad nie bestaan nie.  Dat ons dalk alleen is.  Maar omdat hierdie argument sterk begin neig in die rigting dat daar dalk wel ‘n God moet wees wat dit só geskep het, is hierdie idee nie juis een van die wetenskap se gunstelinge nie.  En daar het gevolglik vele teorieë hieroor na vore gekom.

Die eerste teorie in dié verband is dat ons dalk op ‘n seldsame Aarde woon.  Dit wil sê dat die Aarde se plek in die heelal dalk wel baie spesiaal is – veel meer spesiaal as wat ons ooit sou kon droom, en dat dit eenvoudig nie moontlik is vir lewe, of meer spesifiek intelligente lewe, om ooit elders tot stand kon kom nie.

Maar hoewel die seldsame Aarde teorie wel op ‘n manier die probleem oorkom, is dit ook nie een van die wetenskap se gunsteling idees nie – die bestaan van ander lewe wat elders voorkom sal darem die hele idee van ‘n Godheid wat uit niks kan skep, ‘n behoorlike nekslag toedien…

So, nog teorieë moes oor tyd gevind word om Enrico Fermi se vraag te probeer antwoord.  ‘n Ander moontlikheid is dat die heelal, hoewel dit vir ‘n lang tyd bestaan (volgens ons idee van tyd), dit tog relatief jonk is en dat lewe wel op ander plekke ontstaan maar dat dit maar relatief onlangs was en dat die bewyse bloot nog net nie by ons kon uitkom nie.  Dit is miskien nie so vergesog nie – tewens, die mensdom self beskik maar bloot oor die vermoë om radioseine te stuur vir sowat ‘n eeu.  Ons eie radioseine het dus nog nie eers ons eie sterrestelsel verlaat nie, en iets (of iemand) wat 100 ligjaar ver is, is baie naby in sterrekundige terme.  So, indien ons en die naaste ander intelligente beskawing sê 500 ligjaar van mekaar verwyder is, sal hulle nog nie ons eerste radio-uitsending van ‘n eeu gelede ontvang voor nog 400 jaar verloop het nie.

Daar is natuurlik ook ‘n ander moontlikheid – ‘n teorie wat bekend staan as die Dyson-dilemma.  Hierdie idee berus op die veronderstelling dat uiters gevorderde beskawings dikwels só baie energie benodig om hul beskawing te onderhou, dat hulle feitlik ál die energie van hul son gebruik.  Die gevolg hiervan is natuurlik dat amper geen van die ster se lig dan meer ontsnap nie en gevolglik word hulle nie waargeneem as ‘n ster nie.  Wanneer ons as mense dan probeer kyk en luister vir tekens van ander beskawings, rig ons die teleskope op sigbare sterre want ons dink dat beskawings op planete om sterre bestaan – en mors ons nie tyd om na die donker dele in die ruimte te kyk nie (want daar is eenvoudig te veel daarvan). Maar sodoende mis ons hulle geheel en al, al is hul dalk relatief naby.

‘n Totaal ander idee is dat sekere beskawings, weliswaar intelligent, bloot eenvoudig doelbewus verborge wil bly en daarom alles denkbaar doen om nie waargeneem te kan word nie.  Daar kan natuurlik verskeie redes hiervoor wees, soos xenofobie.  Hulle kan altemit voel dat, indien niemand van hulle sou weet nie, daar geen gevaar bestaan vir die een of ander moordlustige spesie om op hulle neer te daal en hulle uit te delg nie.

Hierdie idee kom voor in die boek The Dark Forest deur Cixin Liu (een van die beste Sjinese wetenskapfiksieskrywers, waaruit die volgende aanhaling kom.

“Die heelal is ‘n donker woud.  Elke beskawing is ‘n gewapende jagter, sluipend tussen die bome soos ‘n spook, wat versigtig takke uit sy pad stoot wat sy weg versper en wat probeer om geen geluid te maak nie.  Hy haal selfs versigtig asem en moet versigtig wees want oral in die woud is ander sluipende jagters soos hy.  As hy ‘n ander lewe vind, nog ‘n jagter, ‘n engel of demoon, of ‘n klein kindjie of ‘n sukkelende ou man, ‘n feetjie of ‘n halfgod – is daar slegs een ding wat hom te doen staan: begin skiet en wis uit.”

Die ontstaan van lewe en daaropvolgende ontwikkeling van intelligente beskawings met tegnologiese vermoëns kan straks só raar wees dat dit slegs ‘n enkele paar kere in die heelal gebeur, sodat hulle so ver van mekaar verwyder is dat hulle nooit van die ander se bestaan sal uitvind nie.  Wie weet, ons kan bloot maar spekuleer oor die redes vir hierdie verskynsel – maar dís mos presies waarom iets soos wetenskapfiksie bestaan – dan nie?